Karl Lambour het op 1 Julie die leisels by Tokara Wyne buite Stellenbosch oorgeneem. Hy neem oor by Gerrie Wagener, wat vroeër vanjaar oorlede is.
Maryke Roberts
Hy was vir vier jaar deel van Grande Provence se wynmaakspan is. Sy vlagskip Grande Provence White 2013 het behoorlik skoonskip gemaak in die Junie-uitgawe van die Britse Decanter-tydskrif. Die proepaneel wat uit drie wynmeesters bestaan het, het elk die wyn ’n punt van 95/100 gegee, en boonop is die wyn ook geklassifiseer in die “uitstaande” kategorie.
Karl het as deel van vanjaar se oes twee Italiaanse amfore ingevoer waarmee hy Chenin maak – die druiwe is afkomstig van ’n 33 jaar oue wingerd.
Hy het ook by Constantia Glen en Die Bergkelder in Stellenbosch gewerk en oeste by Château Bellefont-Belcier en Château Trianon in Saint-Emilion, Frankryk, meegemaak.
“Ek wou altyd binne- en buitewerk kombineer, en as wynmaker het ek daardie droom honderd persent laat bewaarheid.”
Karl het bosbouwetenskap geswot, maar saam met vriende begin wynproe en die gogga het gebyt! Hy sê sy tyd by Vergelegen op Somerset-Wes het sy liefde vir die beroep finaal geslyp. Hy het ook by Constantia Glen en Die Bergkelder in Stellenbosch gewerk en oeste by Château Bellefont-Belcier en Château Trianon in Saint-Emilion, Frankryk, meegemaak.
1. Hoe het dit gevoel om nou hierdie toekenning te ontvang?
Decanter is ‘n ikoniese publikasie en ken punte aan wyne regoor die wêreld toe. Om 5 sterre en 95 punte vir ons vlagskip-versnit te ontvang, wat ons Suid-Afrikaanse erfenisdruif, chenin blanc, as basis gebruik, is briljant. Die hele span is baie in hul noppies!
2. Lok die wingerde oorsee of is jy gelukkig om wynmaker in Suid-Afrika te wees?
Oorsese wynkelders het hul aanloklikheid, maar daar is niks soos om terug te vlieg Kaapstad toe en die berge en oseaan te sien en te weet jy is by die huis nie.
3. Wat was jou drome op skool oor die beroep wat jy eendag gaan volg en hoe ver het jy gevorder met alles wat jy beplan het?
4. Wat is jou mooiste/mees romantiese herinnering aan wyn?
Om Dom Perignon Rosé 1999 in Chateau de Saran, die tuiste van Moët & Chandon, saam met ou en nuwe vriende te drink.
5. Het jy ‘n getroue hond wat oral op die plaas saamry?
Ek het drie Viszlas – Rez, Kika en Chase, en hulle is my beste stapmaats.
6. Waarvan droom jy vir die toekoms?
Dat my honde vir ewig kan lewe!
7. Wat bekoor jou van wyn?
Die vermoë om geskiedenis vas te vang en te verduidelik as jy jare later daardie bottel oopmaak.
8. Wat was sover jou grootste uitdaging as wynmaker?
Om dit nie persoonlik op te neem as iemand nie van jou wyn hou nie. Op professionele vlak is dit moeilik om by te bly met al die neigings in die bedryf en om ouer wingerde te verstaan, toegang daartoe te verkry en hul erfenis in ‘n bottel weer te gee.
9. Jy het vele hoogtepunte in jou loopbaan. Staan iets uit?
Ja, ek is trots op my vermoë om kennis oor te dra en ander te help om briljante wynmakers in eie reg te word.
10. Hoe kan bemarkers wyn beter aan wyndrinkers bemark?
Dis ‘n lugleegte, maar dis gevul met wyn-taal. Wyn-taal is gewis die grootste struikelblok tussen goeie wyn en die verbruiker. As ons daardie muur kan afbreek, sal wyn baie minder intimiderend wees – dis een van my lewenstake.
11. Watter raad het jy aan verbruikers wat onseker is oor hoe lank wyn gestoor moet word?
Die meeste mense hou wyn te lank! Die beste wyn is die wyn in jou glas wat jy met vriende en familie deel. As jy nie ‘n regte kelder het nie, moet nooit meer as ‘n maand se wynvoorraad hou nie. Geniet wat jy het voor jy weer aankoop. En onthou, daar is geen “reg” of “verkeerd” wat wyn- en kos se pasmaats aanbetref nie. Volg jou hart!
12. Frustreer wyndrinkers se gedrag en onkunde jou?
Nee, sonder die wyndrinkers het ek nie ‘n werk nie!
13. Wat is die een ding oor die wynmaakproses wat min mense weet?
Dat dit ‘n hele jaar in die wingerd neem om die wyn in jou glas te maak. Die kort tydjie wat wyn in die kelder deurbring, is gewoonlik al wat mense se verbeelding aangryp.
14. As jy nie wynmaker geword het nie, watter ander beroep sou jy graag wou volg?
Ek sou waarskynlik ‘n wynbemarker geword het, want mense vertel my dat ek nogal ‘n natuurlike aanslag daarvoor het.
15. Wat geniet jy die meeste van jou werk as wynmaker?
Die kommunikasie met mense as hulle wyn proe en koop.
16. Wat is jou gunstelingwyn en hoekom is dit spesiaal?
Miles Mossop se Saskia, ‘n chenin blanc en viognier versnit wat na my peetdogter vernoem is. Ek het dit as inspirasie gebruik vir ons Grande Provence-vlagskip- wit versnit.
17. Reis jy baie om jou wyn bekend te stel en indien wel, wat is jou gunstelingbestemming?
Ja, en Amsterdam is my gunsteling. Dis ‘n warm en vriendelike stad met die vermoë om jou elke keer te vermaak as jy gaan kuier. En die inwoners is mal oor Suid-Afrikaanse wyne.
18. Wat is die mooiste woorde wat jy al rondom wyn en die wynmaakproses gehoor het?
Horatius het gesê: “ Wine brings to life the hidden secrets of the soul, gives being to our hopes, bids the coward flight, drives dull care away and teaches new means for the accomplishment of our wishes.”
19. Wat is die beste raad wat jy al as wynmaker ontvang het?
André van Rensburg van Vergelegen het een maal gesê dat wynmakers altyd die basiese wynmaakbeginsels volmaak moet toepas en uitvoer.
SOURCES
verskaf