Moontlik begin ’n mens nou, 100 jaar later, sien hoe Wennings miljoene op kunsveilings haal
Deur JOHAN MYBURG
Hoewel Wenning vroeg in die 20ste eeu nie veel geld verdien het met die soort onderwerpe wat hy geskilder het nie, het selfs armoede hom nie sover kon kry om te voldoen aan die grille van ’n mark waarvoor hy nie veel respek gehad het nie.
Ondanks aanmoedigings om in ’n meer populêre styl te skilder, het hy volstaan deur te skilder wat hy wou en deurgaans sy artistieke integriteit te behou. Pieter Wenning, gebore in Den Haag in Nederland in 1873, het op 32-jarige ouderdom met sy gesin (hy is met ’n weduwee met twee kinders getroud) in Suid-Afrika aangekom. As werknemer van HAUM de Bussy & Jacques Dusseau, destyds die grootste uitgewery in Nederland, is hy as boekhouer in Pretoria aangestel.
Toe dié onderneming in 1910 uitbrei om ook kunsmateriaal en -benodigdhede aan te hou, het Wenning hoof van dié afdeling geword. Onmiddellik het hy met JH Pierneef en Frans Oerder kennis gemaak en die volgende jaar sekretaris van Die Individualiste, ’n kunstenaarsgroep in Pretoria, geword. Wenning het later vir ’n ander boekhandelaar, Van Schaik, gaan werk en dit was DC Boonzaier, ’n Kaapse vriend (en die pa van Gregoire Boonzaier), wat donasies van sy vriende gekry het om Wenning in staat te stel om ’n tyd lank in Kaapstad te vertoef.
LEES OOK: Kuns: Auguste Rodin
Dit was dié verandering in omgewing wat Wenning se skilderwerk ten goede beïnvloed het. Hy het in die Nuwelandomgewing gaan woon en die natuur en klimaat, en meer nog die impressionistiese vistas wat hom aan Nederland herinner het, het hom soos ’n handskoen gepas. Op dié eerste besoek het Wenning bedags in die buitelug geskilder en saans skilderye van Boonzaier se versameling Oosterse porselein gemaak. Boonzaier, wat benewens vriend ook klankbord en kritikus vir Wenning was, het die skildery van die Bishopscourtskoolgebou as een van Wenning se bestes beskou.
Hoewel Boonzaier gemeen het “grys in al sy eindelose skakerings” is Wenning se forte, is dit juis groen wat in dié skildery so treffend gebruik word – tot sover as die mos op die dak ná die lang Kaapse winterreën. Ná die eerste drie maande het Boonzaier ’n klein uitstalling gereël en byna al die werk is verkoop. Die donateurs kon terugbetaal word en Wenning het besluit om hom in die Kaap te vestig. Tussen 1916 en 1919 het hy sowat 400 doeke geverf en daarmee die erkenning en respek verwerf wat hom toegekom het.
1920 het uitputting en jare se aftakeling van buite verf in wind en weer sy tol geëis en Wenning het siek geword. Hy het in goeie weer hom met skilderwerk probeer besig hou, maar in 1921 is hy op 48 dood. Wenning se skilderye het die algemene kenmerk van swaar verfwerk – impasto – met energieke kwaswerk aangewend. Dit is veral die oorspronklikheid van die onderwerpe wat hy getakel het wat hom van sy tydgenote onderskei. Moontlik sien ’n mens nou, 100 jaar later, hoe Wenning vir die uitsonderlike skilder wat hy was, geag word.
En dalk is dit nou die begin van Wennings wat miljoene op kunsveilings haal. Daar is geen rede waarom dit nie moontlik is nie. Einde verlede jaar het Aspire Art Auctions ’n skildery van ’n Bishopscourt-skoolgebou, deur Pieter Wenning te koop aangebied. Die regte koper vir die pragwerk het egter nie opgedaag nie, en die werk is nie onmiddellik van die hand gesit nie.