Maryke van Rensburg, eienaar van die aanlynonderneming Freelance Express, deel haar topwenke vir ’n aanlynonderneming
1. Hou nuwe neigings en modes dop en pas dit wat jou onderneming bied aan soos wat jy groei. Dit is uiters noodsaaklik om voor te bly op die internet omdat alles so vinnig gebeur.
2. Moenie al jou eiers in een mandjie sit nie. As jy byvoorbeeld webtuiste-ontwerp doen, maak een webtuiste wat die “Rolls Royce”-pakkette aanbied vir die kliënt wat na iets unieks op soek is en nie omgee om te betaal nie. Maak dan ook ’n tweede webwerf waar jy begrotingspakkette aanbied vir die kliënt wat pas met ’n onderneming begin het.
3. Voeg ander produkte by waarvoor jy kommissie verdien. ’n Goeie voorbeeld is om kragte met iemand wat ondernemings registreer en ’n grafiese ontwerper saam te snoer. Jy kan dan ’n pakket aanbied vir jou kliënt wat vir hom alles gee, van besigheidregistrasie, logo-ontwerp, webtuiste-ontwerp, bemarking tot gedrukte produkte soos besigheidskaartjies en pamflette.
4. Reageer altyd op navrae. “Ek het al so baie mense hoor kla dat hulle aanlyn vorms invul en dan nooit van die besighede hoor nie. Dit is ’n geweldige frustrasie vir ’n potensiële kliënt.”
5. Kontakbesonderhede moet prominent op jou webwerf voorkom. “Mense vertrou nie posadresse nie. As jy ernstig is oor ’n aanlynonderneming, maak van ’n fisieke adres gebruik.”
6. Belowe liewer minder en lewer dan meer as wat verwag word. “Probeer altyd vir jou kliënt ’n ietsie ekstra te gee of om waarde toe te voeg.”
7. Onthou om altyd ‘n getuigskrif van jou kliënt te kry. “Aanlyn is dit baie belangrik dat mense kan sien dat jy reeds kliënte het wat tevrede is.”
8. Sekuriteit – dis seker die belangrikste. “Maak seker jou diensverskaffer se hardeware en sagteware is teen kuberaanvalle beveilig en dat hulle gereeld totale rugsteunkopieë van jou webtuiste maak. Dit sluit jou e-pos-adresse, webtuiste en databasisse in. Daar is niks so erg om jou webwerf te besoek en jy kom agter dit is ge-‘hack’ nie en jou diensverskaffer het nie ’n rugsteunkopie nie. Jou onderneming en inkomste kan in ’n oogwink verlore wees as jy nie die regte voorsorgmaatreëls tref nie.”