Die wynplase in die Robertson-wynvallei is besig om vere reg te skud vir die Wacky Wine-naweek wat van 4-7 Junie gehou word.
Maryke Roberts
Lourens van der Westhuizen van Arendsig Handcrafted Wines buite Bonnievale is dié vallei se wynmaker wat dinge so effens anders doen; oorloop van passie, jou vir ure kan besighou en kan wegkom met kommentare soos “ek sal dit waardeer as julle ’n botteltjie of twee koop, want doeke is duur”. Sy tweeling, Maria en Sofia, is nou bietjie ouer as ’n jaar en hy en sy vrou, Lizelle, is ’n gedugte span en die intieme aandetes op die plaas as deel van Robertson Slow is al legendaries.
Sy wynfilosofie is om so min as moontlik met die wyn in te meng sodat dit die terroir weerspieël en om hierdie rede maak hy ook net enkelwingerd-wyne. Hy is ook wynmaker vir ’n hele paar ander handelsmerke, soos onder meer Mimosa, Esona, Jan Harmsgat en Tanagra.
Hoe lank is jy al wynmaker op die plaas?
Ek is die vyfde generasie lid op die plaas, maar die eerste generasie wynmaker. Ek het in 2004 my eerste wyn onder ons eie handelsmerk gemaak.
As jy nie wynmaker geword het nie, watter ander beroep sou jy graag wou volg?
Ek sou ’n boer geword het.
Waar het jy studeer?
Ek het my nasionale diploma aan die voormalige Kaapse Technikon, nou Cape Town University of Technology, voltooi en toe Wingerd- en Wynkunde op Elsenburg.
Wou jy altyd ’n wynmaker word?
Nee, dit was eintlik eers op Elsenberg wat ’n passie begin ontwikkel het toe ek gereeld op wyntoere in die Stellenbosch-area begin gaan het.
Lourens se gunstelingwyn is van die eerste oes van elke
enkelwingerd.
Wat was jou drome toe jy daar begin het?
Ek het op die familieplaas grootgeword as ’n plaasklong. Boer was altyd in my bloed, ek was net nie seker gewees watter rigting ek wou inslaan nie. Hoe langer ek studeer het, hoe meer het die wyn gevloei en dit het my passie en fokus geword.
Wat is jou gevoel oor wynkompetisies?
Dis nie my persoonlike fokus nie, want ek probeer my eie unieke styl maak, wat ander hopelik sal waardeer.
Wanneer geniet jy jou wyn die meeste?
Wanneer die dag te lank was.
Wat was jou grootste hoogtepunt tot dusver?
My tweelingdogters beslis.
Wat pla jou van die wynbedryf en die beeld wat dit uitdra na verbruikers toe?
Die verkeerde persepsies oor wyn wat aan die publiek voorgehou word.
Is verbruikers oningelig oor die verskillende variëteite, style en so meer?
Nie alle verbruikers, maar ek vind tog die meeste is oningelig.
Watter leemte sien jy in die manier hoe wyn aan verbruikers bemark word?
Persoonlike of direkte bemarking aan die verbruiker skiet volgens my ver te kort. Dis hier waar ek die beste resultate kry, as ek oor ’n glas wyn met ’n verbruiker kan gesels.
Watter rol speel wynskoue in die bemarking van jou wyn?
Wynskoue gee vir my as klein rolspeler uitstekende blootstelling en geleentheid om my verbruikers te ontmoet en meer van ons wonderlike produk te vertel, terwyl hy kan proe.
Het jy ’n voorkeur as dit by sosiale wyn drink kom, tussen wit, rooi of MCC?
Nee, elkeen het sy tyd en plek en ek geniet al drie style.
Wat is die grootste fout wat verbruikers tuis maak as hulle wyn skink?
Ons is almal geneig om te veel te skink. Skink minder en skink later weer.
Wat is vir jou die een enkele faktor wat ’n sekere wyn ’n wenner maak?
Kompleksiteit.
Wat is die een groot wanpersepsie oor wyn wat algemeen as feit voorgehou word?
Dat almal wat ’n handelsmerk op die mark het, self die wyn produseer.
Wat is die een ding van die wynmaakproses wat min mense weet?
Hoe ’n groot rol die terroir speel.
Het jy ’n hond?
Ja, sy naam is Boerseun en hy is ’n pragtige Sint Bernard, maar hy kom deesdae minder saam kelder toe vandat die tweeling arriveer het.
Wat geniet jy die meeste van jou werk as wynmaker?
Om kreatief te kan wees.
Wat is jou gunstelingwyn en hoekom is dit spesiaal?
Die eerste oes van elke enkelwingerd wat ek maak, want as ek dit proe, is ’n nuwe storie geskryf van ’n ontdekte, spesifieke, terroir en elkeen het iets anders om te vertel.
Het jy ’n gunstelinghoekie op die plaas waar jy heengaan vir stilte of as jy moet dink oor groot besluite?
Ek het nie ’n gunstelinghoekie nie, maar my bergfiets en die Karookoppies is my sielsplekke.
Hoekom is SA wyne volgens jou die beste in die wêreld?
Daar is nie iets soos die “beste wyn” nie. Elkeen is uniek en het sy tyd en plek en aanhang.
Vir meer inligting oor die plaas en sy wyne, besoek www.arendsig.co.za
SOURCES
Verskaf