Abe Beukes is die afgelope twee jaar by Yonder Hill tussen Somerset-Wes en Stellenbosch en was voorheen vir 15 jaar betrokke by Darling Cellars as wynmaker en ook drie jaar as konsultant.
Maryke Roberts
Sy belangstelling in wynmaak het begin toe hy as landboustudent op Kanonkop loseer het en in die kelder saam met Jan Boland kon werk en leer.
Abe sê hoewel hy destyds aan die Stellenbosse universiteit geswot het, leer hy nog gereeld ‘n paar lewenslesse.
Abe se vrou, Annalie, is volgens hom “die beste fisioterapeut in die Wes-Kaap” en hulle het ‘n seun, AJ en ‘n dogter, Anel.
Wat is die uitdagings om in 2016 ´n wynmaker in Suid-Afrika te wees?
Om onder uiterste finansiële druk nog steeds topwyne te produseer.
Wat is die beste raad wat jy al as wynmaker ontvang het?
Sorg vir jou wingerd en wyne en dan sal hulle ook vir jou sorg.
Wie is jou wynmaak-helde en na wie gaan jy vir raad?
My raadgewer is Herman Kirschbaum van Buitenverwagting.
Wat is jou gevoel oor wynkompetisies?
Wynkompetisies is belangrik ,want dit verskaf uitdagings, maar die publiek moet onthou dat beoordelaars se beste wyn nie noodwendig ons almal se smaakvoorkeur verteenwoordig nie.
Wat is die mooiste woorde wat jy al rondom wyn en die wynmaakproses gehoor het?
‘n Topwyn het nie lofprysings nodig nie. Hy praat vir homself.
Wat is vir jou die mooiste eienskap van wyn?
Die regte wyn laat gewone kos na iets uit ‘n ander wêreld smaak.
Wat was sover jou grootste uitdaging as wynmaker?
Om terroir voor in die koor te laat presteer.
Waaroor is jy besonder trots in jou loopbaan?
Ek is altyd dankbaar en trots wanneer ‘n vriend laat weet dat hulle een van my wyne met goeie kos geniet.
Wat is die grootste les wat die natuur jou al geleer het?
Soos Langenhoven het ek ook geleer dat daar nie ‘n kortpad bestaan nie. As daar ‘n kortpad was, sou die langpad daarlangs geloop het.
Wat is die grootste fout wat verbruikers tuis met wyn maak?
Ek dink meeste verbruikers verstaan nie ouer witwyne nie.
Met watter wyn vier jy groot geleenthede in jou lewe?
Normaalweg vonkelwyn, maar ek het al met Edel Laatoes ook gevier.
Het jy ‘n gunstelinghoekie op die plaas waarheen jy gaan vir stilte of as jy moet dink oor groot besluite?
As ek moet dink, gaan stap ek tussen die wingerde.
Wat is die een ding wat min mense van wynmaak weet?
Die komplekse rol wat mikro-organismes in die hele proses van wynmaak speel.
Wat frustreer jou van Suid-Afrikaanse wyndrinkers?
Dat so min van ons kan bekostig om elke dag wyn te geniet.
Watter wenke het jy vir mense wat bang is om met nuwe wyne te eksperimenteer?
Sien nuwe wyn as ‘n avontuurlike ondervinding wat jou sintuie gaan wakkermaak.
Reis jy baie om jou wyn bekend te stel en indien wel, waar is jou gunstelingbestemming?
Ek het baie gereis en dit bly die beste om vir Tafelberg te sien as jy terugkom.
Wat is jou mooiste herinneringe aan wyn?
Beslis die besonderse mense en plekke wat ek deur wyn kon leer ken.
Wat geniet jy die meeste van jou werk as wynmaker?
Die kreatiewe element, maar ook om met grond en wingerde in die natuur besig te wees.
Wat is jou gunstelingwyn en hoekom is dit spesiaal?
Enige goed verouderde wit- of rooiwyn wat die toets van die tyd deurstaan het.
Hoekom is SA wyne volgens jou die beste in die wêreld?
Ons variasie in wynstyle en die puik waarde vir geld.
SOURCES
verskaf