Gordon Newton Johnson is ’n gesoute wynmaker en werk sedert 1999 ten nouste saam met sy vrou, Nadia, by Newton Johnson Wines in die Bo-Hemel-en-Aarde Vallei naby Hermanus.
Maryke Roberts
Hy het in 2014 lid van die Kaapse Wynmakersgilde geword.
Newton Johnson Vineyards se Family Vineyards Pinot Noir 2014 het 5 sterre in die Platter-wyngids 2016 gekry, ook die Newton Johnson Vineyards Resonance 2014, Newton Johnson Vineyards Family Vineyards Pinot Noir 2014 en Newton Johnson Vineyards Family Vineyards Chardonnay 2014.
Hy het nie wynmaak nie, maar ekonomie studeer, maar het homself die fynere kunsies van wynmaak met baie jare se ondervinding geleer. Hy het onder meer by kelders in Frankryk, Nieu-Seeland en Kalifornië gewerk. Sy groot liefde is pinot noir Platter se Rooiwyn van die Jaar 2014, 7 Platter 5 sterre asook 1 5 ster vir chardonnay
Hoe het jou belangstelling in wynmaak begin?
Ons is ‘n familiebesigheid wat ons in 1996 begin het, so dit is amper 20 jaar sedert ek as ‘n “nat agter die ore”-laaitie in die kelder begin speel het. My Pa, Dave, is een van die oorspronklike Kaapse Wynmeesters, so die familie is ‘n geruime tyd lank al in die wynkultuur. Ek het eers later op universiteit in wynmaak as ‘n beroep begin belangstel.
Wat was jou drome op skool oor die beroep wat jy eendag gaan volg en hoe ver het jy gevorder met alles wat jy beplan het?
As ek moet eerlik wees, was dit om ‘n professionele branderplankryer te wees. Gedurende my tienerjare was ek permanent op die strand. Snaaks genoeg, besef ek nou op 40 die belangrikheid om aan hierdie branderplank-kultuur vas te klou. Op skool was ek akademies baie goed, maar my passie was altyd in kuns. Wynmaak is net ‘n ander vorm wat ek gekies het.
Wou jy altyd wynmaker in Suid-Afrika word of het jy gedroom van oorsee wees?
Ek dink dit is baie belangrik om jou stukkie grond goed te leer ken. Dit vat jare en ek is bevoorreg om met ‘n kolos van ´n druif soos pinot noir te werk. Niks kom naby hom met sy vermoë om die persoonlikheid van jou plaas in die bottel te kry nie. Ek het nou baie ondervinding van my wingerde wat ek vir niks sal ruil nie. Ek bly droom van pinot noir maak in Boergondië (Frankryk), die mekka van die druif met meer as 1 500 jaar geskiedenis daarin. Hopelik eendag.
Wat is jou gevoel oor wynkompetisies?
Hulle is nooit die finale woord op wyne nie, maar hulle het ‘n rol om te speel om die verbruiker te help kies. Ons verkies om nie aan kompetisies deel te neem nie. Die wyne wat ons produseer, gaan nie oor groot, eensoortige geure nie. Ons stel belang in die tekstuur in jou mond, die identiteit van die wingerd in ons wyn, en die kompleksiteit daarvan. Dit vat tyd in die glas om dit te waardeer, wat die kompetisie-konteks nie toelaat nie. Baie van hierdie fyn deugdes van wyn verloor jy in kompetisies.
Hoe voel jy oor die plaas se beeld onder die publiek?
Dit wat baie lank om ‘n naam op te bou en ons is bevoorreg om ons naam die laaste paar jaar te vestig as een van die beste produseerders van chardonnay en pinot noir in die land. Die werk is nooit klaar nie en ons probeer aanhoudend om die drempelpunt hoër te druk. Ons bly ‘n klein familiebesigheid wat ons ‘n nis-indentiteit gee.
Wanneer geniet jy jou wyn die meeste?
Saam met my vrou Nadia (ons maak saam die wyn) met ons voete voor die kaggel. Daar kom die beste idees uit.
Wat was sover jou grootste uitdaging as wynmaker?
Pinot noir, punt. Dit is amper om ‘n eiesoortige taal te probeer leer ken, en die dag dat jy begin verstaan, word ‘n hele kaleidoskoop van sensasies aan jou voorgestel.
Waaroor is jy besonder trots in jou loopbaan?
Dat ons as ‘n familie sonder enige hulp ‘n sukses uit ons wyn kon maak. Ons het al ons energie en hulpbronne in die wingerde en kelder belê vir geen ander saak nie as die wyn. Ons het nooit ‘n voorafgaande idee gehad van hoe die wyn moet wees nie en die hele reis het ‘n baie natuurlike pad gevolg.
Wat is die uitdagings om saam met jou vrou te werk?
