Dit was die naweek Maryke en Clifford Roberts se eerste dag vir Vrouekeur by die 17de Woordfees op Stellenbosch. Kyk wie hulle raakgeloop het en wat hulle bygewoon het.
Maryke Roberts
Die eerste dag het reeds vele hoogtepunte gehad soos Johnny Clegg wat die aarde laat dreun het by Coetzenburg, optredes deur Laurinda Hofmeyer; die Merino skaapboud-proe; Handel se Duitse areas en Mathys Roets wat 21 jaar in die musiekbedryf vier.
Simon Bruinders se teks met Albert Maritz se regie, in Die Sideboard – die musical, was ‘nallemintige 150 minute lank en het die hartseer van versugting en verdeeldheid tussen rasse en kulture sterk beklemtoon. Geen voetetik blyspel nie, maar eerder stof tot nadenke oor ons eie houding jeens ander. En ‘n ouer se wense dat dinge net anders vir hul kinders sal wees.
By die Pulp Cinema Neelsie kon jy vir ‘n paar minute in stilte gaan kyk na die kortfilms wat deel van die fees is.
Laataand het ons by Hennie Aucamp se Slegs vir Almal die aand afgesluit. Die span wat jou asem laat jaag het met hul danspassies, stout vertolkings van ou FAK liedjies en holrug-geryde sêgoed, noem dit ‘n“literêre kabaret oor selfsug”. Aucamp lewer pittige kommentaar op die oorlog, seksuele emansipasie, rasbeheptes, gays, kunstenaars, bejaardes en vele meer. Mr Cat and The Jackal het musiek gemaak. Die ritme is vinnig, die musiek lekker opruiend, en dan binne sekondes verval dit in blues en hier en daar wil-wil jy jou verbeel dis die Briele wat daar op die verhoog staan…
Feesgangers Herta de Villiers, Sannie Odendaal en Wilma Tromp van Stellenbosch.
Brackenfellers Marlene Kruger en Isabel Steyl.
Hennie Aucamp se Slegs vir Almal het danksy die musiek van Mr Cat and The Jackal nuwe relevansie vir moderne (tydlose) dilemmas.
Hennie Aucamp se Slegs vir Almal lewer skerp kommentaar op gays en bejaardes, verkramptes en verstotenes.
SOURCES
Clifford Roberts