Kosie van der Merwe het verlede jaar by Elgin Ridge Wyne in die Elginvallei aangesluit.
Nadat hy in 2009 sy teoretiese gedeelte in Wingerdbou en Kelderbestuur by Elsenburg voltooi het, het hy by Rust en Vrede gewerk, voor hy en ‘n vriend ‘n oestyd by Chateau de Panery in Frankryk gedoen. Hy het draaie gemaak en oeste beleef by Backsberg, is Kalifornië toe om by Dry Creek te gaan werk en ook by Spier gewerk as assistent vir die 2012-seisoen, voor hy ‘n assistent-wynmakerpos gekry het in Margaux, Frankryk, by Chateau Siran.
Na sy Bordeaux-oes het hy genoeg geld bymekaar geskraap om sy finale jaar op Elsenburg te gaan voltooi en daarna by Hannay Wines en Custom Crush Winery aangesluit en daar gewerk tot hy by Elgin Ridge aangesluit het.
By Elgin Ridge word daar biodinamies geboer en dit was ‘n nuwe praktyk vir hom. Hy geniet die feit dat dié boerderymetodes baie meer intensief is as konvensionele praktyke. Hulle fokus daarop om mikrobiese lewe in die grond te herstel en hanteer elke wingerdstok/-blok verskillend volgens die plant se behoeftes.
Kosie is nog ‘n enkelloper en lag as hy sê sy hardloop agter druiwe aan het hom tot dusver maar min tyd vir vrou soek gegun.
Waar kom jou belangstelling in wynmaak vandaan?
My belangstelling in wyn is geprikkel deur my pa se liefde vir biochemie. Ek het grootgeword op ´n melk- en graanplaas in die Swartland en my pa het gedurig gespeel met sy voedingskema vir die beeste om verskillende resultate in die melksamestelling te verkry. Dit was vir my fassinerend. Ek was nie bereid om beeste te melk vir ´n lewe nie, so ek het gaan soek vir ´n ander alternatief in die biochemie en het wyn maak gekies as my paadjie vorentoe. My obsessie as kind om aan alles te ruik, het ook seker bygedra tot hierdie beroepskeuse!
Watter wenke het jy vir mense wat bang is om met nuwe wyne te eksperimenteer?
Stig ‘n proeklub en doen jou eksperimentering saam met vriende. So kan julle die kostes deel en groter gaan, sonder om te teleurgesteld te wees in ‘n wyn waarvan jy nie hou nie. Ek het al baie juwele só ontdek.
Wat is die mooiste woorde wat jy nog rondom wyn gehoor het?
“We believe that wine is special, and one of the things that make it special is that it is, in essence, a natural product.” – Jamie Good & Sam Harrop.
Het jy ‘n getroue hond wat oral saamry op die plaas?
Ja, haar naam is Dio. ‘n Swart labrador wat ek aangeneem het. My hart se punt.
Wou jy altyd wynmaker in Suid-Afrika word of het jy gedroom van oorsee werk?
My korttermyndoel was eenvoudig: Ek wou na verskillende dele van die wêreld reis om te sien hoe hulle wyn produseer, terugkom en ‘n plek soek waar ek myself as ‘n wynmaker met my spesifieke styl kan uitdruk, ´n hond kry en my hier in SA vestig. Nou vir die volgende stap. Ek wou altyd net ondervinding in die buiteland opbou en terugkom en hier kom woon. Ek mis dit om SA grond onder my vingers te voel as ek weg is.
Hoe voel jy oor Suid-Afrika se beeld in die buiteland – moet ons daaraan werk of meer op die plaaslike mark fokus?
Die nuwe opwinding in die buiteland oor veral witwyne van Suid-Afrika doen ons beeld wondere. Ons het jong wynmakers wat die grense bietjie verskuif met dinamiese handelsmerke en topgehalte-wyne, bitter nodig gehad om die buiteland weer op Suid-Afrika te laat fokus. Ongelukkig prys ons nog steeds hierdie fantastiese wyne baie laag teenoor ander lande en dit gaan moeilik wees vir ons om dit te herstel. Dit sal goed wees om op beide markte te fokus.
Hoe voel jy oor toekennings en verering in jou beroep – doen dit jou en die plaas se beeld goed of dink jy nie die publiek steur hulle daaraan nie?
