Eens op ‘n tyd het julle mekaar hartstogtelik liefgehad. Maar nou is daar niks oor nie. Is daar hoop? As jy ons wenke volg, is daar dalk.
“Ek is al lank in ’n verhouding, maar dit voel of die liefde leeggeloop het. Ek verstaan dit nie – ons is albei jonk, reeds verloof, maar daar’s geen oemf nie. Hoe kan ’n mens aan trou dink as jy so leeg voel binne en jou verloofde maak of als piekfyn is?”
Dis die noodkreet van ’n jong Vrouekeurleser in die brieweblad.
My man het verval in ‘n gemaksone
Vir Jana Scholtz* is hierdie brief iets waar mee sy haar kan vereenselwig. Die verskil is net: sy en haar man is al jare lank getroud en het ook twee kinders saam. Sy het nou haar man vir ’n egskeiding gedagvaar.
“Die vonk is weg – daar is geen romanse meer oor nie. Ek het gegee en gegee om my man gelukkig en ons huwelik aan die gang te hou. Maar daar is niks meer oor om te gee nie. My man is in ’n gemaksone in ons huwelik – hy het tot op die einde bly glo alles is 100% en was erg ontsteld en verwytend toe ek sê ek wil skei."
Jana erken eerlik sy wil nie vir berading gaan nie.
“Die lus om die verhouding weer aan die gang te kry, is eenvoudig nie meer daar nie. My man is vir my ’n vreemdeling.”
Sy sê hul vervreemding kom oor ’n lang tyd.
“Ek het op ’n dag besef: ons is bymekaar net uit gewoonte. Ek staan nie meer op met ’n vonkel in die oog nie. Ek voel eenvoudig niks meer vir hom nie. Toe moes ek ’n besluit neem: gaan ek so aan of gaan ek skei?”
Die besluit om te skei het nie maklik gekom nie, vertel sy. “Ons lewe was so inmekaargeweef met eiendomme, finansies, werk, kinders en tienduisend ander goed. Ek moes dit alles teen mekaar opweeg en besluit wat die implikasies sou wees en wat ek vir die toekoms wou hê.
"Maar ek het besef as ek langer bly, gaan ek myself heeltemal verloor, want hy sal nie verander nie.”
Wat is liefde?
“Die liefde is soos koors; dit kom en gaan sonder dat jou wil enige sê het,” word Henry Beyle Stendahl graag aangehaal.
Maar Bea Potgieter, sielkundige van Pretoria, verskil van hierdie stelling. Sy reken deel van die probleem is dat mense ’n wanpersepsie het van wat liefde werklik is.
“Waarna die meeste mense aan die einde van ’n verbrokkelde huwelik of verhouding verwys, het gewoonlik met ’n gevoel te doen van ‘ons hoort nie meer saam nie’ of mense praat van ‘ons kom nie meer oor die weg nie’,” vertel Bea.
Sy sê mense voer ook redes aan soos dat hulle nie meer tyd saam bestee nie, verskillende belangstellings het, nooit meer saam lag nie of te dat as ’n mens weer verlief wil raak, jy liefdevol moet begin optree. Bea sê almal streef na liefde, maar dit bly moeilik definieerbaar.
“Die wat waag, sal dit vaag omskryf as ’n komplekse mengsel van biologie, chemie, gedrag en dieper psigologie.”
Sy sê die mens besit nie liefde nie, “maar besit wel die bestanddele wat elke dag in ’n feesmaal kan omskep. Dit is ’n dagtaak, lewenstaak, projek sonder einddatum, wilsbesluit en toegewydheid.”
Kenmerke van liefdevolle verhoudings
- respek en vertroue
- suksesvolle konflikhantering
- emosionele en seksuele intimiteit
- pret, belangstelling en gedeelde identiteit
- ’n gevoel van veiligheid en sekuriteit
- gelykheid en ’n gesonde magsbalans.
Bea verduidelik dat verhoudings deur ontwikkelingstadia gaan.
“Elke fase bring sy eie unieke uitdagings. Die liefde is gewoonlik makliker in die eerste romantiese fase omdat dit met min moeite (en baie chemie) gepaardgaan. Paartjies het in die beginfase van hul verhouding ’n baie idealistiese prentjie van mekaar en is meestal onbewus van hoe onbewuste behoeftes, verwagtinge en wense hul aangetrokkenheid tot mekaar bevorder.
“Dit raak moeiliker soos die verhouding verouder en ’n groter verantwoordelikheid word en meer doelbewuste handeling is daagliks nodig om te sorg dat hierdie bestanddele nie opraak nie.”
Bea beklemtoon dat dit belangrik is om te besef liefde is nie ’n gevoel waaruit gedrag spruit nie, maar dat liefdevolle gedrag wel ’n gevoel van liefde kan kweek.
“Dit is gewoonlik wanneer paartjies ophou aandag hieraan gee dat die liefde vergaan … die liefde bly nie daar waar dit nie meer welkom is nie.”
