Wynliefhebbers het onlangs die kans gehad om wyne van die Old Vine Project (OVP) by De Volkskombuis in Stellenbosch te proe
Deur MARYKE ROBERTS
Foto’s Clifford Roberts
Al die wyne kom van wingerde wat ouer as 35 jaar is en die sertifisering as Old Vine dra. Altesaam 37 wynplase het hul wyne te proe aangebied. Die aand is in samewerking met Amorim Cork Suid-Afrika aangebied.
Van die oudste wingerde waaronder die Boekenhoutskloof Semillon 2017 wat in 1902 in Franschhoek geplant is; DaschBosch Hanepoot wat in 1900 in die Breedekloof geplant is; Mullineux and Leeu Family Wines se Leeu Passant Dry Red 2017 wat in 1900 geplant is en Rickety Bridge se Road to Santiago Semillon 2016 wat in 1905 in Franschhoek geplant is, se wyne is te proe aangebied.
Die sjef by Volkskombuis, Daniel de Villiers, het gesorg vir lekker peuselhappies wat die wyne gekomplimenteer het. Andre Morgenthal, bestuurder van die projek, het vertel dat hulle nie wil hê mense moet dink die OVP is net ’n nostalgiese reis na die verlede nie; hulle hoop deur ons wynmaak-wortels beter te verstaan, Suid-Afrika se jong wynmakers nog beter wyne kan maak, deur onder andere ou wingerde te gebruik.
Die doel van die projek is om ou Suid-Afrikaanse wingerde te beskerm, te bemark en as Ou Wingerde te sertifiseer. “Die wynkwaliteit spreek vanself; dit bou die beeld van SA; die wyne het ’n unieke gevoel en tekstuur en ons wil boere volhoubaar hou.” Maar nie alle ou wingerde maak noodwendig uitstekende wyne nie en ou wingerd wyne is nie noodwendig beter as wyne gemaak van jong wingerde nie. Hierdie wyne dra bloot by tot die algemene wynlandskap van wyngenot.
Vanweë lae produksie is dit ’n finansiële uitdaging omdat ou wingerde baie minder opbrengs per hektaar lewer. Maar deur die projek kan die boer voordeel trek om beter pryse te verhaal. Dit is dus aantreklik om toegang te verkry tot gewillige wynmakers wat opsoek is na spesiale ou wingerd druiwe en volhoubare pryse te betaal per ton. Daar word geraam dat ongeveer 2 621 hektaar van Suid-Afrikaanse wynlande met wingerde ouer as 35 jaar spog – ongeveer 1% van die totale grond onder wingerd.
Vir meer inligting oor die projek, lees meer by http://oldvineproject.co.za
Maryke is ’n ervare joernalis, wat haar liefde vir reis, mense, boeke, teater en lekker kos en wyn, op hierdie manier kan uitleef. Sy was al op elke uithoek van die aardbol – bo die wolke; in ’n lugballon; onder die water in ’n duikboot en onder die grond in tonnels – en gaan nêrens sonder haar reisgenoot, eggenoot en mede-joernalis, Clifford nie. Sy glo die lewe is te kort vir slegte koffie.