Dis Maryke en Clifford Roberts se sewende dag vir Vrouekeur by die 17de Woordfees op Stellenbosch. Kyk wie hule raakgeloop het en wat hulle bygewoon het.
Maryke Roberts
So met die rondstap tussen kunsuitstallings, vertonings en kosdemonstrasies, knoop mense geselsies met akteurs en sangers aan. By die Plataankafee word daar lekker onder die plataanbome gekuier en na regstreekse uitsendings op RSG geluister en die ATKV Boektent is ‘n miernes van bedrywighede met optredes deur Francis Visagie, Danny Fourie, Bettina Wyngaard en Ena Jansen..
By De Vette Mossel is daar nie net seesand tussen jou tone, seekos op jou bord en yskoue witwyn wat teen ‘n strand-agtergrond bedien word nie, daar is daagliks lekker musiek en vermaak. Buite kan jy op die houtbankie onder die bome gaan sit en na die video-opnames van musieksterre se stories kyk.
Tinarie van Wyk Loots en Erik Holm speel die rolle van Ingrid Jonker en André P. Brink in Plant vir my ‘n boom, André wat handel oor die aand voor Brink sy eredoktorsgraad in Leuven ontvang. Jonker verskyn aan hom en hulle vertel die verhaal van hul liefde, voor sy in 1965 selfmoord gepleeg het.
Marlo Minnaar het uitstekende spel gelewer in Santa Gamka, gegrond op Eben Venter se bekroonde roman en ‘n 2015 Kanna-pryswenner vir beste debuutwerk; beste regie en die Herrie-prys vir kopverskuiwende werk. Dis ook genomineer vir 3 Kyknet Fiëstas 2016 vir beste regie; beste nuutgeskepte Afrikaanse produksie én beste solovertoning. Santa Gamka is die storie van Lucky, ‘n jong bruin man wat vry gebore is in die nuwe Suid-Afrika. Hy woon op ‘n plaas buite Santa Gamka, waar die wiele van verandering maar stadig draai. Dis een van die stukke wat jou nog lank sal bybly, want dit smeek om inkeer; om retrospeksie en her-evaluering van jou eie vooropgestelde idees oor vryheid, armoede en hoop.
Niel Stemmet het in Die Khaya die gaste uit sy hand laat eet. Eers het almal sy sop en broodjies geproe en toe het hy stories vertel uit sy nuwe boek, bitter+soet en sommer oor die lewe gedroom en wenke gegee oor hoe om bobaas disse te maak.
Tinarie van Wyk Loots het ‘n beste aktrise toekenning by Clover Aardklop ontvang vir haar vertolking van Mariaan in Hemelruim. Sy speel teenoor Paul du Toit, wat die rol van Roelof, vertolk. Mariaan is ‘n Kosmologie-lektor, hy ‘n byeboer. Die storie vertel van die parallelle heelal waarin dieselfde situasie soveel verskillende uitkomste kan hê. Maar die storie van die twee se liefde is tragies en vasgevang in hierdie vlakke van realiteit.
Bettina Wyngaard gesels met Melt Myburgh in die ATKV Boektent oor haar nuutste boek, Slaafs wat verlede week by Penguin Random House verskyn het.
Niel Stemmet gesels en kook en gee raad uit sy lewe en uit sy derde boek, bitter+soet wat by NB Uitgewers verskyn het.
Marlo Minnaar in Santa Gamka. Foto: Andrew Brown
Tinarie van Wyk Loots en Erik Holm speel die rolle van Ingrid Jonker en André P. Brink in Plant vir my ‘n boom, André.
SOURCES
Clifford Roberts