Dis Maryke en Clifford Roberts se negende dag vir Vrouekeur by die 17de Woordfees op Stellenbosch. Klik op die foto om te sien wie hule raakgeloop het en wat hulle bygewoon het.
Maryke Roberts
Herman Lensing en Marinda Engelbrecht se vertoning, Nog ’n VOORSKOOT en lipstiek, by die Oude Libertas Ouditorium, het lekker nostalgies na kos en hoe ons kook, gekyk. Hulle het ’n paar resepte en wenke gedeel en sommer net lekker gesels oor hoekom ons eet en hoe dit mense saamsnoer.
By Weltevreden het Lollos die bene laat bewe; by die US Museum lesinglokaal is stories uit die Skurweberg gedeel en Bennie Boekwurm en sy maats het by die ATKV Boektent deur hul skepper, Louise Smit, kom kuier.
Die ATKV Crescendo uitdunne is gehou en Koos Kombuis het in die HB Thom foyer met Dana Snyman gesels oor sy jongste rubrieke en boek, Ver in die wêreld, sushi! Die praatjie is deur Penguin Random House aangebied.
Liewe Heksie: Flower Power, het die stadsaal tot barstens toe vol gehad en skreeusnaakse kommentaar op hedendaagse politieke gebeure gelewer het. Daar was selfs Geraldine, die Geel Heks (Loukmaan Adams), wat belasting ontduik en die silwer roos wou steel om vir ’n iGifappel Nkandla te bou! Koning Rosekrans (Carel Nel) moes bontstaan om tussendeur nog sy liefde vir die feëkoningin (Anna Davel) te beheer en met Liewe Heksie (Margit Meyer-Rödenbeck) se foute saam te leef.
Die toneelstuk, Amper, Vrystaat, was só gewild, ’n ekstra vertoning moes ingepas word. Die verhaal van drie susters wat mekaar ontgroei het, maar terugkeer na hul geboortedorp, Amper, met hul ma se dood.
In Stil, is gekyk na mensehandel, waar ’n fotograaf ’n obsessie ontwikkel om haar vermiste boetie te vind.
’n Lekker manier om die aand af te sluit, was met die klug, Hond se gedagte met ’n voorslag rolverdeling. Dis ’n holstebolder deurmekaarspul wat jou laat skaterlag as Raymonde vermoed haar man verkul haar en sy probeer hom uitvang. Dis bont, veelkleurig en skreeusnaaks en om vir Sandra Prinsloo as sekskatjie te sien, beslis ’n hoogtepunt!
Nanette Ranger se beeld, getiteld, Gewortel, wat uit metaal, keramiek en boombas bestaan, was by die PJ Olivier Kunssentrum te sien as deel van die Visuele Kunsprogram.
Herman Lensing en Marinda Engelbrecht se vertoning, Nog ’n VOORSKOOT en lipstiek, by die Oude Libertas Ouditorium, het lekker nostalgies na kos en hoe ons kook, gekyk.
Liewe Heksie: Flower Power se Liewe Heksie (Margit Meyer-Rödenbeck) en Blommie Kabouter (De Klerk Oelofse).
Carel Nel as Koning Rosekrans in Liewe Heksie: Flower Power.
Die toneelstuk, Amper, Vrystaat, met Antoinette Louw, Cintaine Schutte en Milan Murray.
SOURCES
Clifford Roberts