Abraham de Klerk was etlike jare lank die wynmaker op Bob Geldof se wynplaas, Awash Winery, op een van Ethiopië se grootste kelders naby Addis Abeba, maar hy het verlede jaar na Suid-Afrika teruggekeer en is nou die bestuurder en wynmaker by Baleia Wyne buite Riversdal.
Maryke Roberts
Hy vertel dat sy terugkoms deur vele faktore beïnvloed is en Baleia en die ongelooflike potensiaal wat in die terroir opgesluit is, was een van hulle. Hy het die vakante pos vir wynmaker op ‘n webwerf raakgesien en aansoek gedoen.
Abraham is ongetroud, maar sy perd, Lineage of Light (Biscuit) woon saam met hom op die plaas naby Vermaaklikheid in die Suid-Kaap.
Sy kleurryke loopbaan sluit 19 oeste by 13 wynkelders in ses verskillende lande, Suid-Afrika, Frankryk, Duitsland, Italië, Oostenryk en Ethiopië in. In hierdie tyd het hy met druiwe uit 12 verskillende streke en 28 verskillende kultivars gewerk.
1. Wat het jou na Baleia aangetrek?
Die terroir: kalkryke gronde en koel klimaat met die ligging naby die see.
2. Hoe voel jy oor die plaas se beeld onder die publiek?
Dis baie positief en daar is groot verwagtinge vir die toekoms. Hou ons gerus dop!
3. Waar kom jou belangstelling in wynmaak vandaan?
As kind het ek blootstelling daartoe gehad deur my pa se familie wat almal wingerdboere is. Die wynmaak-liefde het deur my universiteitsjare en my besoeke aan Europa ontwikkel.
4. Wat het jy studeer?
BsC Agric Wingerd en Wynkunde (4 jaar)
5. Wat was jou drome op skool en hoe ver het jy gevorder met alles wat jy beplan het?
Ek is baie avontuurlustig en mal oor die natuur – dus wou ek ‘n wildbewaarder word. So, ek het wel avontuur deur my rondswerwery gekry, maar die naaste wat ek aan wildbewaring kom, is as my wyne in die lodges verkoop…
6. Wat is jou gevoel oor wynkompetisies en neem julle gereeld deel?
As jy medaljes wen, werk dit vir jou en as jy ongelukkig is en niks wen nie, kos dit jou geld.
7. Wat is vir jou die mooiste eienskap van wyn?
Dat dit ‘n tydperk in die heelal vasvang.
8. Wat is die beste raad wat jy al as wynmaker ontvang het?
“The devil is in the detail.”
9. Wat was sover jou grootste uitdaging as wynmaker?
Om wyn te maak in ‘n omgewing waar die konsep van wynmaak vreemd is en die kultuur en taal totaal vreemd vir my was.
10. Waaroor is jy besonder trots in jou loopbaan?
Eerder dankbaar oor al die geleenthede wat ek gebied word.
11. Wat is die uitdagings om in 2016 wynmaker in Suid-Afrika te wees?
Om eerbaar te bly. Die mark is ongelooflik kompeterend. Om eerlike wyne te maak, is my grootste uitdaging.
12. Watter leemte sien jy in die manier hoe wyn aan verbruikers bemark word?
Suid-Afrikaners is só ingestel op prys dat hulle sal kompenseer ten opsigte van kwaliteit.
13. Wat is die grootste fout wat verbruikers tuis maak met die a. gooi; b. stoor of berging; c. pasmaats met kos van wyn?
In A en C is die grootste fout wat gemaak kan word om te vergeet om dit te geniet, as gevolg van ‘n “regte manier” van dinge doen. Ten opsigte van berging: donker + konstante 16 grade celcius + goed deurlug.
14. Wat is die een ding oor die wynmaakproses wat min mense weet?
Dit is vrek harde werk.
15. Wat frustreer jou van SA wyndrinkers?
Lojaliteit tot SA wyne in die premium-prysklas – soos ek vroeër genoem het, mense is behep met goedkoop.
16. Wat geniet jy die meeste van jou werk as wynmaker?
Die kreatiewe, skeppende deel.
17. As jy nie wynmaker geword het nie, watter ander beroep sou jy graag wou volg?
Argitektuur
18. Wat is jou gunstelingwyn en hoekom is dit spesiaal?
Masseto 2006. Dis ‘n ongelooflike merlot-gedrewe wyn uit Toskane, Italië. Die terroir is prehistroriese seebodem en is baie naby aan die Meditereense see. Dit het ongelooflike vrug.
19. Watter wenke het jy vir mense wat bang is om met nuwe wyne te eksperimenteer?
Wat het jy om te verloor?
20. Wat is die grootste les wat die natuur jou al geleer het?
Bly nederig. Jy is klein en nietig.
21. Wat is die mooiste woorde wat jy al rondom wyn en die wynmaakproses gehoor het?
Die oomblik van “nou” word vasgevang in ewigheid.
22. Wie is jou wynmaak-helde en na wie gaan jy vir raad?
Daar is ‘n paar vriende met wie ek gesels indien ek vasdraai. ‘n Diverse groep individue, briljant in elke opsig.
23. Waarvan droom jy vir die toekoms?
Positiewe, intense energie.
24. Hoekom is SA wyne volgens jou die beste in die wêreld?
Die “beste in die wêreld” is ‘n baie breë konsep, aangesien elke wyn indivudualisties moet spreek van die terroir van waar dit kom. Elke terroir verskil en daar kan slegs ooreenkomste wees, maar nie presiese duplikasies nie. Dus word die konsep van “beste in die wêreld” oorgelaat aan die individue se persoonlike keuse. Vir my persoonlik is dit juis die universele diversiteit van wyn wat belangrik bly. SA wyne het ongelooflike diepte en kompleksiteit, wat die terroir met die regte hand fantasties uitbeeld.
SOURCES
verskaf