Dit was Maryke en Clifford Roberts se tweede dag oor die naweek vir Vrouekeur by die 17de Woordfees op Stellenbosch. Kyk wie hulle raakgeloop het en wat hulle bygewoon het.
Maryke Roberts
Vroegoggend was die kunswerke vir die eerste “Opskiet by die museum” op die US Kunsmuseum se stoep gehang; die koffies geskink by die Plataankafee; die marionette afgestof vir Die Reëngodin by die Fismersaal en die atlete het hul spiere gebult in die jaarlikse Straatmyl wat in Victoriastraat gehou is.
By die ATKV Boektent het Carel van der Merwe, Nicola Hanekom, Jans Rautenbach, Frans Rautenbach, Daniel Hugo en Tom Lanoye oor hul boeke gesels en die WOW-dag vir graad 12 leerders is by Coetzenburg gehou.
Jan Braai het by De Vette Mossel gewys hoe mens die vleis op die kole laat sing; terwyl ‘n groep ‘n argitektoniese wandeling van Erfurthuis deur die dorp onderneem het.
Raka met Neels van Jaarsveld en Franci Swanepoel het ‘n uitverkoopte vertoning gehad in Idasvallei. Meters modderkleurige materiaal is deur regisseur Deon Opperman ingespan om die modderbanke van die rivier uit te beeld en onder die materiaal het twee figure met die materiaal help skep aan die indrukwekkende stel.
Die Breughel Teater in Cloetesville het byna uit sy nate gebars – eers van die hoeveelheid mense wat Die gangsters kom kyk; toe van die hitte en toe vir oulaas van die staande ovasie wat die spel ontlok het. Daar is nog een vertoning op 9 Maart om 20:30.
Die aand is afgesluit met prag-vertonings deur Mathys Roets wat 21 jaar in die musiekbedryf vier; elders het die Liberaskoor die hartsnare geroer en Anton Goosen het die nostalgie laat vloei met sy treffers.
Neels van Jaarsveld speel in Raka
Darren en Yoshka da Silva geniet die atmosfeer by Die Breughel Teater in Cloetesville waar Die gangsters speel.
Al die pad van Humansdorp om die kunste te kom ondersteun, is van links Marisa en Cobus Breytenbach en Mitzi en Maritz van Heerden.
Die gangsters is ‘n indringende kykie in die lewe van bendelede; die op-die-oog-af doellose doodmaak van mense, maar as jy fyn luister, hoor jy dalk die redes daaragter.
SOURCES
Clifford Roberts