Peter-Allan Finlayson is die nuwe wynmaker op Gabriëlskloof buite Botrivier in die Overberg
Maryke Roberts
Hy kyk effe anders na die lewe en het in sy derde jaar as wynmaakstudent opgeskop en eerder filosofie en ekonomie gaan swot. Hy sê hy moes afstand kry en eers grootword voor hy kon terugkeer na die beroep wat nou sy passie is. Hy vertel dat die plaas se pragtige ligging wat kompleet soos iets uit Toskane lyk en die ideale ligging van die wingerde om wen-wyne te maak, hom na die plaas gelok het.
Peter-Allan is getroud met Nicolene Heyns en hulle het drie hondekinders. Die plaas hou weer op 11 en 12 Desember die gewilde Gabriëlskloof’s Favourite Things Market. Die pragtige binnehof met sy uitsig oor die vallei word in ‘n feesmark van handgemaak, vars, heerlik en mooi omskep. Jy kan al die lekkerte met Peter-Allan se wyne geniet.
• Vir meer inligting besoek Gabriëlskloof se Facebook-bladsy
Wat is jou ideale in jou rol as wynmaker?
Ek wil die lekkerste wyne moontlik maak, maar altyd met respek vir die wingerde as basis.
Sien jy uit na die komende parsseisoen en wat beplan jy?
Beslis, elke oes is verskillend en bring nuwe uitdagings. Ek werk so natuurlik moontlik in die kelder en dit beteken dat ek meer in harmonie is met die verskillende groeitoestande wat elke oes meebring.
Wat is jou gevoel oor wynkompetisies?
Ek het gemengde gevoelens. Kompetisies bied beslis aan die verbruiker ‘n gids oor wat om te koop, maar dit hang ook af van wat jy in die kelder probeer bereik. Ek probeer wyn maak wat weerspieël waar dit vandaan kom en dit beteken dat die wyne nie noodwendig in kompetisies gaan uitblink nie.
Wanneer geniet jy jou wyn die meeste?
Wanneer ek iemand anders dit sien geniet.
Wat pla jou van die wynbedryf en die beeld wat dit na verbruikers toe uitdra?
Ek dink nie dit is inklusief genoeg nie, maar dit sal tyd verg om te verander.
Wat is jou beste bemarkingsmiddel?
Goeie wyn.
Wat is vir jou die een enkele faktor wat ‘n sekere wyn ‘n wenner maak?
Heerlikheid!
Wat is die een ding van die wynmaakproses wat min mense weet?
Om wyn te proe, is nie altyd goed vir jou tande nie.
Wat geniet jy die meeste van jou werk as wynmaker?
Om die finale versnitte te maak, is die kreatiefste deel van die werk.
SOURCES
verskaf