Corlea Fourie is sedert 2006 die wynmaker en wingerdbestuurder by die Bosman Family Vineyards buite Wellington. Vroër het sy by Stormhoek gewerk en as konsultant vir Dunstone en Lazanou- organiese wingerde.
Maryke Roberts
Sy sê wyn het haar nog altyd fassineer omdat vloeistof wat van druiwe gemaak word, soos aarbeie, sjokolade of peper kan smaak. Sy wou weet hoe dit moontlik is en het boonop op skool ook van wetenskap en biologie gehou, maar geweet sy sou nie van laboratoriumwerk hou nie. Sy het toe by Stellenbosch gaan swot en wynmaker geword.
Sy beskou die ontmoeting met haar man, Bertus, dosent, konsultant, agent en die wynmaker vir die Barista handelsmerk, as haar hoogtepunt in haar reis met wyn én as wynmaker. As deel van haar studies moes sy ‘n oes meemaak. Sy vertel: “Ek het ‘n internskap gekry by ‘n wynlandgoed waar die wynmaker interessante goed met pinotage – en my hart – aangevang het. Aan die einde van daardie jaar is ons twee in daardie selfde kelder getroud en hy is sedertdien my beste vriend en medereisiger op die wynpad.”
Corlea geniet tye saam met Bertus en hul kinders, Nelleke (7), en die tweeling, Mia en Gerhard Louwrens (1).
Hoe het jy by die plaas beland en hoe lank is jy nou daar?
Ek was as konsultant by een van die Bosmans se bure betrokke. Petrus Bosman het in die spesifieke kelder die eerste Bosman Family Vineyards-wyne berei, voordat die ou historiese kelder in 2006 gerestoureeer is. Ek het daar met hom en die wyne kennis gemaak en in 2007 voltyds by die Bosmankelder aangesluit. Vanjaar was my 11de pars saam met die familie.
Woon julle op die plaas?
Ons woon in Wellington. Dit het my hartsplek geword.
Hoekom is SA wyne volgens jou die beste in die wêreld?
Dis divers, vrygewend en raak net al hoe beter. Ons is tans op ‘n opwindende kurwe – waarby die verbruikers net kan baat vind.
Is jy verder in jou loopbaan as wat jy op skool voor kon hoop?
Op skool het ek geen benul gehad wat wynmaak sou beteken nie. Dit het my verwagtinge oortref. Dit het ook my oë oopgemaak oor hoe geïnkorporeerd ‘n loopbaan en ‘n lewenstyl kan wees.
Wat is die opwindendste ding van wynmaak?
Jou kantoor lyk elke dag anders. Van wingerde tot kelders, restaurante tot besoeke aan supermarkte se wynwinkelrak – dis nou voordat jy die land se grense oorsteek. Ons werk in ‘n ongelooflik dinamiese en diverse bedryf.
Hoe voel jy oor wynkompetisies en neem julle gereeld deel?
Ons belyn ons deelname met hoe ons die kompetisie se invloed in die markte ervaar waar ons ‘n inpak wil maak. Sommige van ons kliënte vereis deelname aan internasionale kompetisies in die buiteland.
Wat is die mooiste eienskap van wyn?
Dat dit ‘n foto of uitdrukking is van elke liewe element waarmee daardie wingerd te doene gehad het – in ‘n glas!
Wie beskou jy as wynmaker-mentor?
Ek het verskillende mentors vir verskillende aspekte in my loopbaan. Mense in gasvryheid, sosiale-mediasirkels, arbeidskonsultante, en kollegas by Bosman Family Vineyards self wat op ‘n daaglike basis insette lewer. As ek iemand moet uitsonder is dit egter Loftie Ellis – wynkonsultant en wynvriend van Stellenbosch. Hy het ´n daadwerklike invloed op my wynbereiding gehad en het altyd ‘n vriendelike oor en goeie raad.
Wat is die beste raad wat jy al as wynmaker ontvang het?
Haal asem.
Wanneer geniet jy jou wyn die meeste?
Wanneer die kinders in die bed en my man besig is om aandete voor te berei, na ‘n lang dag. Salig.
Wat was sover jou grootste uitdaging as wynmaker?
Ons werk met ‘n natuurlike produk – uitdagings is daar genoeg.
Waaroor is jy besonder trots in jou loopbaan?
Dat ek werk by ‘n sosiaal- en omgewings-verantwoordelike maatskappy wat suksesvol is. Dit is vir my belangrik.
Glo jy vrouewynmakers het meer uitdagings as hul manlike eweknieë?
In my geval nee. Ek het dit nooit self gevoel nie, maar ek is geseënd met ‘n ongelooflike netwerk wat my ondersteun in wat ek doen.
Wat is die spesiale eienskappe wat ‘n vrouewynmaker na die tafel bring, wat haar manlike eweknieë nie het nie?
Van die einskappe waaraan ‘n mens eerste sou dink, soos ‘n sagter hand, of goeie administrasievaardighede, is eienskappe wat ek ook in van my manlike kollegas herken. Ek is gemaklik met die feit dat die wynmakersberoep nie tot een geslag beperk is of behoort te wees nie.
Wat is volgens jou die grootste uitdagings om in 2016 wynmaker in Suid-Afrika te wees?
Om die geleenthede wat ons nou gegee word, aan te gryp en ten volle te benut.
Watter leemte sien jy in die manier hoe wyn aan verbruikers bemark word?
Soms is daar te veel klem op die kultivar, geskiedenis en tegniese inligting. ‘n Mens wil daardie prentjie van byvoorbeeld hoe lekker ‘n glas rooiwyn langs ‘n heerlike bord kos lyk, in die verbruiker inprent.
Wat is die een ding wat die wynmaakproses wat min mense weet?
Ek wonders soms of mense weet dat dit seisoenaal is. Een maal ‘n jaar, 3 tot 4 maande, en dan is dit verby. Geen towerkraan waar ‘n mens nog kan tap nie. As die pars eers verby is, begin die beplanningsiklus van voor af.
As jy ‘n boodskap vir SA wyndrinkers kan gee, wat sal dit wees?
Verskuif jou grense – ontdek!
Wat is jou gunstelingwyn en hoekom is dit spesiaal?
Die een in my glas. Ek is altyd gereed om die lekkerste wyn nóg te ontdek. Om iets te geniet, gaan oor jou instelling en verwagting.
Het jy ‘n gunstelinghoekie op die plaas waar jy heengaan vir stilte of as jy moet dink oor groot besluite?
Optenhorst, ‘n bosstok- chenin blanc-wingerd in 1952 geplant. Dit is ‘n ongelooflike plek. Die wêreld se probleme is al daar uitgepluis.
Waarvan droom jy vir die toekoms?
Geleenthede vir my kinders.
SOURCES
verskaf