Hoe meer ingelig jy is, hoe beter kan jy na jouself en jou gesin omsien
Deur: Christa Swanepoel
Is dit asma?
Asma is ‘n chroniese longsiekte wat deur herhalende asemhalingsprobleme gekenmerk word. Simptome soos asemnood, gefluit van die bors, benoudheid en hoes kom voor. Met normale asemhaling vloei die lug vrylik in en uit die longe. Wanneer asma nie beheer word nie, is die lugweë dik, geswel en geïnflammateer. Die lugweë word dan oorsensitief vir omgewingsveranderings en dan kom ‘n asma-aanval voor.
Al kan asma nie genees word nie, kan dit doeltreffend behandel word sodat die lyer ‘n normale lewe kan lei.
Asmafeite
- Asma is ‘n algemene toestand wat 15% van kinders en een uit elke 20 volwassenes raak.
- Daar is geen bewese redes vir asma nie.
- Twee keer meer seuns as dogters kry asma.
- Die graad van asma kan wissel, maar alle asma kan goed beheer word.
- Anders as wat algemeen aanvaar word, is oefening goed vir lyers.
- Baie mense glo asma is psigosomaties, maar mediese kenners stem nie saam nie. Stres kan wel die toestand vererger.
- As albei ouers asmaties is, is die kans goed dat hul kinders dit ook sal hê, maar net so kan ouers wat nie asma het nie, ‘n kind met asma hê.
- Die oorgrote meerderheid van lyers word nie met asma gediagnoseer nie en hou die toestand tot so ‘n mate onder beheer dat hulle ‘n normale lewe kan lei.
Fluitbors by kinders
‘n Fluitbors in die eerste vyf jaar is baie algemeen en tot 50% van kinders ervaar minstens een aanval van fluitbors in dié tyd.
LEES OOK: Dié ses dinge moet kinders nie hoor nie
Nie alle kinders wat met ‘n fluitbors sukkel, ontwikkel asma nie.
Meer as 60% van asmasimptome ontwikkel wel tussen ses maande en drie jaar. ‘n Klein persentasie ontwikkel simptome voor ses maande of later in hul lewe.
Risikofaktore
Risikofaktore kan persoonlikheidskenmerke wees wat oorgeërf of aangeleer word, asook omgewingseienskappe.
Asma kan enige tyd ontwikkel en die moontlikheid moet oorweeg word by elke kind wat met ‘n benoude bors sukkel.
‘n Kind is meer geneig om asma te ontwikkel as een of albei ouers asma het en identiese tweelinge is meer geneig as ander tweelinge om asma te ontwikkel.
Volgens sommige studies is daar ‘n verskil in die voorkoms van asma in verskillende rasse, maar sosio-ekonomiese en omgewingsverskille kan ‘n rol speel.
LEES OOK: Wenke om angs te beheer
Asma kom meer in stedelike gebiede as op die platteland voor.
Die inaseming van sigaretrook tydens swangerskap word met abnormale longfunksie, lugwegprobleme en allergieë by die baba verbind. Sigaretrook is ook ’n belangrike sneller vir ‘n asma-aanval.
Virale infeksies kan ook ‘n asma-aanval teweegbring. Lyers word aangeraai om jaarliks ‘n griepinspuiting te kry.
Omtrent die helfte van asmalyers is allergies vir allergene in die lug.
Daar is toenemende bewyse dat vroeë kontak met allergene, soos stofmyte, muf, katte, kakkerlakke en stuifmeel tot asma kan lei. ‘n Toename in die voorkoms van allergieë by kinders wat in ‘n spesifieke maand gebore word, kan ook toegeskryf word aan die vroeë blootstelling aan die allergene wat in daardie spesifieke tyd voorkom.
Hulp
Die Nasionale Asma-opvoedingsprogram (NAEP) is ‘n organisasie sonder winsbejag wat onpartydige inligting oor asmadiagnosering en -behandeling aan gesondheidswerkers en die publiek versprei. Lidmaatskap is gratis vir die publiek – kontak NAEP of registreer op hul webwerf by www.asthma.co.za.
Vir meer inligting gaan na www.ginasthma.com
Ouderdom met sojaproteïen gestuit
Hartgesondheid en ‘n gesonde gewig wek die meeste kommer onder aktiewe ouer wordende verbruikers in Amerika. ‘n Onlangse opname deur Solae, wat met 4 000 volwassenes in 13 lande gedoen is, toon volwassenes tussen 35 en 65 is die meeste bekommerd oor hul hart se gesondheid, gevolg deur die handhawing van ‘n aktiewe lewenstyl en ‘n gesonde gewig.
Hoewel verskeie toestande mense van hierdie ouderdomsgroep kan plattrek, is hartsiektes, kanker en beroerte die hoofoorsake.
