Wanneer jy wilde gisting van nader bekyk, besef jy hoeveel dit bydra tot beide die wyn-en broodbedryf
Deur Maryke Roberts
Foto’s Clifford Roberts
By ‘n onlangse funksie wat om wilde gisting sentreer het, wat by Loaves on Long in Kaapstad gehou is, het wynmakers en ‘n bakker, Ciska Rossouw, hierdie aspek aan gaste en kosfoendi’s verduidelik.
Loaves on Long behoort aan die bakker en sjef, Ciska en haar nuwe sakevennoot, Rickma Coxon. Rickma het haar loopbaan as prokureur vaarwel toegeroep en in Februarie by die bakkery en koffiewinkel in Langstraat, in die historiese HC Collison-gebou, aangesluit. Die bakkery is die afgelope twee jaar daar en bedien ook etes en koffie en gaan binnekort ’n tapas-spyskaart en gin-kroeg op hul tweede vloer open.
Ciska het aan gaste die verskil tussen gewone “winkelbrood” en tuisgebakte brood gewys. Elkeen kon die snye brood bevoel, ruik en proe. Nie alleen is die tekstuur en reuk anders nie, die brode bevat ook verskillende ensieme, vitamiene en minerale. Die verfynde maal- en bereidingsmetodes van kommersiële brood, het ook baie allergieë tot gevolg en mense met gluten-intoleransie vermy hierdie brood.
Ciska het vertel dat een van die grootste wanopvattings oor suurdeegbrood is dat dit suur is en daarom nie vir almal geskik nie. Dis egter nie die geval nie.
Sy het ook aan Heini Fourie, graanboer en eienaar van Bio-Wheat, die geleentheid gegee om die verskil in verskillende grane en hoe grof of fyn hulle gemaal word, uit te lig. Hy het verduidelik dat meel vroeër jare met meulstene gemaal is en vandag doen spesialis-verskaffers dit steeds, daarom die “stone ground” op die pakkie. Die stadiger, koeler maalmetode behou heelwat noodsaaklike bestanddele in die meel. Hy het ook vertel dat suurdeegbrood wat met wilde gisting gemaak word, voordeliger is vir mense met sensitiewe mae.
Die twee wynmakers, Izelle van Blerk van KWV en Chris Boustred van Remhoogte, het van hul wyne wat met wilde gisting gemaak is, saam met van die brode en ander disse bedien.
Maryke is ’n ervare joernalis, wat haar liefde vir reis, mense, boeke, teater en lekker kos en wyn, op hierdie manier kan uitleef. Sy was al op elke uithoek van die aardbol – bo die wolke; in ’n lugballon; onder die water in ’n duikboot en onder die grond in tonnels – en gaan nêrens sonder haar reisgenoot, eggenoot en mede-joernalis, Clifford nie. Sy glo die lewe is te kort vir slegte koffie.