Dit was beslis ‘n fees van Olé’s! en goeie wyn by die jaarlikse kookkompetisie tussen Muratie Wyne en Du Toitskloof Wyne. Dis dié dag in die jaar wat wynmakers en kantoorpersoneel hul kantore en kelders verlaat en voorskote vasmaak om te sien watter wynplaas die wenspan gaan oplewer.
Vanjaar was die vyfde ‘cook-off’ en die plase maak beurte om gasheer vir die dag te wees. Die idee vir die jaarlikse kompetisie is een aand – sekerlik ná te veel wyn – deur Emile Joubert en Bernard Kotze van Du Toitskloof Wyne uitgedink en só is die kompetisie wat ware Boland-cuisine vier, gebore.
Die vure het al van vroeg gebrand. Met wyn in die glas op die grasperk onder die vrolike rooi tent is daar gekuier, gepeusel aan Muratie se reuse gebraaide brie met aarbeie en vonkelwyn en in afwagting gewag vir die oomblik tot die proe-kans kon kom.
Du Toitskloof het ook hul nuwe Pinotage Rosé 2016 bekendgestel.
Vanjaar moes die spanne meeding in die Paella-kompetisie en Pete Geoff-Wood het gesê die geheim is dat dit nie geroer mag word nie en ‘n lekker kors moet hê, maar uiteindelik was dit die gaste wat moes stem tussen die twee kelders se paella.
Du Toitskloof, vanjaar se gasheer, het die kompetisie met een punt gewen, maar gelukkig was daar genoeg lof vir Muratie en almal is as vriende huis toe!
Shawn en Elrine Thomson, Christine en Muller Coetzee van Du Toitskloof met hul wenskild; en Kim Melck en Hattingh de Villiers, wynmaker van Muratie.
Kim Melck glo ‘n bietjie Muratie-wyn is die geheime resep. Hier voeg sy nog bietjie Laurens Campher – ‘n versnit van Chenin Blanc, Sauvignon Blanc, Verdelho en Viognier by.
Muratie se reuse gebraaide brie met aarbeie het die hongerpyne effe gestil, voor die paella bedien is.
Du Toitskloof Wynet het hul nuwe Pinotage Rosé 2016 bekendgestel.
Du Toitskloof se span skep die proe-porsies uit vir beoordeling.
Die grasperk voor Du Toitskloof Kelder is feestelik ingerig vir die geleentheid.
Maryke is ’n ervare joernalis, wat haar liefde vir reis, mense, boeke, teater en lekker kos en wyn, op hierdie manier kan uitleef. Sy was al op elke uithoek van die aardbol – bo die wolke; in ’n lugballon; onder die water in ’n duikboot en onder die grond in tonnels – en gaan nêrens sonder haar reisgenoot, eggenoot en mede-joernalis, Clifford nie. Sy glo die lewe is te kort vir slegte koffie.