Dis Maryke en Clifford Roberts se vyfde dag vir Vrouekeur by die 17de Woordfees op Stellenbosch. Kyk wie hulle raakgeloop het en wat hulle bygewoon het.
Maryke Roberts
Of jy nou van hom hou of nie – Jack Parow laat mense uit sy hande eet. Hy het by die HB Thom-foyer met Herman Lategan gesels en vertel van sy sukses, sy rekord-getal CD-verkope en sy duisende aanhangers op YouTube. Die man het charisma!
Die kuns-uitstalling, Friends in Art, het by die Landrover Jaguar vertoonlokaal geopen; Ena Murray en Randall Wicomb is in huldigingsgesprekke geeër; Fiela se Kind het die stadsaal bekoor en by Neethlinghof het die Kitaarkonings, James Grace, Albert Frost, Madala Kunene en Tony Cox die hartsnare geroer.
Jody Abrahams en Diaan Lawrenson se vertoning, Klein Jakkalsies in Die Breughel Teater het tong-in-die-kies gekyk na al daardie klein klippies in die huwelikskoen, wat blase veroorsaak. Soos Diaan tereg sê: “Jy het geen idee hoe lank die res van jou lewe kan wees”, wanneer jy trou aan jou lewensmaat beloof nie!
‘n Interessante manier om die aand af te sluit was gewis by die uitgebrande ruines van die Klein Libertas Teater, wat die ideale agtergrond vir Moeder Moed en haar kinders bied. Aletta Bezuidenhout, Deon Lotz, André Roothman, Nicole Holm, Juliana Venter, Jacques Theron, Cintaine Schutte, Gerben Kempen, De Klerk Oelofse en Geon Nel wys hoekom dié stuk soveel toekennings op sy kerfstok het. Dit vertel die storie van ‘nrondreisende handelaar wat van veldslag tot veldslag reis met drank en rantsoene. Dit illustreer die verlorenheid wat oorlog bring en hoe mense teen hul eie kan draai. Soos die generaal, Nicole Holm, op ‘n slag opmerk: “Vrede is ‘n deurmekaarspul; oorlog bring orde.”
Elders het Raka uit die rivier-oewer verrys en Jack Plug and the Leads het die partytjie aan die gang gehou by De Vette Mossel.
Hannalie Taute se uitstalling, jou ma se stink Afrikaner, lok heelwat belangstelling uit. Hierdie werk is getiteld, ‘nGroot word en is uit katoengare en rubber gemaak.
Amanda Strydom se vertoning, Amanda loop die pad nou 60 jaar by die Spier amfiteater was sekerlik een van die feeshoogtepunte. Verskeie kunstenaars het saam met haar opgetree. Hier kuier sy elders by die Woordfees saam met Johan van der Merwe.
Jody Abrahams en Diaan Lawrenson se vertoning, Klein Jakkalsies in Die Breughel Teater.
Die uitgebrande ruines van die Klein Libertas Teater bied die ideale agtergrond vir Moeder Moed en haar kinders.
SOURCES
Clifford Roberts