As jy ooit by die ligtoring by Doringbaai aan die Weskus gaan draai, gaan loer by die unieke wynkelder, Fryer’s Cove, daar op die kaai in. Hier is kuiers saam met die wingerdboukundige en assistent-wynmaker, Jan Ponk, legendaries.
Maryke Roberts
Die kelder is deel van die eerste kuiernaweek in die Namakwa/Weskus hierdie Erfenisnaweek, waar besoekers wyne en kos uit die streek kan proe, en eerstehands kan leer hoe om piekel-uie te maak; filet met murg te stop en daar op die kaai snoek te vlek – en nadat dit gebraai is, met soetpatat te eet.
Wynand Hamman is Fryer’s Cove se keldermeester, wat voorheen wynmaker by die historiese Lanzerac op Stellenbosch was.
Jan Ponk het by Elsenburg studeer en hoewel sy belangstelling meer by boerdery en wingerdbou lê, het hy gou besef dat indien hy wynmaak studeer, dit ’n baie goeie geleentheid sou wees om waarde tot sy produk toe te voeg. Sy wynmaak by Fryer’s Cove is ’n droom wat waar geword het, maar sy brood en botter is die familieplaas op Vredendal, waar hy en sy vrou, Rensk, en drie seuns, JG, Vorster en Erik, woon.
Hoe lank is jy wynmaker by Fryer’s Cove en aan wie behoort die plaas en kelder?
Ek is die afgelope 15 jaar hier. Die plaas en kelder behoort aan Fryer’s Cove Pty Ltd met die aandeelhouers Jan Ponk Trust, Wynand Hamman en JH Laubscher Broers.
Hoekom is SA wyne volgens jou die beste in die wêreld?
Ons het baie uitdagings om te bowe te kom, soos die wisselkoers, maar ten spyte daarvan bly SA wynmakers en wingerdboukundiges toegewyd om altyd net die beste wyne te maak.
Wat was jou drome toe jy daar begin het en hoe ver het jy gevorder met alles wat jy beplan het?
Ek wou eendag in ’n unieke terroir-wingerd plant en wyn daarvan maak, met spesifieke verwysing na ’n koel produksiegebied. Die wingerd by Strandfontein het in 1999 ’n realiteit geword en die eerste kommersiële wyn is in 2002 geproduseer.
Hoe voel jy jeens wynkompetisies?
Dit is goed om jouself van tyd tot tyd teen ander mededingers te meet.
Wat was sover jou grootste hoogtepunt as wynmaker?
Dit was in 2005 toe die Bamboesbay Sauvignon Blanc vyf sterre in die destydse Wine magazine ontvang het.
Wat pla jou van die wynbedryf en die beeld wat dit na verbruikers toe uitdra?
Die feit dat daar so baie nuwe toetreders tot die mark is wat dink dat as hulle ’n wyn maak, dit maklik sal verkoop. Wynmaak gaan nie oor hoeveel geld jy het nie; daar moet absolute passie vir die produk wees.
Watter leemte sien jy in die manier hoe wyn aan verbruikers bemark word?
Wyn word soms nie verkoop volgens die kwaliteit daarvan nie, maar volgens sy prys. Dit veroorsaak geweldige pryskompetisie, veral in die goedkoper mark.
Hoe belangrik is wynskoue in die bemarking van Fryer’s Cove se wyne?
Blootstelling is baie belangrik, asook persoonlike kontak met kliënte. In ons geval, wat ’n baie klein produsent is, is wynskoue soms baie duur en daarom werk dit goed waar ons ook kan wyn verkoop om van ons kostes te verhaal, soos byvoorbeeld by kos- en wynfeeste of hierdie Erfenisnaweek waarna ons nou so uitsien.
Wat is jou beste bemarkingsmiddel?
Die Fryer’s Cove-storie wat vertel van die unieke terroir van waar die wyn kom en dan die bypassende kwaliteit om daarvan te getuig.
Wat is jou mooiste/mees romantiese herinnering aan wyn?
Daar is so baie, maar niks is beter as wyn, kreef en vuur op ’n Weskus-strand nie.
Wat is die grootste fout wat verbruikers tuis maak met die a. gooi; b. stoor of berging; c. pasmaats met kos van wyn?
Hulle drink a. wyn in ’n verkeerde glas, b. stoor dit in te warm temperature, c. die regte kos moet vir die regte wyn gekies word.
Wat is die een ding van die wynmaakproses wat min mense weet?
Wyngeure is afkomstig van die druif en word nie tot die wyn toegevoeg nie.
Wat is die een groot wanpersepsie oor wyn wat algemeen as feit voorgehou word?
Dat duurder wyn beter wyn is.
As jy nie wynmaker geword het nie, watter ander beroep sou jy graag wou volg?
Ek sou ’n ingenieur wou wees.
Hoe ontspan julle as gesin saam?
Ontspan? Dis nou ’n grappie! Wanneer ons die geleentheid het, toer ons graag, maar andersins is die heerlikste ontspanning ’n lekker braai.
Vertel van jou troeteldiere?
Ek het twee swart labradors, Fatso en Jessie. Sover moontlik gaan hulle oral saam en slaap tot saans by ons in die kamer.
Wat is jou gunstelingwyn en hoekom is dit spesiaal?
Ek het nie regtig gunstelinge nie, elke wyn word elke keer op sy eie beoordeel, maar ek verkies droë wit. As ek iets moet uitsonder, sal dit van my eie wyn die Bamboesbay Sauvignon Blanc wees. Van iemand anders s’n, is dit Dawid Nieuwoudt se Ghost Corner Sauvignon Blanc.
Het jy ’n gunstelinghoekie op die plaas waar jy heengaan vir stilte of as jy moet dink oor groot besluite?
As ek tyd het, gaan sit ek in ons wildkamp se lapa.
Reis jy baie om jou wyn bekend te stel en indien wel, waar is jou gunstelingbestemming?
Ek sou graag meer wou reis, maar omdat Fryer’s Cove baie klein is, moet ons maar ons somme fyn maak. My gunstelingbestemming vir wynbemarking is Europa.
Wat geniet jy die meeste van jou werk as wynmaker?
Om te sien hoe die druiwe wat ons produseer, ontwikkel in iets wat getuig van waar dit kom.
• Loer by fryerscove.co.za vir meer inligting oor die kelder en by www.namaquawestcoast.com vir meer inligting oor die program vir die Erfenisnaweek.
SOURCES
Verskaf