Jolandie Fouché is die afgelope agt maande die wynmaker by Kloovenburg wyn- en olyfplaas op Riebeek-Kasteel.
Maryke Roberts
Die plaas en kelder behoort aan Pieter en Annelene du Toit, die derde generasie du Toits op die plaas. Jolandie het aan die Elsenburg Landboukollege studeer en onthou dat die gogga vir wynmaak haar op hoërskool gebyt het, toe sy ’n taak oor haar toekomstige beroep moes doen. Haar vriendin, Colleen, se swaer is ’n wynmaker en hulle het dadelik met vrae na hom toe gegaan. Sy antwoorde en die manier hoe hy oor sy passie en beroep gepraat het, het haar so inspireer dat die twee vriende net daar besluit het dis wat hulle eendag gaan doen. Jolandie het wynmaker geword en Colleen is vandag ’n uiterse suksesvolle ontwerper met haar eie etiket, MarethColleen.
Jolandie is getroud met Gustav en hy is ook ’n wynmaker. Hulle geniet dit om nuwe wyne te proe en meer daaroor te leer, hulle draf graag saam, ry fiets en geniet lekker kuiers met vriende en familie.
1. Hoe voel jy oor wynkompetisies?
Ek is ’n draadsitter. Aan die een kant wens ek dit het nie so ’n groot invloed op die wynverbruikers gehad soos wat dit het nie. En aan die ander kant help dit met wynverkope en -bemarking.
2. Waaroor het jy agt maande gelede gedroom toe jy by die span aangesluit het en hoe ver voel jy het jy al gevorder?
My droom is om Kloovenburg te vestig as een van die topkelders in Suid-Afrika, om wyne te maak wat die area die beste reflekteer en om ’n verskil te maak op die plaas. Vra my weer oor vyf jaar hoe ons gevorder het.
3. Wanneer geniet jy wyn die meeste?
As ek saam met vriende en familie ontspan.
4. Wat was jou grootste hoogtepunt as wynmaker tot dusver?
Om elke dag in die bedryf te kan werk waar ek my passie kan uitleef, bly my hoogtepunt.
5. Is dit moeilik om as vrou in die wynbedryf te werk?
Glad nie, jy’s verantwoordelik vir jou eie sukses en geluk.
6. Watter voordeel dink jy het jy bo manlike wynmakers?
Ek dink met uitsonderings is vroue meer geneig tot aandag aan die fynere detail en finesse.
7. Watter leemte sien jy in die manier hoe wyn aan verbruikers bemark word?
Om die nie-verbruiker om te skakel na ’n verbruiker.
8. Is verbruikers oningelig oor die verskillende variëteite, style en so meer?
Ja , veral met nuwe druifsoorte wat aangeplant word, asook nuwe wynstyle wat oordie afgelope 10 jaar verander het.
9. Watter rol speel wynskoue in die bemarking van jou wyn?
Dit bereik ander gehore wat nie voorheen daar was nie. Dis ook die ideale platform waar jy direk met die verbruiker kan kommunikeer en hulle sodoende kan vertel oor die plaas, kelder en sy wyne.
10. Wat is jou effektiefste bemarkingsmiddel?
’n Storie en ’n ryk geskienis, en daarvan het Kloovenburg hope!
11. Het jy ’n drinkvoorkeur tussen wit, rooi of MCC?
Glad nie, alles is lekker en het sy tyd en plek.
12. Wat is die grootste fout wat verbruikers tuis maak met die a.gooi; b. stoor of berging; c. pasmaats met kos van wyn?
Ek dink wyn is daar om geniet te word en mense moet nie te tegnies raak oor sulke goed nie, maar met die berging sal dit ideaal wees om ’n bottel teen ’n helling te stoor, sodat die kurk in kontak kom met beide die wyn en lugborrels; by ’n konstante temperatuur van tussen 10 – 15 grade Celsius met geen fluktuasie en direkte lig nie.
13. Wat is die een enkele faktor wat ’n wyn vir jou laat uitstaan?
Soos met alles, balans.
14. Wat is die een ding van die wynmaakproses wat min mense weet?
Dit verg baie lang ure en baie harde werk.
15. Wat is die een groot wanpersepsie oor wyn wat algemeen as feit voorgehou word?
Mense wat nie wyn drink nie, omdat hulle nie van die smaak hou nie, het nog net nie die regte wyn geproe nie. Suid- Afrika is bederf met ’n klomp variëteite in verskillende style teen verskillende pryse, so daar is beslis iets vir almal!
16. Waarvan droom jy vir die toekoms?
Dat wingerdboere ’n bestaan kan maak sonder om ons land se oudste wingerde te moet uittrek en te vervang met oorproduksie-variëteite of selfs net met ander produksie soos vrugteboorde.
17. As jy nie wynmaker geword het nie, watter ander beroep sou jy graag wou volg?
Grondkundige
18. Wat geniet jy die meeste van jou werk as wynmaker?
Om fisies iets te maak, om te sien hoe ’n wingerdstok deur al sy stadiums gaan om op die einde druiwe te lewer sodat ons daarvan wyn kan maak. Dis ’n nederige werk.
19. Wat is jou gunstelingwyn en hoekom is dit spesiaal?
Dit verander weekliks, ek probeer soveel wyn moontlik te proe en meer te leer. Een van my mees onlangse gunstelinge is ’n Rhone-styl rooiversnit, Savage, gemaak deur Duncun Savage. Ek is ook mal oor Kloovenburg Shiraz 2011.
SOURCES
Verskaf