Boets Nel is die eienaar van De Krans wynplaas op Calitzdorp en sy naam en die plaas se naam is al sinoniem met portstyl-wyne van wêreldgehalte.
Maryke Roberts
Hy was vir 20 jaar ook wynmaker, tot hy in 2013 vir Louis van der Riet aangestel het. Boets help nog met versnitte en proeë, maar is nou meer betrokke as die bestuurder van Lanzerac landgoed op Stellenbosch.
Boets het by die Universiteit Stellenbosch Wingerd- en Wynkunde studeer, maar wou eers ’n kernwetenskaplike word. Hy het in sy eerste jaar Wiskunde, Fisika, Chemie en Toegepaste Wiskunde studeer en baie goed gevaar. Hy het in sy tweede jaar omgeskakel na BSc Agric, want hy het gou besef die natuur, grond en wyn is sy eintlike liefde. Hy het nog nooit weer omgekyk nie.
Boets se gunstelingwyn
Hy het in 1997 as Kaapse Wynmeester gekwalifiseer, omdat hy sê dit was vir hom baie belangrik om ’n goeie kennis te kon kry van die wonderlike wêreld van wyn. Boets woon sedert sy geboorte in dieselfde plaashuis op De Krans, waarin sy pa ook gebore is. Hy en sy vrou, Teresa, het twee dogters, Elona (Hesseling) wat in Engeland saam met haar man, Neil woon en Annemi wat in Kaapstad bly. Hulle kry maar min kans om as gesin saam te ontspan, behalwe die einde van die jaar by die see.
Hulle is baie lief vir blinde proeë voor ete en probeer altyd die ander uitoorlê met ’n interessante wyn van ’n interessante plek. Goeie wyn en goeie kos speel ’n baie belangrike rol in hul saamkuier.
Die Nels het drie honde, en hy vertel hulle is eintlik regte huishoenders: ’n Jack Russel (Danny) wat hou van skootsit en bal speel en twee Labradors (Pepsi en Klara), wat graag op die plaas op die bakkie ry.
1. Het jy ’n drinkvoorkeur tussen wit, rooi of MCC?
Ek is lief vir wit (veral versnitte), as gevolg van die Klein Karoo-klimaat. Maar ek is lief vir rooi in die winter voor die kaggel, ook natuurlik port!
2. Wat is jou mooiste wyn-herinnering?
My eerste regte Coq au Vin in ’n restaurant in Sancerre langs die Loire in Frankryk, saam met Teresa 30 jaar gelede.
3. Wat was jou drome toe jy destyds op De Krans begin het en hoe ver het jy gevorder met alles wat jy beplan het?
Ek het nie veel drome gehad toe ek begin het nie. Ek moes tydens my diensplig vyf weke verlof van die weermag kry vir my eerste pars, aangesien my pa skielik oorlede is. So my aanvanklike droom was om te oorleef. Algaande het ons gegroei en dit reggekry om De Krans te vestig as een van die top-porthandelsmerke in Suid-Afrika. Nou werk ons hard aan natuurlike wyne, veral dié van portkultivars.
4. Wat is jou gevoel oor wynkompetisies?
Ek is nie mal daaroor nie, maar dis ongelukkig noodsaaklik om deel te neem om in verbruikers se gedagtes te bly. Dit hang ongelukkig baie af van die betrokke paneel se voorkeure, so dit bly altyd ’n baie subjektiewe besluit. Ek probeer egter nie te veel daaraan dink nie of my te veel aan uitslae steur nie – ek glo in my eie oordeel.
5. Wat was sover jou grootste hoogtepunt as wynmaker?
10 keer 5-ster-porte in ’n ry, in Platter Wyngids van 2015!
6. Watter leemte sien jy in die manier hoe wyn aan verbruikers bemark word?
Ons moet meer maak van die plek, die unieke wyne van jou area en trots wees daarop.
7. Wat pla jou van die wynbedryf?
Die feit dat baie restaurante “lysfooie” verwag om ’n wyn op hul wynlys te sit. Dit gee ’n onregverdige voordeel aan groter rolspelers en haal die interessantheid uit wynlyste.
