Lees in ons 16 Mei-uitgawe meer oor entrepreneurs. Hier is wenke om jou eie onderneming te begin
HENDRIEN LOUW
Baie mense assosieer entrepreneurskap met totale vryheid, onbeperkte geleenthede, rykdom en drome wat waar word. Maar om ‘n nuwe onderneming te begin, moet ‘n welbedagte besluit wees. Baie nuwe sake-eienaars faal vinnig as hulle nie hul huiswerk doen nie. Hier is ons topvyfwenke vir sakesukses:
1. Doen wat jy ken
Moenie ‘n onderneming begin net omdat jy dink dit gaan jou baie geld in die sak bring nie. Doen iets wat vir jou lekker is. ‘n Onderneming wat gegrond is op jou sterk punte en talente se kanse op oorlewing is soveel groter.
2. Gedra jou soos ‘n groentjie
Vergeet van groot kantore, ‘n luukse koffiemasjien of ‘n duur visitekaartjies. Jou beursie is jou onderneming se lewensbloed. Wees snoep met jou geld aan die begin en bestuur jou uitgawes noukeurig.
3. Onthou om jou onderneming aanlyn te bemark
Ons leef in ‘n digitale era en as jy klante wil lok is ‘n webtuiste, blog, Facebook- en Twitter-rekening onontbeerlik. Daarsonder kan jy net sowel nie bestaan nie. Dink by jouself: Wanneer laas het jy ‘n onderneming in die telefoonboek opgesoek? Google is ‘n baie magtige wapen.
4. Die regte prys
Moenie vir ‘n appel en ‘n ei werk nie. Baie keer sal nuwe sake-eienaars hul produk of diens teen ‘n winskopie aanbied om klante te lok. Dis ‘n fout, want ‘n goedkoper produk word dikwels met swakker gehalte geassosieer. Doen navorsing oor jou mededingers of soortgelyke produkte en baseer jou prys daarop. Jy begin mos die besigheid om jou inkomste te verhoog, nie om verniet te werk nie.
5. Knyp jou oë toe en spring
Neem ‘n risiko. Om ‘n entrepreneur te wees beteken mens moet vreesloos wees. Markte verander, ongelukke gebeur, niks is vir seker nie. Wat uitstekende sakemense onderskei van die miljoene mense wat vir ‘n salaris werk is hul moed om ‘n kans te waag. Die lewe is te kort om bang te wees vir mislukking.
JOU EIE ONDERNEMING … 1, 2, 3
Stap 1 Reg, jy het besluit jy wil ‘n onderneming begin. Maar hoe pak jy dit aan? Voor jy jou kantoorwerk los, kan jy baie voorbereiding doen:
• Doen navorsing oor jou idee. Kyk of daar ‘n mark is vir jou produk of diens, gesels met potensiële klante oor wat hulle wil hê en vind uit wie jou kompetisie is.
• Doen finansiële projeksies en stel ‘n sakeplan op as jy ‘n lening by die bank gaan nodig hê.
• Besluit waar jy handel gaan dryf. Is dit ‘n tuisonderneming of wil jy ‘n restaurant of skoonheidsalon begin.
• Ontwikkel jou handelsmerk en stel ‘n bemarkingsplan op.
• Eis ‘n URL vir jou webadres op en bou ‘n webwerf. Kry ‘n werkse-posadres.
• Kry solank ‘n bankrekening vir jou onderneming.
Stap 2 Goed, tyd vir aksie. Nou moet jou onderneming geregistreer word. Daarvoor sal jy by die kommissie vir maatskappye en intellektuele eiendom (CIPC) moet aanklop. Dit is ‘n afdeling van die departement van handel en nywerheid en die kommissie is verantwoordelik vir die registrasie van maatskappye, koöperatiewe en intellektuele eiendomsregte. Besoek hul webwerf by www.cipc.co.za om te kyk of die naam wat jy vir jou onderneming wil gebruik beskikbaar is. Daarna kan jy jou onderneming registreer. Al die vorms is op die webwerf beskikbaar sowel as hoeveel dit kos.
Stap 3 Registreer vir belasting by die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SARS). Dit moet by ‘n plaaslike inkomstedienskantoor plaasvind. Om uit te vind waar jou naaste kantoor is, bel 0800 00 72 77 of besoek www.sars.gov.za.
Soek hier hulp!
Seda, oftewel die Small Business Development Agency, is ‘n bron van onskatbare inligting vir alle voornemende nuwe sake-eienaars. Hulle is geaffilieer met die departement van handel en nywerheid en bied ‘n magdom nuttige inligting, van hoe ‘n mens tender, personeel aanstel en marknavorsing doen tot waar om vir finansiële steun te soek. Besoek www.seda.org.za.
WEN! WEN! WEN!
Eloïse de Bruyn en Sherry Hoogenhout inspireer ons dié week met hul waagmoed om ‘n eie onderneming te begin – Eloïse met haar Pilatesateljee en Sherry met haar gastehuis. Hulle bied Vrouekeur-lesers die kans om te kom kyk hoe word dit gedoen.
5 lesers kan vyf Pilates-groepklasse by Eloïse se ateljee in Little Falls, Johannesburg, en een paartjie kan ‘n week se selfsorgverblyf by Sherry se elegante Boord Gastehuis op Stellenbosch wen. Om in te skryf, stuur ‘n e-pos met VK PILATES of VK GASTEHUIS in die onderwerpreël voor 21 Mei na [email protected].
Bepalings en voorwaardes: Die Pilatesklasse moet voor Oktober opgeëis word en moet vooraf bespreek word. Gastehuisverblyf moet voor Oktober opgeëis word. Reiskoste na Stellenbosch is uitgesluit.
Little Falls Pilates: Stuur ’n e-pos na [email protected] of bel 079 421 7321 vir besprekings. Boord Gastehuis: Stuur ’n e-pos an [email protected] of bel 082 446 2791 vir besprekings