Waterkloof Wynkelder buite Somerset-Wes is die wynkelder met die glasboks wat teen die betongebou hang en ’n groot toeriste-attraksie in die Helderberg is.
Maryke Roberts
Die kelder se restaurant is pas aangewys as een van die top 10 restaurante in die jaarlikse Eat Out-gids. Die wynmaker Nadia Barnard se prestasies op die wyn-gebied maak dit ’n gewilde bestemming.
Sy is die afgelope 7 jaar die wynmaker by Waterkloof. Dit is haar eerste permanent pos, voor die tyd het sy slegs by ander kelders plaaslik en oorsee as ’n kelder-assistant gewerk gedurende die pars-seisoene. Sy het ook by die ander spogplaas, Vergelegen, onder André van Rensburg gewerk.
Wou jy altyd wynmaker word?
Ek het altyd geweet dat ek in die wetenskap wou inbeweeg, maar op skool was ek nog nie seker in water rigting nie.
Wat was jou drome toe jy as jy wynmaker begin het en hoe ver het jy gevorder met alles wat jy beplan het?
Ek wil net jaar in en jaar uit die beste wyn maak wat ek kan en seker maak dat die druiwe gerespekteer word.
As jy nie wynmaker geword het nie, watter ander beroep sou jy graag wou gevolg het?
Ek dink ‘n sjef.
Wat is jou gevoel oor wynkompetisies?
Dit is baie goed vir verkope, indien jy inskryf vir die kompetisies wat toepaslik is tot jou mark.
Hoe voel jy oor die plaas se hele natuurlike aanslag met wynmaak en boer in geheel?
Ek is baie trots om te kan deel wees van so ’n plaas wat natuurlik boer en so goed na die omgewing omsien.
Wanneer geniet jy jou wyn die meeste?
Wanneer ek ’n glasie saam met my familie kan drink.
Wat was tot dusver jou grootste hoogtepunt as wynmaker?
Die dag toe ek aangestel is as hoof-wynmaker by Waterkloof.
Watter leemte sien jy in die manier hoe wyn aan verbruikers bemark word?
Daar kan nog baie opleiding gedoen word om meer mense te kry om wyn te geniet vir die besonderse produk wat dit is.
Waar het jy al oeste oorsee meegemaak en wat het dit jou geleer?
Australië, Nieu-Seeland en Frankryk. Elke plek het vir my iets anders geleer, maar elke keer gehelp om terug te gaan na hoe belangrik die wingerd is.
Wat is jou mooiste/mees romantiese herinnering aan wyn?
Elke keer wanneer ek terugdink aan my tyd in Boergonje, is ek nostalgies.
Wat is die grootste fout wat verbruikers tuis maak met die a. gooi; b. stoor of berging; c. pasmaats met kos van wyn?
Baie verbruikers stoor hulle kurkwyne regop en in baie warm kaste. In terme van pasmaats glo almal dat witwyn saam met vis moet gaan en dat rooi eerder saam met rooivleis moet trou, maar eintlik kan jy tot ’n chenin blanc met lamsvleis pasmaat.
Wat is die een ding oor die wynmaakproses wat min mense weet?
Goeie wyn word in die wingerd gemaak.
Wat is die een groot wanpersepsie oor wyn wat algemeen as feit voorgehou word?
Dat rooiwyn teen kamertemperatuur bedien moet word, maar ek daarvan hou om rooiwyn (afhangend van die variëteit) effens af te koel. Cinsault en pinot noir is goeie voorbeelde van rooiwyne wat effens kouer bedien kan word.
Wat geniet jy die meeste van jou werk as wynmaker?
Parstyd. Dit is baie besig, maar dit voel nie soos werk nie.
Hoekom is SA wyne volgens jou die beste in die wêreld?
Ons het ’n groot diversiteit van verskeie wyne en style wat dit baie interessant maak.
Watter wenke het jy vir die somerseisoen wanneer almal ´n bietjie blaaskans neem?
Op warm dae hou ek daarvan om ’n sangria te maak, waar jy rooiwyn met sodawater en vrugte meng. Dis lekker verfrissend, maar stil steeds jou lus vir wyn.
Met watter wyn gaan jy vanjaar op Kersdag ontspan?
Met ons Seriously Cool Cinsault en ’n paar ander interessante pinot noirs.
Waarvan droom jy vir die toekoms?
Om ’n stukkie grond in Frankryk te koop.
SOURCES
verskaf
Maryke is ’n ervare joernalis, wat haar liefde vir reis, mense, boeke, teater en lekker kos en wyn, op hierdie manier kan uitleef. Sy was al op elke uithoek van die aardbol – bo die wolke; in ’n lugballon; onder die water in ’n duikboot en onder die grond in tonnels – en gaan nêrens sonder haar reisgenoot, eggenoot en mede-joernalis, Clifford nie. Sy glo die lewe is te kort vir slegte koffie.