Philip Costandius is die wynmaker by Oldenburg Vineyards in die Banghoek-vallei en ook die plaas se besturende direkteur.
Hy het sy liefde vir wyn in sy ouerhuis ontvang, waar kos en wyn ‘n integrale deel van hul daaglikse bestaan was. Hy het sy BSc-graad in Wingerd- en Wynkunde aan die Universiteit van Stellenbosch voltooi en sy loopbaan meer as 30 jaar gelede by Delheim Wyne begin. Hy werk ook by Neethlingshof Landgoed en Lourensford Wyne.
Hy het ‘n paar jaar gelede sy eie maatskappy, Solo Wines, begin, sy eie wyn gemaak en was konsultant vir verskeie wynplase. Hy het van 2009 tot 2011 by Oldenburg gehelp met wynmaak-insette. Hy het in 2014 voltyds by die kelder aangesluit.
Philip is al lank deel van die gesogte Kaapse Wynmakersgilde en was nie net voorsitter nie, maar is ook die stigter van die Protégé Program, ‘n inisiatief wat jong wynmakers uit voorheen benadeelde gemeenskappe mentor en befonds. Dit lê hom na aan die hart en staan steeds uit as ’n hoogtepunt in sy loopbaan.
Philip is getroud met Elmarie, ’n dosent in Visuele Kunste aan die Universiteit van Stellenbosch en hulle het drie seuns, Nicholas, Simon en Alexander.
Hoekom wynmaker – ‘n mens kan jou passie vir goeie wyn ook as verbruiker uitleef?
Ek is ’n kreatiewe mens en ek geniet die proses, die hande-vuilmaak-gedeelte van wynmaak. Ek sou nie net ’n verbruiker kon wees nie; ek is ’n kelderrot.
Wou jy aanvanklik iets anders studeer, of was wynmaak liefde met die eerste oogopslag?
Ek was gelukkig om ’n KWV-beurs te kry en die besluit om wynmaak te studeer was ’n natuurlike proses. Geen ander vakgebied het opgekom nie.
Is jy nog betrokke by Solo Wines of konsulteer jy nie meer nie?
Ek het Solo Wines vir eers parkeer en ek konsulteer glad nie op die oomblik nie. Ek het besluit om my hele aandag aan Oldenburg te wy en dit is genoeg werk, dankie!
Wat was jou drome op skool oor die beroep wat jy eendag gaan volg?
My droom was (en is nog steeds) om in die wynbedryf as ’n goeie wynmaker gerespekteer te word. Die visie het met verloop van tyd ’n bietjie breër geword, want ek is nou meer van ’n bestuurder ook en die bevordering van mense se vaardighede lê na aan my hart.
As jy nie wynmaker geword het nie, watter ander beroep sou jy kon volg?
As ek nie wynmaker was nie, sou ek graag ’n skeepskaptein wou geword het. Ek is lief vir die see.
Wie is jou wynmaak-helde en na wie gaan jy vir raad?
Ek het groot agting vir Carl Schultz van Hartenberg.
Waarvan droom jy vir die toekoms?
Ek droom van ’n wynbedryf waar die werker op die grond sy regverdige aandeel in ons toekoms het.
Wat is die mooiste woorde wat jy al rondom wyn en die wynmaakproses gehoor het?
Cheers!
Watter wenke het jy vir mense wat bang is om te eksperimenteer met nuwe wyne?
Maak toe jou oë, maak oop jou mond en proe.
Wat is die grootste fout wat verbruikers tuis maak met die a. gooi; b. stoor of berging; c. pasmaats met kos van wyn?
Ek dink baie verbruikers besef nie dat sommige wyne beter is as hulle vooraf gedekanteer word. Om jou wyn onder die trap te bêre, is nie noodwendig die beste besluit nie; temperatuurskommelings vernietig wyn. Verkeerde kospasmaats kan fataal vir wyngenieting wees. Gaan koop Katinka van Niekerk se boek oor kos en wynpasmaats en doen die regte ding.
Hoe voel jy oor die plaas se beeld onder die publiek?
Oldenburg het ’n goeie beeld, maar ons is nog relatief onbekend en ons werk tans baie hard daaraan om die beeld uit te bou en meer volgelinge te kry.
Wat is die beste raad wat jy al as wynmaker ontvang het?
Die beste raad het ek van dr. Hans Ambrosi ontvang. As jy ’n wyn proe, moet dit wees asof jy ’n ryp vrug byt. Die beste wyne is sappig met ’n vrugtige ontploffing in jou mond.
Wat was sover jou grootste uitdaging as wynmaker?
My grootste uitdaging as wynmaker was toe ek vir myself gewerk het. Ek het gou besef dat dit nie grappies is om ’n konsultant te wees nie en daar is min werk. Om ’n wynhandelsmerk te begin, vereis ook baie geld en moeite en dit is moeilik.
Watter leemte sien jy in die manier hoe wyn aan verbruikers bemark word?
Ons kan doen met baie meer wynopvoeding aan die publiek. Mense moet geleer word dat wyn nie ’n statussimbool is nie, maar iets om te drink.
Wat is jou gunstelingwyn en hoekom is dit spesiaal?
Shiraz. Ek hou van die vleiserige, speseryagtige geurprofiel van die kultivar.
Wat is die uitdagings om in 2016 wynmaker in Suid-Afrika te wees?
Die uitdagings vir wynmakers tans is om toekennings te verower en die volgende groot wyn te maak. Die druk om dit te vermag, is uiters groot.
Wat is die grootste uitdaging om die Grenache Noir te maak en hoekom is jy so trots op hierdie wyn wat julle pas bekendgestel het?
Ons het hard gewerk om die Grenache te bring waar hy is. Ons het die korrelkonsentrasie verhoog deur trosse in die helfte te sny, sodat die vrugaromas meer intens is. Die wingerd is ook as bosstokke opgelei, wat help om groter wyne te maak. Die uiteindelike wyn is ’n speseryagtige, vruggedrewe wyn met heerlike finesse.
Wat is die grootste les wat die natuur jou al geleer het?
Ons kan baie dankbaar wees vir elke druppel reën.