Ja, ons kry hierdie een nogals baie (glimlag ek nou). Hoe ons die wyne sien, is eenders en ons teer baie op mekaar se idees. Ek vertrou geen ander persoon as sy met die wyne nie. Natuurlik is daar emosie betrokke as jy met jou eggenote werk, maar jy leer om die negatiewe goed te los waar dit hoort, en gebruik die positiewe emosie, want dit is onverbeterlik. Die uitdaging is meestal om ons persoonlike lewens apart te hou van die professionele. Dis moeilik, want baie keer is ons gesprekke oor wyn nie vir ons werk nie. Soos wyn, raak ons beter met ouderdom.
Watter leemte sien jy in die manier hoe wyn aan verbruikers bemark word?
Ek wil die hele stereotipe afbreek dat premium (en gevolglik duur) wyne is net vir sekere mense. Dit gaan oor hoeveel waarde jy in daardie bottel sien. Dit is meer as net ‘n bottel drank.
Wat is jou mooiste/mees romantiese herinnering aan wyn?
Ek en Nadia in die kroeg van ‘n knus Skotse gastehuis met ‘n 1916 Sauternes (Franse edel laatoes) in ons glase.
Wat is die een ding van die wynmaakproses wat min mense weet?
‘n Wingerd het hope meer intelligensie as die wynmaker. Die beste wyne kom van waar die wynmaker niks hoef te doen nie. As ‘n wynmaker te veel inmeng, dan word die wyn anoniem.
As jy nie wynmaker geword het nie, watter ander beroep sou jy graag wou volg?
Ek weet rêrig nie. Ek kan nie myself voorstel in ‘n pak en das nie, en definitief nie in die stad nie. Ek het nog nooit in my lewe permanent vir enigiemand as werknemer gewerk nie, so ek sal dalk ‘n probleem met gesag hê. Kunstenaar miskien? Hopelik kry ek eendag weer tyd om te teken. Ek is ook mal oor geskiedenis, so dalk argeologie?
Wat geniet jy die meeste van jou werk as wynmaker?
Wyn is ‘n uitsonderlike uitdrukking van die natuur en wynmakers kry die eer om dit in ‘n bottel te berg.
Het jy ‘n gunstelinghoekie op die plaas waar jy heengaan vir stilte of as jy moet dink oor groot besluite?
Ek het ‘n verwantskap met elke wingerd op die plaas. Elkeen dryf verskeie gevoelens en idees as jy daar stap, en is die ideale geleentheid om wynbesluite te maak. Groot besluite los ek vir die see. Die see genees als.
Reis jy baie om jou wyn bekend te stel en indien wel, waar is jou gunsteling-bestemming?
Enige plek waar daar goeie branders is, waar jy surf en wyn kan meng. Natuurlik is daar ´n bietjie kompetisie vir plekke soos Réunion, Mauritius, en Maledive, as daar ‘n bemarkingsgeleentheid ontstaan, alhoewel elke land en bestemming binne SA het sy eie unieke insigte oor wyn wat die hele wyntoneel kleur gee. Mense verskil in hul koskultuur en lewenswyse en dit is altyd interessant om hierdie interaksie met mense te deel.
Watter wenke het jy vir mense wat bang is om met nuwe wyne te eksperimenteer?
Julle mis uit! Daar is omtrent 10 000 verskillende wyndruifsoorte in die wêreld en die geleentheid om met jou eie wynpersoonlikheid te eksperimenteer en verras. Begin klein met ‘n goedkoper, meer kommersiële weergawe van die wyn. Wie weet, as jy vertroud raak daarmee maak dit dalk ‘n hele ander wêreld vir jou oop.
Wat is die mooiste woorde wat jy al rondom wyn en die wynmaakproses gehoor het?
Een van my gunsteling-aanhalings is: “Burgundy is like the girl from Bennington who made me miserable my sophomore year at Williams College: She keeps breaking my heart, but I’m obsessed, crazed with lust, spending ridiculous amounts of money on the object of my desire. Because when she’s good, she’s very, very good.” – Jay McInerney, The Wall Street Journal
Wie is jou wynmaak-helde en na wie gaan jy vir raad?
Dominique Lafon (chardonnay), en Christophe Roumier (pinot noir). Ek vra menige wynmakers vir raad, maar ek hou in my agterkop dat nie als op my plaas van toepassing is nie, of in my streek nie. Die beste raad is jou ervaring van waar jy boer. Daar is soveel faktore betrokke en elke wingerd praat sy eie taal, sodat jy aan die einde die beste persoon is om dit te ontsyfer.
Waarvan droom jy vir die toekoms?
Om eendag ´n gesonde ou wingerd aan die volgende generasie oor te gee. Ek sal eers sy volle potensiaal kan waardeer as ek oud en grys is.
SOURCES
verskaf