8. Is verbruikers oningelig oor die verskillende variëteite, style en so meer?
Party is wel, maar daar is baie kundige verbruikers ook. Moet dit ook nooit oorbeklemtoon nie, want tweederdes van alle wyngebruikers is eintlik “lae betrokkenheid”-verbruikers wat nie regtig omgee hoeveel maande die wyn in watter houtvate was of wat die pH van ’n wyn is nie. Hulle wil net die wyn geniet en waardeer vir wat dit is, veral as dit ’n outentieke storie of geskiedenis het.
9. Watter rol speel wynskoue in die bemarking van jou wyn?
’n Redelike groot (té groot) rol. Baie verbruikers soek wyne uit met medaljes daarop, in plaas daarvan om hul eie smaak te vertrou. In die buiteland is dit gelukkig nie so belangrik nie.
10. Wat is jou beste bemarkingsmiddel?
’n Besoek aan De Krans, sy vriendelike mense wat tyd maak vir elke besoeker. Ek is baie geseënd om baie goeie proelokaal-personeel te hê.
11. Wat is vir jou die een enkele faktor wat wyn laat uitstaan as wenner?
Kwaliteit en uniekheid. Die twee loop hand aan hand.
12. Wat is die grootste fout wat verbruikers tuis maak met die bediening en berging van portstyl-wyne?
Baie verbruikers maak ’n bottel Vintage (of erger nog ons vlagskip Cape Vintage Reserve) Port oop, drink ’n paar glasies en bêre dan die bottel in die kas vir volgende winter. Port is soos wyn, dit moet ook maar binne ’n paar dae (maks 2 weke) gedrink word. En dis nie net winter-wyn nie, dis heeljaar lekker.
13. Wat is die een ding oor die wynmaakproses wat min mense weet?
Die feit dat wynmaak eintlik baie laat aande/nagte, bloedsweet, senuwees en soms trane behels; glad nie so romanties soos wat die beroep soms voorgehou word nie.
14. Wat geniet jy die meeste op die plaas?
Die lekkerte om werk toe te stap (50 meter na die kelder) met net tarentale wat jy op pad kry, saans met die honde te gaan stap, om jou eie vrugte (ons het ook appelkose, perskes, pruime, hanepootdruiwe) van die bome en stokke vroegoggend te kan pluk en eet, is sekerlik die grootste voorreg wat daar is.
15. Wanneer geniet jy jou wyn die meeste?
Saam met my familie wat al drie ook my passie vir wyn deel.
15. Waarvan droom jy vir die toekoms?
Vrede en voorspoed vir ons pragtige land en al sy inwoners (mense en ons unieke wildlewe)!
16. As jy nie ’n wynmaker geword het nie, watter ander beroep sou jy graag wou volg?
Natuurbewaarder! Ek kan nie ’n jaar laat verbygaan sonder ten minste een week in die bos of Kalahari nie.
17. Wat geniet jy die meeste van jou werk as wynmaker?
Die versnyding van wyne om iets spesiaals te maak uit ’n aantal boublokke; ook die manipulasie van wingerde (al meer soos ek ouer word) om beter wyne te maak.
18. Wat is jou gunstelingwyn en hoekom is dit spesiaal?
Die De Krans Tritonia. Dis ’n unieke Calitzdorp-versnit van drie Portugese kultivars, iets waaraan ek werk en waaroor ek droom sedert ons eerste droë rooiwyn van Touriga Nacional in 2000 gemaak het.
19. Hoekom is SA wyne volgens jou die beste in die wêreld?
Ons het soveel verskillende grond, klimaatstreke, kundige passievolle wynmakers en dis die resep vir puik wyne.
20. Waar is jou gunstelingbestemming as jy vir wynbemarking moet reis?
Dis deel van jou werk, maar ook maar veeleisend, so ek probeer dit tot ’n minimum beperk. Ek hou veral van Nederland en België – hou van hul taal, want ek kan my proeë in Afrikaans doen. Hulle geniet nogal ons leuke taaltje!
SOURCES
Verskaf
Maryke is ’n ervare joernalis, wat haar liefde vir reis, mense, boeke, teater en lekker kos en wyn, op hierdie manier kan uitleef. Sy was al op elke uithoek van die aardbol – bo die wolke; in ’n lugballon; onder die water in ’n duikboot en onder die grond in tonnels – en gaan nêrens sonder haar reisgenoot, eggenoot en mede-joernalis, Clifford nie. Sy glo die lewe is te kort vir slegte koffie.