PG Slabbert het pas sy 20ste oesseisoen by Stellenbosch Hills gevier. Hy is sedert 1995 as wingerdboukundige van die KWV by die kelder betrokke en het in 1997 by die kelder aangesluit as assistent-wynmaker. Hy is in 2004 bevorder tot bestuurder/wynmaker.
Maryke Roberts
PG het op ‘n plaas buite Upington in die Noord-Kaap grootgeword en BSc Landbou gaan studeer. Op Stellenbosch het hy besluit wynmaak is die rigting waarin hy sy toekoms gaan belê. PG is getroud met Mari en hulle het twee kinders, Pieter en Karli. “Ek dink ‘n wynmaker se vrou moet ook maar hare op haar tande hê. Net die Hemelse Vader weet wie by elkeen pas en ek sê dankie vir myne, want sonder my gesin se ondersteuning is geen parstyd die moeite werd nie.”
Die gesin woon in die Paarl – PG sê dis die naaste wat hy aan Upington se hitte kan kom!
Hy sê wynmaak was nog altyd sy passie en op die plaas kry hy die geleentheid om met ‘n groot verskeidenheid kultivars uit verskeie areas binne Stellenbosch te werk.
1. Watter wyn – rooi of wit – lê jou die naaste aan die hart?
‘n Bietjie van beide, beide se bereiding het sy eie unieke aantrekkingskrag vir my.
2. Het jy ‘n gunstelingkultivar en -wynstyl?
As ek moet kies, sal dit chardonnay by wit wees en shiraz by rooi. Beide is komplekse variëteite.
3. Hoe verskil die uitdagings van wynmaak van 10 jaar gelede?
Wynmaak het baie meer as ‘n wetenskap ontwikkel – van die plant tot die stokkie tot die produk waarin dit eendag gaan eindig. Meer fokus word op die eindverbruiker geplaas en om wyne te produseer wat die onderskeie wêreldmarkte verlang.
4. Wat is die uitdagings om in 2016 wynmaker in Suid-Afrika te wees?
Om wyne te produseer wat by die onderskeie markte in die wêreld pas. Oor die algemeen is elke jaar ook anders en elkeen het sy eie unieke uitdagings, maar die grootste uitdaging is om die verbruiker die bes moontlike wynervaring te gee.
5. Is jou huidige posisie ‘n droom wat waar geword het?
Ja. Ek het geweet het wil landbou gaan studeer, en na 20 jaar is ek bestuurder van een van die grootste kelders in Stellenbosch!
6. Wat is jou gevoel oor wynkompetisies – euwel of nie?
Dis baie belangrik – nie net meet jy jou teen ander wynmakers van regoor die wêreld nie, dit gee ongelooflike aansien aan jou handelsmerk en sit net die kersie op die koek ná ‘n parsseisoen. Dit is ook ontsettend belangrik vir jou werksmense by die kelder, want krediet kom nie net na die wynmaker toe nie, maar na almal wat in die produksie van só ‘n uitmuntende wyn betrokke is.
7. Hoe voel jy oor die plaas se beeld onder die publiek?
Ons beeld is baie positief, maar jy kan nie genoeg doen om dit nog beter te maak nie.
8. Wat is vir jou die mooiste eienskap van wyn?
Die diversiteit daarvan – ook die rede hoekom ek glo ons wyn is die beste in die wêreld. Diversiteit is wat wyn so uniek maak. Wat vir my lekker en aanvaarbaar is, is nie noodwendig vir die persoon langsaan dieselfde nie. Elkeen se smaak verskil en elkeen drink sy wyn met wat vir hom/haar lekker is. Ek sê altyd ek weet nie hoekom mense wyn stoor of wegbêre vir spesiale geleenthede nie: elke geleentheid saam met vriende en familie is spesiaal. Haal daardie duur bottel rooiwyn uit wat jy op ‘n spesiale plek in jou huis of wynkelder gebêre het en drink dit vandag nog, ons weet nie wat môre vir ons inhou nie.
9. Wanneer geniet jy jou wyn die meeste?
Saam met vriende. Dit gee jou as wynmaker soveel werksbevrediging om te sien hoe iemand anders jou produk geniet.
10. Waaroor is jy trots in jou loopbaan?
Dat ek al op ‘n relatief jong ouderdom bestuurder van een van Stellenbosch se grootste kelders geword het.
11. Hoe kan ons verbeter op die manier hoe wyn aan verbruikers bemark word?
Ek dink nie ons doen genoeg om die verbruiker te verstaan nie en die handelsmerk Suid-Afrika te bemark nie.
12. Wat frustreer jou van SA wyndrinkers?
Dis nie soseer ‘n frustrasie nie, maar dit sal lekker wees as hulle meer passie oor die produk wat hul verbruik, kon hê.
13. Wat is die een ding oor die wynmaakproses wat min mense weet?
Die tyd verbonde aan die proses. Wynbereiding is nie ‘n resep wat jy volg nie. Dit verg oordeelkundige beplanning, vanaf die plant van die wingerdstokkie tot die wyn in die bottel beland.
14. Wat geniet jy die meeste van jou werk as wynmaker?
Die samevoeging van wat die natuur jou elke jaar bied en om dit bymekaar te bring in ‘n bottel wyn.
15. As jy nie wynmaker geword het nie, watter ander beroep sou jy graag wou volg?
Ek sou seker gaan boer het, want ek sien myself nie as iemand wat heeldag in ‘n kantoor kan sit nie.
16. Wat is jou gunstelingwynstyl en hoekom is dit spesiaal?
Ek is mal oor versnitte, rooi en wit. Deur wyne te versny, kom die wynmaker se kunstigheid na vore en bring soveel meer geur-elemente tot die wyn.
17. Watter leemte sien jy in die SA wynmark oorsee?
Ons doen nie genoeg vir ons beeld oorsee nie. Ons moet wegbeweeg uit die medium/lae prys-segment oorsee en ‘n hoër prys vir ons produk in die buiteland beding.
18. Wie is jou wynmaak-helde en na wie gaan jy vir raad?
Daar is drie mense wat ‘n groot rol in my loopbaan gespeel het: Prof. Joel van Wyk, Johan Pienaar en Kowie du Toit, die vorige bestuurder by Stellenbosch Hills. As daar een ding is wat ek geleer het, is dit jy nooit te veel vrae kan vra nie, maak nie saak hoe dom jy dink dit is nie.
19. As jy raad aan ‘n jong wynmaker kan gee, wat sal dit wees?
Wees kreatief en soos hulle in Engels sê: “Think outside the box”.
20. As daar een ding in jou wynmaak-loopbaan is wat jy sou wou oordoen, hetsy ‘n wyn, die aanplant van ‘n wingerd, ens. wat sou dit wees?
Ek sou meer na ander wynstreke in die wêreld gereis het.
21. Waarvan droom jy vir die toekoms?
Ek dink dis ons almal se droom om ‘n ikoniese wyn gemaak.
SOURCES
verskaf