Maryke Roberts
Guy Webber van Stellenzicht teen die hange van die Helderberge is tans besig met sy 18de oes op die plaas. Hy het in 1988 sy diploma by die Elsenburg Landboukollege voltooi. Ná sy tyd as tegniese assistent-leerling by Gilbey’s in Stellenbosch, slyp hy die volgende 6 jaar sy vaardighede as wynmaker by verskeie kelders in die wynlande. Hy het in 1998 as wynmaker by Stellenzicht Vineyards begin en met ‘n persoonlike vyf ABSA Top 10-toekennings op sy kerfstok, word Guy as een van Suid-Afrika se voorste Pinotage-meesters gereken.
Hy beskou balans as die belangrikste element in ‘n goeie wyn en meen dat die doelwit altyd moet wees om “goeie wyn in die bottel te plaas en tesame daarmee vir soveel moontlike mense die geleentheid te bied om hierdie geskenk van die natuur te kan geniet”.
Hoe het jou belangstelling in wynmaak begin?
Ek het van druiwe begin notisie neem toe ons in Bloemfontein gewoon het en ek as tiener ons pergola se druiwe vir vars sap gepars het. Dit het later in ‘n fassinasie met die gistingsproses ontwikkel en ek het my eerste eksperimentele wyn gemaak toe ek in Pretoria op hoërskool was. Ek het “wyne” gemaak en gebottel van enigiets onder die son: van lemoene tot roosblare en koffiebone!
Wou jy altyd wynmaker in Suid-Afrika word of het jy gedroom van oorsee wees?
Ek het regtig geen begeerte om enige plek anders in die wêreld as net hier in Suid-Afrika te wees nie.
Hoe voel jy oor die plaas se beeld onder die publiek?
Ek glo Stellenzicht het ‘n baie goeie beeld onder verbruikers wat ons wyne ken. Dis nie een van die ooglopende handelsmerke wat heeldag vra om aandag nie, maar dis sekerlik ‘n handelsmerk wat vir sy kwaliteit-wyne, maar ook vir die waarde, gerespekteer word.
Wat is vir jou die mooiste eienskap van wyn?
Wyn is net soos mense – elkeen is anders; hy het sy buie en streke; gaan deur geboorte, jeug, volwassenheid en dood; en is geliefd deur sommige en ongeliefd deur ander.
Wat was sover jou grootste uitdaging as wynmaker?
Om nie meegesleur te word in die bysake rondom wyn nie; om getrou te bly aan die produk en steeds ‘n balans tussen wynmaak en die res van die lewe te behou.
Waaroor is jy besonder trots in jou loopbaan?
Waarskynlik dat ek sover in die lewe gekom het sonder om te veel mense boos te maak!
Wat is die uitdagings om in 2016 ‘n wynmaker te wees?
Dis nie veel anders as in ander jare nie, maar ek moet byvoeg dat die kommersiële sy dreig om die oorhand te kry.
Wat frustreer jou van SA wyndrinkers?
Dis nie die wyndrinkers wat my frustreer nie, dis die nie-wyndrinkers!
Watter wenke het jy vir mense wat bang is om met nuwe wyne te eksperimenteer?
Wat het jy om te verloor?
Met watter wyn vier jy groot geleenthede in jou lewe?
Gewoonlik by geleenthede met spesiale betekenis, selfs al is dit nie die perfekte wyn vir die geleentheid nie. So het ek en my vrou by een huweliksherdenking ‘n bottel vonkelwyn wat ek in my jeug gedrink het, oopgemaak, maar toe is daar geen borrels oor nie. Dit het nie saakgemaak nie, want die oomblik was steeds spesiaal.
Wat is die grootste les wat die natuur jou al geleer het?
Moenie te groot vir jou skoene óf te slim word nie.
Wat is die mooiste woorde wat jy al rondom wyn en die wynmaakproses gehoor het?
“Dit smaak heerlik. Kan ek ‘n kis koop?” Ek kry elke keer hoendervleis as ek dit hoor.
Wie is jou wynmaak-helde en na wie gaan jy vir raad?
Ek het so baie mense na wie ek opkyk en by wie ek leer en raadvra, maar ek dink Neil Ellis is waarskynlik die man wat ek die meeste aanhaal.
SOURCES
verskaf