Elunda Basson is die afgelope agt jaar keldermeester by Die Huis van J.C. Le Roux in die Devonvallei buite Stellenbosch en voor die tyd was sy vir ’n hele paar jaar die rooiwynmaker by Nederburg. Haar naam is sinoniem met Méthode Cap Classique (MCC) en sy palm gereeld pryse in.
Maryke Roberts
By die 2015 Amorim Cap Classique-uitdaging – die enigste kompetisie wat eksklusief aan die Cap Classique-kategorie gewy is en deur die Portugal-gebaseerde kurkmaatskappy Amorim geborg word – het die trofee vir Beste Museumklas-Cap Classique vanjaar toegeken aan Elunda se Desiderius 2003, ‘n ikoonwyn van Distell se Pongrácz-handelsmerk, wat ook ‘n versnit is van chardonnay en pinot noir.
Haar toonaangewende cuvée Scintilla 2008 (wat ook haar gunsteling J.C. Le Roux Méthode Cap Classique is) het goud by die 2014 Internasionale Wine & Spirit Competition in Londen gewen.
Elunda het ervaring by verskeie Franse sjampanje-huise opgedoen en J.C. Le Roux is verlede jaar vir die vierde agtereenvolgende jaar as Suid-Afrika se top-wynhandelsmerk aangewys én het Ikoon-status ontvang in die 2014/2015 Ask Afrika Icon Brand Survey.
Sy het op Stellenbosch studeer, eers aan die Universiteit en toe by Elsenburg. Sy het altyd geweet haar passie lê by boerdery, maar sy het eers op Stellenbosch besef sy wil in wynkunde spesialiseer.
Met watter wyn gaan jy vanjaar op Kersdag ontspan?
Ons kamp vanjaar by die see. Daar is niks lekkerder as om op Kersdag ‘n krefie op die kole te sit en ‘n heerlike koue bottle Scintilla saam met vriende en familie te skink nie!
Watter wenke het jy vir die feesseisoen – dalk ander maniere om wyn te benader of geniet?
Wees ´n bietjie avontuurlustig. Geniet verskillende wyne saam met verskillende disse. Die lewe is te kort om heeldag aan een bottel wyn te teug. Lees ´n bietjie en loer op die internet na wonderlike idees van hoe om elke gang af te wissel met ‘n wyn in ´n ander styl. Daar is ‘n hele wêreld van smaak-kombinasies om te ontdek wanneer ´n mens begin verstaan hoe die aromas en geure van wyn met kos gepasmaat kan word.
Wat was jou drome toe jy as jy wynmaker begin het en hoe ver het jy gevorder met alles wat jy beplan het?
Toe ek by Rickety Bridge begin werk het, was dit nie ‘n permanente pos nie, dus was my eerste mikpunt om goed genoeg te wees in wat ek doen, dat hulle my ‘n permanente pos sal aanbied! Aan die begin dink ek meet ‘n mens jou eie vordering en sukses aan die toekennings wat jou wyne wen, want dit is tog ‘n maatstaf van kwaliteit. Soos tyd verloop, leer jy dat dit maar ‘n klein deeltjie uitmaak van alles, en dat goeie verkope en gelukkige verbruikers wat selfs in ‘n sukkelende ekonomie steeds jou produk koop en ondersteun, selfs ‘n groter bewys van sukses is.
Ek het tot dusver ‘n droomloopbaan gehad en dalk baie meer bereik as wat ek ooit kon dink! Maar ek hou nooit op om nuwe mikpunte vir myself te stel nie. Dit hou my gemotiveerd en gedrewe en vuur my aan om altyd nog meer te probeer leer oor wat ek doen.
Wat is die maklikste manier om die verskil tussen MCC en vonkelwyn te verduidelik?
Vonkelwyn se gas word bygevoeg, MCC se gas word self gemaak as byproduk van die 2de gisting in die bottel.
Wat is die grootste verskil tussen wynmaker en MCC-maker wees?
Daar is nie groot verskille nie, behalwe die tweede gisting in die bottel wat uniek is. Daar is steeds riglyne en belangrike beginsels wat uit ‘n wynmaak-perspektief onveranderd is, maar daarmee saam moet jy kleiner details en kunsies aanleer wanneer die MCC-gogga jou behoorlik gebyt het!
Wat is die verskil tussen MCC en Franse sjampanje?
Champagne is die handelsmerk wat behoort aan alle vonkelwyn wat gemaak word in die provinsie van Champagne in Frankryk.
MCC verwys na alle vonkelwyn van Suid-Afrika wat met dieselfde metode gemaak is. (Méthode Cap Classique).
Wat is jou gevoel oor wynkompetisies?
Kompetisies is belangrik. Dit is ‘n manier om erkenning te gee aan wyne wat bo ander uitstaan. Ek dink egter verbruikers moet seker maak dat hulle die paneel, en dit waarvoor geproe was op die dag, effens ontleed en seker maak dat hulle nie net blindelings die uitslae van ‘n kompetisie aansien as die begin en die einde nie. Dis ‘n goeie beginpunt, maar uiteindelik moet verbruikers hul eie smaak en voorkeure ook verstaan en vertrou.
Hoe voel jy oor toekennings?
Ek is oor die algemeen baie krities op myself. Maar as die toekenning uit ‘n betroubare kredietwaardige oord kom, is dit altyd lekker.
Dis feesseisoen, watter raad het jy vir lesers wat MCC wil koop, maar nie weet wat om te kies nie?