In enige beroep is dit lekker om erkenning vir harde werk te kry, maar by gesê, goeie verkope sal altyd beter wees as ‘n beker in die vertoonkas of ‘n klop op die skouer. Jy moet altyd dink oor wat jy met ‘n gouemedaljeplakker op jou bottel wil bereik. Die mark wat jy betree, moet altyd oorweeg word voor daar vir ‘n kompetisie ingeskryf word. ‘n Goeie toekenning in ‘n goeie kompetisie wat jou spesifieke kliënte bereik, is altyd voordelig vir die plaas. Ons vergeet soms dat ons in die wedstryd is om geld te maak, nie om ons ego’s te streel nie!
Met watter wyn vier jy groot geleenthede in jou lewe?
Ek het nie ‘n spesifieke wyn wat ek geniet vir groot geleenthede nie. Ek het wel ‘n paar wyne in my ‘vinoteek’ wat ek van my reise af teruggebring het (gewoonlik al my klere agtergelaat en net wyn in die tas gepak as ek terugkom) wat ek gewoonlik saam met my pa drink as die geleentheid roep.
Wat is die grootste les wat die natuur jou al geleer het?
Die 2016-oesjaar het my geleer dat ons nie so slim is soos wat ons dink nie!
Wat is die beste raad wat jy al as wynmaker ontvang het?
Ek het vir ‘n flambojante wynmaker in die suide van Frankryk gewerk wat gelyk het of hy elke oomblik van sy lewe geniet. Hy het vir my gesê dat, alhoewel wynmaak ‘n duidelike passie vir my is, ek myself of hierdie bedryf nooit te ernstig moet opneem nie. Wyn en die maak daarvan is veronderstel om ‘n plesier te wees, nie ‘n werk nie.
Wat is die grootste fout wat verbruikers tuis maak met die a. gooi; b. stoor of berging; c. pasmaats met kos van wyn?
a) Dit is nie snobisties om ‘n ‘decanter’ te besit nie. Decant jou ouer wyne voor jy dit skink, dit verrig wondere om al die geure te ontbloot.
b) Lê jou wyne plat neer, sodat die kurke klam bly. As jy nie ‘n kelder het nie (soos die meeste van ons), probeer jou wyn stoor in ‘n donker kas, langs ‘n binnemuur in jou huis.
c) Dis goed om te leer by die kundiges, maar moet jou nie te blind staar teen wat ander sê jy moet doen nie. Dis jou kombuis, maak soos jy goeddink. Dit maak die ondervinding soveel beter.
Wat is vir jou die mooiste eienskap van wyn?
Die krag wat wyn besit om jou te verras.
Watter kultivar is jou gunsteling en hoekom?
Ek geniet vrug. Ek probeer om al die wyne wat ek maak, hierdie element te laat uitbeeld. As gevolg hiervan is my gunstelingvariëteite van so ´n aard dat hulle bars met vrug. Grenache, Cinsault, Semillon, Viognier, Cabernet Franc, Petit Verdot. Pinot Noir is besig om op my te groei as ‘n wyn, maar ek geniet die uitdaging wat dit bied om dit te groei en te maak.
Watter kultivar dink jy kry nie genoeg aandag in SA nie?
Semillon en Petit Verdot.
Wat geniet jy die meeste van jou werk as wynmaker?
Die diversiteit van die werk. Ek het gekies om te fokus op kleiner maatskappye. Dit is baie bevredigend om by alles betrokke te wees: van wingerd tot wyn tot verkope. Hier by Elgin Ridge het ons ook Dexter-beeste, Dorperskape en eende wat deel vorm van ons biodinamiese werkspan. Omdat ek op ‘n plaas grootgeword het, sal ek dit baie mis as ek nie met diere ook kan werk nie.
Wie is jou wynmaak-helde en na wie gaan jy vir raad?
Ek het my eerste pars nadat ek studeer het by Rust en Vrede onder Coenie Snyman gedoen. Hy het ‘n groot invloed gehad op hoe ek wynmaak benader. Sy passie vir chemie en tegniese uitkyk oor kelderpraktyke was ‘n goeie basis vir ‘n intern. Ek was nog altyd ‘n groot aanhanger van Luddite Wyne. Niels Verburg was die konsultant-wynmaker voordat ek by Elgin Ridge as wynmaker aangesluit het. Ek was gelukkig genoeg om hom só te leer ken en leer iets nuuts by elke ontmoeting. Die wynbedryf is een van die min bedrywe waar jy jou buurman kan bel (wat in direkte kompetisie is met jou) en hom vir raad vra en hy sal met liefde al sy geheime met jou deel. Gelukkig is daar só ‘n kultuur wat onder die Elgin-wynmakers heers.