Lauren Behrens is die afgelope twee jaar die wynmaker op Le Bonheur Wynlandgoed op die Klapmutspad buite Stellenbosch.
Maryke Roberts
Die landgoed behoort aan LUSAN Premium Wyne. Sy het as assistent-wynmaker daar begin en toe by Sakkie Kotze as wynmaker oorgeneem.
Sy en haar man, Hartmut, verwag binnekort hul eerste baba. Hulle woon op die plaas en Lauren sê hulle is mal daaroor, want sy kan so in die stilligheid selfs in haar vrye tyd ‘n ogie oor die druiwe gooi.
Waar het jy studeer?
Ek het wingerd- en wynboukunde aan die Universiteit van Stellenbosch studeer.
Wat was jou drome toe jy begin het en hoe ver het jy al gevorder?
Toe ek begin studeer het, het ek nooit gedink ek sou ‘n wynmaker word nie. Ek het Chemie gaan studeer, maar gelukkig het my paadjie gou na wynmaak gelei: die beste besluit ooit! Ek leef my droom en hoewel ek nog baie het om te leer en ervaar, sal dit vir my heerlik wees om elke dag vir die res van my lewe as wynmaker te beleef.
Wanneer geniet jy wyn die meeste?
Om saam met my man op die stoep te sit op ‘n Vrydagmiddag en die oomblik te geniet.
Wat was tot dusver jou grootste hoogtepunt as wynmaker?
Om die wynmaker by ‘n bekende landgoed soos Le Bonheur te word, was sover vir my die grootste voorreg.
Wat is jou gevoel oor wynkompetisies?
Ek dink kompetisies is belangrik om waarde te wys en ook hoe hard ons wynmakers werk om goeie wyn te maak. Maar ek dink ook dat ‘n bottel wyn sonder ‘n medaljeplakker nie beteken daardie wyn is nie uitstekend nie.
Ons wynmakers maak uitstekende wyne en word regoor die wêreld daarvoor vereer. Ons kan net nie al die plakkertjies kry nie!
Wat pla jou van die wynbedryf en die beeld wat dit na verbruikers toe uitdra?
Ek kan nie aan enigiets dink nie. Die wynbedryf doen hul beste om alle aspekte van wynmaak te verbeter: hoe ons dit maak en hoe ons dit beter vir ons verbruikers kan maak. Ons word al meer volhoubaar in die manier hoe ons met die natuur werk; om die natuur terug te bring in die wingerde en is al versigtiger oor die produkte wat ons in wyn gebruik soos preserveermiddels; ons probeer laer alkoholvlakke hê en verseker dat werknemers ‘n beter en veiliger werksomgewing het.
Watter leemte sien jy in die manier hoe wyn aan verbruikers bemark word?
Somtyds oorkompliseer die bedryf dinge met wynterminologie, -kultuur en so meer. Ons moet dinge makliker en meer toeganklik maak.
Is verbruikers oningelig oor die verskillende variëteite, style en so meer?
Ek dink wynkopers weet wat hulle wil hê as hulle wyn koop. Maar daar is nog baie verbruikers wat nie die verskil in kultivar of styl verstaan nie en daarom hou hulle by dit wat hulle ken. As hulle meer wil weet oor ander wyne, gaan gesels hulle gewoonlik by wynskoue met die wynmaker; woon gourmet-etes met wyn pasmaats by of kom kuier by ons proelokale en verbreed hul horisonne.
Wat is die grootste blaps wat jy al in die kelder en voor ‘n groep mense gemaak het?
In die kelder gebeur daar daagliks klein goedjies, maar nooit iets ernstigs nie, anders sou ek al my werk kwyt gewees het! Maar op ‘n persoonlike vlak: ek is sleg met name …
Watter rol speel wynskoue in die bemarking van jou wyn?
Dis belangrik om daardie verbruiker te bereik wat nie noodwendig na die plaas kan kom nie.
Wat is jou mooiste/mees romantiese herinnering aan wyn?
Toe ek en my man verloof geraak het, het hy die hele vertrek met rose gevul en ons het die verlowing met ons gunstelingbottel MCC gevier.
Wat is vir jou die een enkele faktor wat ‘n sekere wyn ‘n wenner maak?
Wyne moet die kultivar waarvan dit gemaak word, weerspieël.
Wat is die een ding van die wynmaakproses wat min mense weet?
Alles in die wynbedryf vra geduld: van die gisting tot die stabilisasie van die wyn; veroudering, eers in die vat, dan in die bottel.
Wat is die een groot wanpersepsie oor wyn wat algemeen as feit voorgehou word?
Die feit dat ‘n skroefprop minderwaardig is; of dat witwyn jonk gedrink moet word.
Na wie kyk jy op in die wynbedryf en by wie vra jy raad?
De Wet Viljoen van Neethlingshof.
As jy nie wynmaker geword het nie, watter ander beroep sou jy graag wou volg?
Ek vermoed ‘n apteker of dalk ‘n fisioterapeut.
As jy die dag aftree, watter nalatenskap wil jy agterlaat?
Ek hoop dat ek meet my aftrede hope goeie wyn sal agterlaat. Wyne wat, wanneer dit gedrink word, weer die herinneringe oproep van hoe passievol ek oor wynmaak is.
SOURCES
verskaf