Jy kan die liefde herwin
Elke paartjie wat van die bogenoemde bestanddele het, behoort liefde te kan terugwin, sê Bea, mits hulle bereid is om selfondersoek te doen, hul verhouding vir kwetsbaarheid en tekortkominge te ondersoek en die nodige beleggings wil maak.
“Daar is egter verhoudings wat moeilik weer na hul eertydse glorie sal terugkeer of na vernuwing kan beweeg.
Kenmerke van verhoudings wat moeilik herstel kan word:
- konstante, destruktiewe konflik met weinig oplossings
- die ontkenning van verantwoordelikheid en verantwoordbaarheid, onbereidwilligheid om te groei en leer
- fisieke en emosionele mishandeling
- alkoholmisbruik of verslawing.
Bea sê onder geleerdes word daar baie gedebatteer of liefde wat nie wederkerig is nie werklik as liefde gedefinieer kan word.
“Dis grotendeels omdat die liefde weer liefde kweek. ’n Gesonde balans tussen gee en neem is ’n kenmerk van gesonde liefde.”
Sy sê die belangrikste taak vir die herwinning van liefde is eerstens om ’n veilige ruimte vir kommunikasie te skep, waar in begrip, erken ning en meegevoel kan plaas vind.
“Paartjies weet dikwels nie hoe om met mekaar te kommunikeer sonder om in die slaggate van destruktiewe kommunikasie te trap nie. In die eerste plek luister hulle nie vir mekaar nie, tweedens erken hulle nie dat die ander mens se realiteit ook geldig is nie en laastens kan hulle nie met mekaar empatie toon nie.
“Hulle kan dus slegs in ’n veilige ruimte oor hul frustrasies praat en versoeke vir behoefte bevrediging aan mekaar rig. Dis harde werk en hierdie vaardighede kom nie altyd natuurlik nie. Maar met die fasilitering en hulp van ’n professionele terapeut wat in verhoudings spesialiseer, kan ’n paartjie die liefde weer herwin.”
Sit die vonk terug
Bea se 23 maniere om die oemf in jul verhouding terug te sit
- Behandel jou maat soos jy jou baas, beste vriend of kliënt sou behandel – met respek. Onthou goeie maniere kos niks nie.
- Dink oor wat jou maat graag wil hê en gee dit vir hom – dit sal hom spesiaal laat voel.
- Dink hoe jy jou maat kan verras. Onthou jy nog al die moeite wat jy aan die begin gedoen het toe jy hom nog wou beïndruk?
- Doen moeite met jou voorkoms. Koop sexy onderklere, laat doen jou hare, en gaan gimnasium toe.
- Plaas ’n wag voor jou mond as dit by negatiewe kommentaar kom.
- Bring gereeld tyd alleen saam deur. Kry ’n oppasser vir die kinders en maak ’n afspraak met mekaar.
- Komplimenteer jou maat – dit sal hom laat blom.
- Deel jou behoeftes met jou maat. Vertel vir hom wat jy regtig graag van hom wil hê, sonder om verwytend te wees.
- Raak jou maat fisiek aan … sonder om seks te verwag. ’n Drukkie en soentjie of oogkontak by ’n braai kan die vonk help terugsit.
- Doen moeite om jul kommunikasievaardighede op te knap. Gaan op ’n kursus as dit moet, so dat julle kan leer om konstruktief te kommunikeer.
- Sê opreg dankie en wys waardering as jou maat iets vir jou doen.
- Maak dit ’n gewoonte om te gesels as julle van die werk af kom, al is dit net vir ’n minuut of twee om vinnig uit te vind hoe jul dag was.
- Sê gereeld vir jou maat jy is lief vir hom.
- Ondersteun hom as hy deur ’n moeilike tyd gaan.
- Moenie die seksuele sy van jul verhouding afskeep nie.
- Sit die TV af en gesels liewer met mekaar – TV steel baie saamgroeityd.
- Maak oogkontak met jou maat en luister regtig as hy praat. Wees ook op die uitkyk vir dit wat hy nie sê nie.
- As jy van jou maat verskil, let op hoe jy dit doen. Is jy te aggressief of dalk neerhalend? Konflik is ’n natuurlike deel van enige verhouding, maar julle moet dit konstruktief hanteer. Moenie net stilbly om konflik te vermy nie, maar leer hoe om positief van mekaar te verskil en ’n kompromie te bereik.
- Vra jou maat oop vrae om kommunikasie aan te moedig, soos “Wat dink jy van …”
- Vervang jou “jy-boodskappe” met “ek-boodskappe”. Vervang byvoorbeeld “Jy moet sesuur tuis wees” met “Ek sal dit regtig waardeer as jy sesuur hier kan wees”. Dit wys dat jy jou maat respekteer, maar gee jou kans om ook jou gevoelens te lug.
- Maak ’n lysie van jou maat se goeie eienskappe en deel dit met hom. Vertel hom hoe kom jy dink dit is waar. Vra jou maat om dieselfde vir jou te doen.
- Respekteer mekaar se privaatheid en ruimte – binne perke.
- Behou jul sin vir humor. Dit kan nie net konflik help ontlont nie, maar sal julle help om perspektief te behou en mekaar te geniet.
*Skuilnaam