Soms is die genot daarin om juis ietsie te proe wat jy nie ken nie! Maar my raad is altyd, neem ‘n paar oomblikke en lees die inligting op die etiket.
Daar is oor die algemeen baie inligting wat mooi beskryf wat jy van die wyn. Indien moontlik probeer iewers MCC koop waar daar kundige persone is om ´n bietjie hulp aan verbruikers te verleen. Onthou Brut op die etiket beteken die MCC gaan droog wees (en die meeste is maar altyd Brut).
En ondersteun asseblief Suid-Afrikaanse produkte! MCC hoef vir geen oomblik terug te staan vir Franse sjampanje nie!
Wat is die een ding wat mense nie oor MCC en vonkelwyn weet nie?
Baie min verbruikers besef dat MCC se borrels tydens die tweede gisting in die bottel gevorm word. Hierdie tweede gisting in die bottel tesame met die verlengde tyd op die gismoer, is wat die kenmerkende smaak en aroma gee aan MCC. Die styl verskil dus totaal van gewone vonkelwyne wat geurig en vars en meestal effe soeter as MCC is.
Watter MCC pas beter by watter disse?
Dis ‘n redelik ingewikkelde vraag. ´n Mens moet begin deur seker te maak jy verstaan die basiese aromas en geure van MCC, sodat jy dit by die regte disse kan pas. MCC is oor die algemeen droog en het karaktertrekke wat beskryf kan word as neutagtig, beskuitjies, soms gebakte brood, soms sitrus. ‘n Mens moet dit dus in gedagte hou sodat jy dit nie saam met ‘n dis bedien waarvan die geure die vonkelwyn heeltemal sal domineer nie. Die kos en die wyn moet mekaar komplementeer, anders kan dit ‘n fiasko wees.
Wat is die een groot wanpersepsie oor MCC of vonkelwyn wat algemeen as feit voorgehou word?
Sonder twyfel die feit dat mense dink ´n mens moet vonkelwyn net gebruik by feesvierings en spesiale geleenthede! Ons moet dit elke dag gebruik; in alles ‘n geleentheid vind om vonkel toe te voeg. Ons moet ook meer speels raak met die disse waarby ons MCC geniet. Dit is verbysterend met hoeveel disse MCC gepaar kan word. Vonkelwyn maak enige geleentheid iets besonders.
Wat was jou grootste hoogtepunt as wynmaker?
Ek het baie hoogtepunte, kleintjies en grotes! Elke nuwe parsseisoen is ‘n hoogtepunt. Elke nuwe oesjaar in die bottel wat suksesvol klaar gis, is ‘n baie groot hoogtepunt. Elke geleentheid waar iemand my wyne oopmaak en saam met spesiale mense geniet, is die heel grootste hoogtepunt.
Watter leemte sien jy in die manier hoe wyn aan verbruikers bemark word?
Ek dink soms ons kommunikeerop te ingewikkelde wyses met verbruikers. Ek dink verbruikers het eenvoudige, persoonlike redes hoekom hulle van ‘n wyn hou, en dis nie nodig om met ingewikkelde terme en beskrywings te kommunikeer nie.
Wat is jou mooiste of mees romantiese herinnering aan wyn?
Die eerste keer toe ek as Elsenburg-student oorsee gereis het en die wyne van Toskane in Italië ontdek het, bly ‘n baie besonderse herinnering. Dit het definitief bygedra tot my passie vir my beroep, maar ook my lewensuitkyk en my liefde vir reis. Ek kan my direk vereenselwig met die wyse waarop die mense van die suide hul kos en wyn geniet en hoe integraal dit tot hulle lewensgenot is.
As jy nie wynmaker geword het nie, watter ander beroep sou jy graag wou volg?
Diere, diere diere! Baie lief vir diere! Natuurbewaring dalk of marine-bioloog.
Het jy ‘n gunstelinghoekie op die plaas waar jy heengaan vir stilte of as jy moet dink oor groot besluite?
Ja ek het nogal. Voor my kantoor is ‘n blokkie pinot noir. Wanneer dinge bietjie te veel raak, stap ek sommer in die wingerd in en loop so bietjie op en af in die rye. Die son op my skouers en die ritsel van die blare in die wingerd maak my rustig en gee my vrede.
Watter wenke het jy vir mense wat bang is om met nuwe wyne te eksperimenteer?
Doen net so ´n klein bietjie moeite om ietsie meer oor die wyn uit te vind. Daar is vandag so baie bronne beskikbaar wat vinnig en maklik vir ´n mens inligting kan gee oor ‘n wyn en selfs proenotas oor ander mense se ervarings van die wyn. Probeer die wyn saam met kos bedien wat daarby pas, en daar is eintlik geen manier dat jy dit nie sal geniet nie. Die regte wyn saam met die regte kos maak enige geleentheid ‘n wenner.
Waar sien jy jouself oor 20 jaar?
Nee wat, 20 jaar is hopeloos te ver weg! Ek droom nie sover vooruit nie. Ek hoop egter dat ek oor 20 jaar sal kan terugkyk op ‘n loopbaan wat met passie en integriteit geleef was. Ek hoop dat wynmakers in die bedryf my met respek sal onthou. En ek hoop dat ek op ‘n klein wyse ‘n bydrae sou gelewer het, om MCC te bevorder selfs buite die grense van Suid-Afrika.
Waarvan droom jy vir die toekoms?
Daar is nog so baie om oor MCC en vonkelwyn te leer. Ek wil graag nog meer weet. En graag maniere vind om my kennis met ander (wynmakers en verbruikers) te deel.
SOURCES
verskaf