Henry Kotzé is die afgelope sewe jaar keldermeester by Morgenster Wyn- en Olyflandgoed op Somerset-Wes. Hy was voorheen keldermeester by Eikendal Landgoed en sê vandat hy kan onthou, wou hy graag ‘n werk doen wat nie verg dat hy heeldag agter ‘n lessenaar sit nie.
Maryke Roberts
Sy eerste droomwerk as kind was natuurbewaarder; toe marienebioloog, maar deur omstandighede het hy – genadiglik – wynmaker geword.
Morgenster was altyd ‘n droom. Die terroir (klimaat en grond-aspekte van die ligging van die wingerde)was en is steeds vir hom een van die beste areas om uitstaande wyn te kan maak. Henry en sy vrou, Riëtte, woon op Somerset-Wes met hul twee kinders, Christian (12) en Jani (10).
Waar kom jou belangstelling in wynmaak vandaan?
Meestal van my ouers wat van kleins af al vir my blootstelling aan verskillende wyn en -style gegee het. My pa was ‘n hotel-eienaar in Stutterheim en het self ‘n liefde daarvoor gehad, met ou Nederburg Veilingwyne in agterste hoekies van sy versameling. Toe ek 12 was, het ons verhuis van die Oos-Kaap tot in die hartjie van die Boland op Stellenbosch. Nou ja toe, daar’s nie meer inspirasie nodig as jy kan grootword tussen die wingerde nie.
Waar het jy studeer?
Ek het BScAgric Wynkunde Spesialiteit studeer by die Universiteit van Stellenbosch.
Wat was jou drome op skool oor die beroep wat jy eendag gaan volg?
Enigiets buitekant! Iets met mikrobiologie en chemie. BSc Agric (Wynkunde Spesialiteit) het al die regte boksies van die begin af afgemerk.
Wat is die mooiste woorde wat jy al rondom wyn en die wynmaakproses gehoor het?
Ek is nie een vir soetsappigheid nie, maar dié ou Franse gesegde vat wyn nogal mooi saam: “In water one sees one’s own face; but in wine, one beholds the heart of another”.
Wat is vir jou die mooiste eienskap van wyn?
Die feit dat dit ‘n natuurlike, lewende produk bly.
Hoe voel jy oor die plaas se beeld onder die publiek?
Baie goed! Die Morgenster-handelsmerk dwing baie respek af, en dit bly ‘n groot eer om daarmee geassosieer te wees.
Wat is jou gevoel oor wynkompetisies en neem julle gereeld deel?
Ons neem baie selde deel aan enige kompetisies. Ek dink kompetisies is ‘n fantastiese bemarkingshulpmiddel, veral vir handelsmerke wat nog nie so goed bekend is nie, maar vir ons eie doeleindes werk ons eerder daaraan om ons eie kwaliteit jaar op jaar te verbeter.
Wat is die beste raad wat jy al as wynmaker ontvang het?
‘n Wynmaker moet geduldig wees; dit tesame met ‘n baie fyn oog vir detail. Ek probeer dit nog elke dag toepas….
Wat is die uitdagings om in 2016 wynmaker in Suid-Afrika te wees?
Die grootste uitdaging vir almal, in my opinie, is om goeie wyn te maak waarvoor kliënte nie sal skroom om geld uit te gee nie. Dit gaan maar finansieel knap oral in die wêreld, en as jy ‘n gefokusde mark het wat jou wyne sien as essensieel en nie as ‘n luukse nie, dan is ‘n groot deel van daardie uitdaging oorwin.
Wat was sover jou persoonlike grootste uitdaging as wynmaker?
Om die druiwe wat ek van hierdie 30ha grond op die Schapenberg kry, tot sy volle reg in die bottel te bring. Dit is elke jaar se uitdaging en verskil elke jaar op soveel vlakke.
Waaroor is jy besonder trots in jou loopbaan?
Ek is trots om te wees waar ek nou is. Om elke dag net geduldig te staan en te doen waarvoor ek lief is.
