Abrie Beeslaar van Kanonkop-landgoed buite Stellenbosch is onlangs aangewys as die International Wine and Spirit Competition se Internasionale Wynmaker van die Jaar.
Maryke Roberts
Die plaas is ook vereer met die Perold-trofee vir pinotage en aangewys as die Suid-Afrikaanse Produsent van die Jaar. Hy sê die toekenning was ‘n groot eer en hy is baie dankbaar daarvoor.
Hy is al die afgelope 16 oeste op die plaas en hoewel hy van jongs af aan die wynbedryf blootgestel is, het hy eers op universiteit besluit om ‘n loopbaan daarvan te maak.
Abrie is getroud met Jeanne en hulle het twee kinders, Ben (6) en Emma (5). Sy doen hul eie wyn se administrasie en die gesin woon op die plaas. Abrie sê hy geniet die pragtige omgewing op die plaas en die feit dat hy vier braaiplekke binne en een buite het!
Abrie se skaduwee op die plaas is Max, ‘n rifrug en Abrie lag as hy vertel dat Max soos ‘n stert voel!
Wat was jou drome op skool oor die beroep wat jy eendag gaan volg?
Ek wou ‘n dokter word, maar is baie bly my lewe het ‘n ander rigting ingeslaan.
Wou jy altyd wynmaker in Suid-Afrika word of het jy gedroom van oorsee wees?
Ek het al oorsee, in Duitsland en Portugal, gewerk. Suid-Afrika het die potensiaal om die beste wyne in die wêreld te maak, dus is ek baie gelukkig hier.
Wat is jou gevoel oor wynkompetisies?
Daar is te veel kompetisies, en dit skep verwarring onder die publiek. Ons fokus op een plaaslik en een internationaal.
Hoe voel jy oor die plaas se beeld onder die publiek?
Kanonkop is die oupa met die pyp op die stoep, en die ouma met die vars gebakte brood. Dit is deel van SA soos braaivleis.
Wat is vir jou die mooiste eienskap van wyn?
Dat dit lewe. ‘n Wyn is nooit 100% dieselfde nie. ‘n Glas rooiwyn proe anders by die huis teenoor wanneer jy by die see sit en ‘n vuurtjie brand in die agtergrond.
Wat was sover jou grootste uitdaging as wynmaker?
Om Beyers Truter se skoene op Kanonkop vol te staan, en om aan te hou wat my voorgangers begin het.
Waaroor is jy besonder trots in jou loopbaan?
Uit die aard van die saak die twee Wynmaker van die Jaar-toekennings, en dit wat ons oor die algemeen op Kanonkop doen en bereik.
Wat is die uitdagings om in 2016 ´n wynmaker in Suid-Afrika te wees?
Die eerste uitdaging is om verby al die negatiewe aspekte te kyk en te fokus op gehaltewyn. Die droogte gaan ook ‘n uitdaging wees.
Watter leemte sien jy in die manier hoe wyn aan verbruikers bemark word?
Ons moet meer stories vertel, en minder harde bemarking gebruik. Elke kelder het ‘n geskiedenis en stories wat baie meer eg is as modelle wat langs die strand lê en wyn drink. Almal weet ons mag nie op die strand drink nie.
Wat is jou mooiste/mees romantiese herinnering aan wyn?
Ek en my vrou was op ‘n naweekwegbreek en ek het ‘n paar monsters wyn saamgevat om ‘n finale versnit op te maak. Ek kon nie besluit watter een die beste is nie, en toe help Jeanne (wat nie eintlik wyn drink nie) my om die regte een te kies.
Wat is die grootste fout wat verbruikers tuis maak met die a. gooi en b. stoor of berging van wyn?
a. Maak jong rooiwyn ‘n uur of twee voor dit gedrink word, oop; b. Stoor dit teen ‘n konstante temperatuur 15 – 20°C. Die spasie tussen jou bed en die vloer is nie ‘n kelder nie.
Wat is die een ding wat min mense van wyn weet?
Pinotage is ‘n kultivar wat gemaak is van pinot noir en cinsaut, en is ‘n eg Suid-Afrikaanse druif.
Wat frustreer jou van SA wyndrinkers?
Hulle drink hopeloos te min. Ons drink 7 liter per kop teenoor Italië se 45 liter per kop.
Wat is jou gunstelingwyn en hoekom is dit spesiaal?
Pinotage – dié kultivar haal die beste uit ‘n wynmaker. Jy is bereid om die moeite te doen, en maak ‘n goeie Pinotage, of jy skeep af en maak ‘n gemiddelde rooiwyn.
Het jy ‘n gunstelinghoekie op die plaas waar jy heengaan vir stilte of as jy moet dink oor groot besluite?
Ek stap baie in die wingerd, dit is waar ek die meeste van my dinkwerk doen.
Hoekom is SA wyne volgens jou die beste in die wêreld?
Ons het so ‘n diverse omgewing – grond, temperatuur, reënval. Ons kan in ‘n kort afstand baie verskillende wyne maak.
Watter wenke het jy vir mense wat bang is om te eksperimenteer met nuwe wyne?
Laat iemand nuwe wyne vir jou ‘blind’ skink teenoor ‘n wyn waarvan jy hou. ´n Mens vorm dan ‘n eerlike opinie.
Met watter wyn vier jy groot geleenthede in jou lewe?
Ek hou van mooi, verouderde wyne van Kanonkop. Dit is so goed soos die beste in die wêreld.
Wat is die grootste les wat die natuur jou al geleer het?
Ons is nie in beheer nie.
Wie is jou wynmaak-helde en na wie gaan jy vir raad?
Beyers Truter, en die Pinotage Assosiasie se bestuur.
Wat is die mooiste woorde wat jy al rondom wyn en die wynmaakproses gehoor het?
“Pinotage is the juice extracted from women’s tongues and lion’s heart. After having a sufficient quantity one can talk forever and fight the devil.”
Wat is die beste raad wat jy al as wynmaker ontvang het?
Toe ek begin wynmaak het, het Oom Olla Olivier vir my gesê: “Jy is nie ‘n wynmaker se gat werd nie.”
SOURCES
verskaf