Ons vra in ons 28 Augustus-uitgawe of Suid-Afrikaners meer oefen. As jy graag wil oefen, maar sukkel om deur te druk, lees hier
Carien Grobler
As jy sukkel om te hou by ’n oefenprogram, saboteer jy waarskynlik jouself deur op jou mislukkings te fokus. Só sê dr Marcia Reynolds, internasionale kenner van emosionele intelligensie en skrywer van die boek Outsmart your brain: How to make success feel easy.
“’n Mens se brein het bewyse van sukses nodig as jy jou nuwe gedrag in ’n gewoonte wil verander,” sê dr Marcia. “Die paadjies in ’n mens se brein is soos ’n rekkie. Jy kan dit rek, maar dit sal terugspring as ’n mens nie aan jouself die bewyse gee dat wat jy wil hê, wel bereikbaar is nie. ’n Mens berus dan by herhalende negatiewe, maar gemaklike gedrag en denkpatrone en gebruik jou brein om jou gedrag te regverdig.”
Volgens dr Marcia is dit veral van toepassing op veranderinge wat moeilik is om te maak. “Aangesien die brein se primêre funksie is om jou te beskerm, sal dit hard werk om te keer dat ’n mens misluk. ’n Mens se emosionele brein werk saam met jou logiese brein om die ongemak van verandering te vermy. Die lewe keer dan na normaal terug selfs al is dit ongesond.”
Sien jou suksesse
Gewoontevorming is die proses waardeur nuwe gedrag in outomatiese gedrag verander. As ’n mens outomaties na jou pakkie sigarette begin soek as jou oë soggens oopgaan, is dit ’n gewoonte. Dit is egter ook ’n gewoonte as ’n mens jou hardloopskoene aantrek en ’n ent gaan draf wanneer jy soggens wakker word.
“Ou gewoontes is moeilik om te breek en nuwe gewoontes is moeilik om te vorm,” sê dr Marcia. “Die rede hiervoor is dat die gedragspatrone wat ’n mens die meeste herhaal, in die paadjies in jou brein afgeëts is. Die goeie nuus is dat ’n mens deur genoeg herhaling nuwe gewoontes kan vorm.”
Sy verduidelik ’n mens kan jou brein se liefde vir die status quo oorkom as jy genoeg positiewe terugvoer oor jou insette ontvang.
Dr Marcia meen dis belangrik om emosioneel aan die positiewe terugvoer verbind te wees. “Pleks daarvan om druk op jouself te plaas om meer te oefen, herinner jouself daaraan hoe lekker dit sal wees om op jou kleinkind se troue te dans of jou vakansie ten volle te geniet. Verbind jou sukses aan die dinge wat jy geniet en waaraan jy waarde heg – dit sal jou help om gemotiveerd te bly.”
Onthou ook om die regte woorde te gebruik wanneer jy jou doelwitte beskryf. Dink aan wat jy wil bereik eerder as wat jy nie meer wil doen nie. “’n Mens se brein verstaan nie die woord ‘moenie’ nie,” sê dr Marcia. “As jy vir jouself sê om nie ’n versnapering te eet voordat jy bed toe gaan nie, herinner jy jouself eintlik daaraan dat jy teen slaaptyd vir iets te ete lus sal wees. Fokus op wat jy wil bereik sodat jy maklik die bewyse van jou sukses kan identifiseer.”
Volgens dr Marcia is persoonlike verandering meer geneig om suksesvol te wees wanneer ’n mens ’n punt daarvan maak om elke dag jou suksesse raak te sien. Só word jou doelwitte mettertyd gewoontes en uiteindelik word jy die mens wat jy voor jou geestesoog gesien het.
“Wanneer ’n mens gereeld die bewyse van jou suksesse identifiseer en erken, gee jy die werklikheid ’n geleentheid om voor jou oë te ontvou. Hoe meer jy die positiewe impak van jou harde werk en uithouvermoë erken, hoe meer sal jy in beheer voel.”
Doen dit só
1 Hou jou doelwitte klein. As jy jou doelwitte in bereikbare dele opbreek, sal jy meer gereeld suksesse hê om te vier.
2 Skryf oor jou suksesse. Skryf in ’n joernaal daaroor wanneer jy sukses behaal sodat dit tasbaar word en jy dit kan lees wanneer jy moedeloos voel.
3 Gesels oor jou oorwinnings. Kies iemand wat opgewonde sal wees oor jou oorwinnings en dit saam met jou sal vier.
4 Beloon jouself. Bepaal vooraf hoe jy jouself vir elke mylpaal op pad na jou doelwit gaan beloon. As jy byvoorbeeld 5 km wil hardloop, kan jy jouself met iets bederf sodra jy dit doen.
5 Wees geduldig met jouself. Moenie jouself kritiseer en in blaam, spyt en selfhaat verdrink wanneer jy misluk nie. Wees gaaf en geduldig met jouself. Kyk na jou joernaal met suksesse en proe die soet smaak van trots oor wat jy reeds bereik het.
Probeer hierdie wenke om jou doelwitte makliker te bereik:
VERTROU JOUSELF MEER Identifiseer jou talente en kyk na alles wat jy tot nou toe bereik het – gee jouself die bewyse dat jy suksesvol sal wees selfs al maak jy foute langs die pad.
IDENTIFISEER JOU HULPBRONNE Bepaal hoe jy toegang tot die hulpbronne kan kry wat jou kan help om sukses te behaal.
WEES BEREID OM RISIKO’S TE NEEM “As jy bereid is om vorentoe te beweeg sonder die waarborg dat jy suksesvol sal wees, het jy die kans om die uitsonderlike vreugde van sukses te ervaar,” sê dr Marcia. “Jy mag dalk teleurgesteld, verleë en gefrustreerd voel wanneer jy struikel, maar jy kan opstaan met die wysheid en perspektief van wat jy uit jou pogings geleer het.”
ONTWIKKEL ’N POSITIEWE BENADERING Moenie op die ergste fokus wat kan gebeur nie, maar fokus op wat moontlik is as jy jou hele gewig agter jou doelwit ingooi.