‘Miskien voel dit asof my werk na “vergange glorie” verwys, maar daar is nie by my persoonlik ’n hunkering na die verlede of ’n soort sentimentele nostalgie daaroor nie’
Deur JOHAN MYBURG
Hoewel mens soms ’n presiese plek of omgewing in ’n landskap kan herken – dikwels dui die titel wat die kunstenaar aan die skildery gee juis ’n presiese plek aan – is ’n landskap meer as net ’n geskilderde weergawe van ’n lap grond. Benewens die eerste herkenning van “ja, dit is presies soos dit daar lyk of gelyk het”, noop ’n landskap die kyker om ook oor sy of haar plek “in” die landskap na te dink.
Ten diepste is ’n landskap die resultaat van hoe grond deur menslike aktiwiteite gevorm word, of hoe dit mense se lewens vorm sodat ’n spesifieke plek tot stand kom. ’n Landskap is persoonlik, verryk deur mense se verhale en deur herinneringe, mites en emosies aangevul. Hoe kan ’n landskap vir ’n skilder dan anders wees as outobiografies? Die Vrystaatse kunstenaar Willem Pretorius se jongste uitstalling verlede maand in die Tina Skukangalery in Pretoria het in sy titel reeds iets hiervan vergestalt: Hersiening/Revision. Die plattelandse landskappe, onder meer van vervalle munisipale swembaddens, is inderdaad ’n noukeurige deurgaan (“hersiening” in dié betekenis) van (verlate) plekke, maar dit veronderstel ook ’n herbesoek, ’n herkyk, en dalk ook ’n terugkyk.
LEES OOK: Kuns: Banksy
As hy na sy werk as ’n “visuele dagboek” verwys, is dit juis die persoonlike en selfs intieme band wat hy met tonele het wat in sy werk aan die orde kom. Maar ook die dokumentering van visuele indrukke op ’n gereelde grondslag. “Die stofstrate van klein dorpies, die geboue, die veld waar ek ure as kind gespeel het. Die plekke waar ek was, dit wat ek gesien het, dit is wat ek wil onthou,” sê hy. Pretorius is op Musina gebore, maar het op Stella in Noordwes grootgeword. Deesdae woon hy op Rosendal. “Ek sien my werk eerstens as ’n dokumentering van ’n sekere tyd en plek in Suid-Afrika se geskiedenis soos dit nou is.
Dit is nie noodwendig vir my tragies nie, maar verwys bloot na ’n era wat verby is. Ek dink dit herinner ons aan ons eie tydelikheid en sterflikheid. “Ons het in die dorpswembad geswem en ek het goeie herinneringe daaraan, maar baie Suid-Afrikaners was oor hul velkleur nie toegelaat om daar te swem nie. In een van die swembaddens wat ek afgeneem het, is daar graffiti wat lees: ‘Whites only they said …’, dis soos ’n vuishou in die maag.” Met die agteruitgaan van talle plattelandse dorpe is dit die manier waarop die natuur strukture (soos swembaddens) terugneem wat sy oog vang. “Ek voel dis so half geregverdig,” sê hy.
Maar vir ’n skilder is die estetiese oogmerk ewe belangrik – die weerkaatsing van die wolke in die water, die perspektief van die lyne op die bodem, die verskillende kleure en teksture. En bowenal lig. Pretorius is ’n meester om lig te registreer om spesifieke kwaliteite in sy landskappe na vore te bring – van felheid tot intense diepte. Hy gebruik foto’s, “’n oomblik gevries in tyd”, om van te werk “en mens kan seker sê die aanskouer word op ’n manier gedwing om te staan waar ek gestaan het en te sien wat ek sien”. “Miskien voel dit asof my werk na ‘vergange glorie’ verwys, maar daar is nie by my persoonlik ’n hunkering na die verlede of ’n soort sentimentele nostalgie daaroor nie. Dit ís bloot wat dit ís, alles gaan verby. Oud maak plek vir nuut.”