Die wenners van die Media24 Boeke Literêre Pryse vir 2016 is vandeesweek in Kaapstad aangekondig.
Maryke Roberts
Meer as 50 boeke wat in 2015 by uitgewers in die Media24-stal verskyn het, is ingeskryf vir dié pryse met ‘n gesamentlike prysgeld van meer as R200 000.
Van die vererings word al sedert 1962 uitgedeel, het Eloise Wessels, besturende direkteur NB-Uitgewers, vertel.
Marianne Tham was die seremoniemeester en die akteur Deon Lotz het voorlesings uit elke wen-boek gedoen.
Die wenner van die WA Hofmeyr-prys vir Afrikaanse fiksie is Ingrid Winterbach vir haar roman Vlakwater, (Human & Rousseau). Dit is die vierde keer dat Winterbach hierdie belangrike prys ontvang.
Die Herman Charles Bosman-prys vir Engelse fiksie is toegeken aan Finuala Dowling vir The Fetch (Kwela).
Milton Shain het die Recht Malan-prys vir niefiksie verower met sy A Perfect Storm: Antisemitism in South Africa 1930-1948 (Jonathan Ball). Gilbert Gibson is met die Elisabeth Eybers-prys vir poësie beloon vir sy bundel Vry-.
Die MER-prys vir jeugromans is toegeken aan Carin Krahtz vir Elton amper famous April en juffrou Brom, (Tafelberg), en die MER-prys vir geïllustreerde kinderboeke aan Elizabeth Wasserman en Astrid Castle (illustreerder) vir Die Dingesfabriek 4: Jannus en Kriek en die tydmasjien,(Tafelberg).
Die beoordelaars was: Vir die WA Hofmeyr-prys: Thys Human, Danie Marais en Bernard Odendaal; vir die Herman Charles Bosman-prys: Johan Jacobs, Molly Brown en Ann Donald; vir die Recht Malan-prys: John Maytham, Elsa van Huyssteen en Max du Preez; vir die Elisabeth Eybers-prys: Henning Pieterse, Antjie Krog en Francois Smith; vir die MER-prys vir jeugromans: Louise Steyn, Verushka Louw en Wendy Maartens; en vir die MER-prys vir geïllustreerde kinderboeke: Lona Gericke, Paddy Bouma en Magdel Vorster.
Marianne Tham was seremoniemeester en Deon Lotz het voorlesings gedoen.
Marlene Malan en die genomineerde skrywer, Daniël Hugo, by die geleentheid.
SOURCES
Clifford Roberts