“As jy na hierdie besorgdheid kyk, is dit duidelik dat sojaproteïen vir mense in dié groep voordelig kan wees,” sê dr Ratna Mukherjea, voedinggroepleier by Solae. “Proteïen kan help om maer spiermassa te behou en gewig te beheer omdat dit jou gouer versadig laat voel.”
Boonop wys verskeie studies dat proteïeninname moet verhoog namate ons ouer word om spierverlies en die natuurlike afname in die proteïenverwerking te bekamp.
LEES OOK: Beheer jou asma
Uit studies blyk dit dat 90 g sojaproteïen deur die dag versprei ideaal is vir ouer wordende mense. Dit verskil van die tipiese dieet waar die proteïen hoofsaaklik in die aand en bitter min in die oggend genuttig word.
In die studie het net 64% van die respondente gesê hulle kry die regte hoeveelheid proteïen in en die helfte het gemeen hulle moet meer proteïene eet as hulle ouer word.
Wanneer dit by die soort proteïen kom, het 80% gesê hulle verkies om hul proteïene in te kry deur kos of drank wat dit natuurlik bevat. Tradisionele proteïenbronne is vleis, melk, eiers, neute en bone. Terwyl soja die gewildste is as dit by plantproteïene kom, het net 40% van die groep dit geëet.
“Hierdie ouderdomsgroep kan egter baie daarby baat om soja deel van hul dieet te maak,” meen dr Ratna. “Sojaproteïen is ‘n gehalteplantproteïen wat die maer spiermassa onderhou en voordele vir die hart inhou wat diereproteïene nie kan nie.”
Sojaproteïen verlaag die totale LDL-cholestrol en kan die risiko van koronêre hartsiektes verminder as dit deel van ‘n dieet uitmaak wat laag in cholesterol en versadigde vette is.
‘n Goeie rede om soja in jou dieet in te sluit?
Jou siklus en alkohol
Die fisiologiese verskille tussen mans en vroue maak dat vroue vatbaarder is vir die effek van alkohol. Dit lei tot verskillende liggaamsreaksies en hierdie effek kan nog hoër wees in die verskillende tye van die maand.
Vlakke van bloedalkoholinhoud verskil wanneer die vrou in haar menstruele siklus is omdat die liggaam dan meer vog bevat. ‘n Vrou se liggaam bevat gemiddeld tussen 10% en 15% meer water as mans s’n en gedurende haar menstruasie is waterretensie selfs hoër.
Volgens prof Denis Viljoen, voorsitter van die stigting vir alkoholverwante navorsing (FARR) kan die alkoholmolekules die brein binne ‘n halfuur binnedring en as daar meer water in die liggaam is, kan die effek van alkohol langer duur.
Omdat vroue hoër watervlakke as mans in hul liggaam het, is hulle vatbaarder vir die effek van alkohol. Tesame met die verhoogde of verlaagde waterretensie in verskillende tye van haar menstruele siklus, moet vroue bewus wees van die hoeveelheid alkohol wat hulle verbruik,” sê prof Denis.
Selfs al drink ‘n man en vrou dieselfde hoeveelheid alkohol, sal die vrou se bloedalkoholvlak baie hoër wees omdat haar liggaam die alkohol verskillend metaboliseer.
Ander fisiologiese verskille sluit in lengte en gewig. Vroue metaboliseer alkohol ook stadiger as mans omdat hulle minder Alcohol Dehydrogenase het. Dis ‘n lewerensiem wat alkohol afbreek voor dit die bloedstroom binnedring.
Dis ‘n feit dat vroue gewoonlik kleiner en ligter as mans is, wat die alkohol in die bloed verder konsentreer. As ‘n vrou van matige bou een drankie drink, sal dit byna dieselfde uitwerking hê as twee drankies vir die gemiddelde man. Vroue kan met ander woorde minder as mans drink en steeds dieselfde vlak van invloed of aantasting hê.
Vroue moet daarvan bewus wees dat hulle tot 30% meer alkohol in hul bloedstroom absorbeer as ‘n man van dieselfde lengte en gewig as hulle dieselfde hoeveelheid alkohol drink. Vroue kan vinniger lewerskade en ander alkoholverwante gesondheidsprobleme ontwikkel selfs al drink hulle minder as mans,
“Daar is dus verskeie veranderlikes wat die effek van alkohol op vroue beïnvloed, verduidelik Adrian Botha, woordvoerder vir die Bedryfstigting vir verantwoordelike alkoholverbruik. “Dis hoekom ons matige alkoholverbruik aanbeveel hetsy jy ‘n man of vrou is. Die sleutel is om jou persoonlike perk te ken wanneer dit by die gebruik van alkohol kom, sou jy besluit om te drink. Maar as jy ‘n vrou is, moet jy ook in ag neem dat jou perk as vrou van dié van mans verskil en ook deur die loop van die maand wissel,” beklemtoon Adrian.