Watter leemte sien jy in die manier hoe wyn aan verbruikers bemark word?
As gevolg van die ongelooflike aantal handelsmerke deesdae, raak dit al hoe moeiliker vir die verbruiker om die regte besluit te maak oor wat hulle smaak (en sak) gaan pas. Ek dink dis waar kompetisies voordelig is (jy weet dis goeie kwaliteit wyn in die bottel omdat ‘n paneel fynproewers so sê), maar ook nadelig kan wees (daai fynproewers op die paneel gee amper uitsluitlik medaljes vir ‘n spesifieke styl wat nie vir jou lekker is nie). Daar is nie juis ‘n doelgerigte manier om die verbruiker meer in te lig oor die beskikbare wynstyle van jou spesifieke handelsmerk, anders om hom/haar te laat proe nie. Die verbruiker het die hef in die hand. Hoe meer hulle wynproeë bywoon, hoe meer selfvertroue gaan hulle hê om te staan by die style waarvan hulle hou, en gaan hulle aanhangers word van handelsmerke wat daardie style vir hulle kan produseer.
Wat frustreer jou van SA wyndrinkers?
Daar is so ‘n ongelooflike verskeidenheid wynsoorte in Suid Afrika. Ek voel partymaal mense is bang om uit hul gemaksone te gaan en iets te kies wat hulle nie ken nie. Nebbiolo en Sangiovese, twee wêreldberoemde Italiaanse druifsoorte word ook in Suid Afrika geproduseer, maar kry nie aftrek nie, meestal omdat die verbruiker nie gemaklik genoeg daarmee is nie.
Wat is die een ding van die wynmaakproses wat min mense weet?
Dit is ‘n baie natuurlike proses. Daar mag geen onnatuurlike byvoegings wees nie, anders is dit nie meer ‘n natuurlike produk nie. Maar wat van die preserveermiddel?, hoor ek mense vra. SO2 is self ook ‘n natuurlike produk van gisting. Tydens fermentasie word dit as ‘n byproduk geproduseer. Sulfiede is deel van wyn, met baie lae toegelate konsentrasies. Produkte soos sappe en droë vrugte het partykeer 10 keer meer SO2 as wyn.
Wat geniet jy die meeste van jou werk as wynmaker?
Om interaksie met die natuur te hê. Elke jaar moet jy alle fasette van die seisoen in ag neem om ‘n besluit te maak van hoe jy die oesjaar gaan benader. Dit laat jou besef hoe intens afhanklik ons van iets só onvoorspelbaar soos die weer is. Elke jaar is ‘n nuwe, anderster uitdaging.
Wat is jou gunstelingwyn en hoekom is dit spesiaal?
Dit sal maar die 2010 Morgenster Reserve wees. Dit was my eerste volle jaar van druiwe tot bottel by Morgenster, en nogal nie ‘n slegte jaar nie.
Watter wenke het jy vir mense wat bang is om met nuwe wyne te eksperimenteer?
Knyp oë toe en probeer dit. ‘n Wynmaker sal nie iets in die bottel sit as hy nie dink dit is goed genoeg nie.
Wie is jou wynmaak-helde en na wie gaan jy vir raad?
Ek het ongelooflike hoë agting en respek vir die legendes van die bedryf. Bedryfsleiers en kollegas soos Neil Ellis, Etienne le Riche, Duimpie Bayly, Jan Boland Coetzee – vir seker helde van die hele bedryf, nie net myne nie. As ek vasdraai met iets, dan weet ek ek sal altyd by my buurplaaskollega, André van Rensburg by Vergelegen, kan aanklop. Altyd verwelkomend, reg met goeie raad.
Waarvan droom jy vir die toekoms?
Vir my en Morgenster is die daadwerklike toekoms die hede. Maak seker dat jy vandag jou beste doen, en dan sal die toekoms nie net vir homself sorg nie, maar goeie dinge vir jou inhou, en selfs jou kosbaarste drome bewaarheid en meer.
SOURCES
verskaf