2015 was ’n jaar wat die atleet Wayde van Niekerk se stoutste verwagtinge oortref het
JACKIE PIENAAR-BRINK
Die tyd het aangebreek dat hy nuwe doelwitte stel en sy lewensverhaal na ’n nóg beter een herskryf, sê die 400 m-blits Wayde van Niekerk. ’n Wintie-in-wording? kan sommige mense dalk wonder by die aanhoor van hierdie stelling.
Maar enigiemand na aan die 23-jarige Wayde kan getuig dat niks verder van die waarheid kan wees nie. Dié naelloper is steeds sy nederige self, al is wêreldroem deel van sy atletiekpakket sedert hy verlede jaar op die Internasionale Atletiekfederasie se wêreldkampioenskap in Beijing ’n goue medalje in die 400 m verower het.
Sy tyd van 43.48 was die vierde vinnigste in die geskiedenis. Dit het hom ook die eerste 400 m-atleet uit Afrika gemaak wat in bykans ’n dekade ’n wêreldtitel losgeslaan het én die 400 m in minder as 44 sekondes afgelê het.
“Ek wil die Here bo alles bedank vir elke enkele dag,” sê die diep gelowige Wayde. “Met sy hulp het ek van krag tot krag gegaan. Ek het soveel struikelblokke oorkom wat ek nie geglo het moontlik is nie. Ek het verlede jaar elke doelwit wat ek gehad het, oorskry en al my bestaande tye en rekords verbeter.”
Die besef dat hy besig is om as atleet te groei, het sy selfvertroue uiteraard ’n hupstoot gegee. “Dis wonderlik om deel van ’n generasie te wees wat ons land se naam op die wêreldverhoog hoog hou. Maar ek wil nóg meer bereik en my land nóg trotser maak.” Al die aandag voel eintlik vir hom nog half onwerklik. “Die warm ontvangs telkens wanneer ek deelneem, is nogal oorweldigend. Ek probeer maar net om my lewe met ’n Godgegewe talent na die beste van my vermoë te lei.” Tog besef hy maar alte goed dat hy nou ’n voorbeeld moet stel. “Ek het die verantwoordelikheid hiervoor aanvaar. Daar is baie mense wat my dophou.”
Wat hierdie familievaste jong man veral ’n warm gevoel om die hart gee, is dat sy sportloopbaan sy familie weer nader aan mekaar gebring het. “Nadat my ouers geskei is, het ons uitmekaargespat en nie meer so baie by mekaar uitgekom nie.” Dinge het egter verander toe hy in 2010 as junior die eerste keer die Suid- Afrikaanse span gehaal het. “Dit het my familie weer met mekaar laat kommunikeer. Ek glo regtig hul ondersteuning het ’n groot rol gespeel in waar ek vandag is.” Daarom dat hy die afgelope Desember om die beurt by al sy familielede in die Kaap gaan kuier het.
Wayde het in Kraaifontein in die Kaap grootgeword. Twee jaar nadat sy ma, Odessa, met sy stiefpa, Steven Swarts, getroud is, is hulle na Bloemfontein verplaas. ’n Jaar in Johannesburg het gevolg voordat hulle na Bloemfontein teruggekeer het, waar Wayde aan Grey Kollege gematrikuleer het. “Akademies het ek maar baie gemiddeld gevaar,” sê hierdie selferkende dromer. “Maar sport was altyd ’n groot liefde. Ek het alles gedoen, van rugby en hoogspring tot atletiek. Uiteindelik was dit egter my naellope wat die grootste potensiaal getoon het.”
Sy ma en stiefpa weet maar te goed wat dit beteken om ’n atleet te wees. Albei het WP-kleure verwerf en is steeds ten nouste by atletiek betrokke. Steven, wat ’n tyd lank afrigter van die Suid-Afrikaanse atletiekspan was, is tans adjunk-president van Atletiek Vrystaat en rig by twee laerskole in Bloemfontein af. Odessa rig ook by ’n laerskool af en behartig die statistiek by Atletiek Vrystaat. Wayde beskryf sy ma as ’n passievolle mens wat bankvas agter haar familie staan. “Ek wil vir haar net wys dat ek haar waardeer en voortgaan om haar trots te maak op my.” Daarbenewens, voeg hy by, is hy met twee pa’s geseën. “Ek het ’n goeie verhouding met my biologiese pa, Wayne. Ek is egter ook baie na aan my stiefpa, saam met wie ek die grootste deel van my grootwordjare deurgebring het. Hy het só baie vir my opgeoffer. Hy het ons altyd eerste gestel, selfs bo homself.” Daarom, toe Wayde einde verlede jaar twee Mercedes-Benz’e gewen het, was dit vir hom voor die hand liggend dat die een na sy stiefpa sou gaan.
Dit was nadat hy op die Suid-Afrikaanse Sporttoekenningsaand nie net deur ’n paneel sportjoernaliste as Sportster van die Jaar aangewys is nie, maar ook as die sportpubliek se gunsteling én Suid-Afrika se Sportman van die Jaar. Buiten die luukse motors, het die toekennings ook met twee pryse van R1 miljoen elk gepaardgegaan. Hiervan moes Wayde die helfte aan liefdadigheidsorganisasies van sy keuse skenk. Die twee wat hy gekies het, was onderskeidelik Food for Kids in Bloemfontein en ’n trust wat by Groote Schuur-hospitaal in Kaapstad vir prematuur-gebore babas gestig is. Wayde het immers self minder as 1 kg geweeg toe hy op 29 weke in die Tygerberg-hospitaal gebore is.
Hy kan steeds nie glo dat Suid-Afrika hóm gekies het bo sportsterre soos die swemmer Chad le Clos, wat as inspirasie vir hóm gedien het nie, sê Wayde. En die toekenningsaand het nog beswaarlik ingesink, toe moes hy Londen toe vlieg vir ’n fotosessie as ’n Adidas-ambassadeur vir vanjaar se Olimpiese Spele in Rio de Janeiro, Brasilië. In Londen, sê Wayde asof steeds verwonderd, het hy die geleentheid gehad om met die wêreld se beste atlete skouers te skuur. “Dit is ’n wonderlike gevoel om te weet al jou harde werk werp vrugte af.
Adidas ondersteun my met klere en reise, wat die lewe soveel makliker maak.” Wayde het in 2012 BA Bemarking aan die Universiteit van die Vrystaat begin studeer en is vasbeslote om sy graad te verwerf. Vanweë sy streng oefenprogram en oorsese deelname het hy egter besluit om sy kursus oor ses pleks van vier jaar te doen. In die praktyk beteken dit dat hy die eerste ses maande van die jaar klasloop, die daaropvolgende vyf maande in Europa deurbring om aan atletiekbyeenkomste deel te neem, en die laaste maand van die jaar met vakansie is. Dis op hierdie einste kampus wat hy sy vriendin Chesney Campbell ontmoet het. Sy is tans ’n junior lektor daar en besig met haar meestersgraad in sosiologie. “Chesney is baie geduldig, toegewyd en gemotiveerd om haarself as mens te verbeter. Sy sal my ook voortdurend uitdaag om nog beter te doen,” verklap hy. “Sy speel ’n groot ondersteunende rol in my lewe.” Wayde en Chesney deel nie net ’n verjaardag nie, maar is ook dieselfde ouderdom: albei word op 15 Julie vanjaar 24.
Oor Ans Botha, sy 75-jarige afrigter by Kovsies, sê hy: “Sy is nie net ’n afrigter nie, maar ook ’n ma-figuur wat altyd iets ekstra insit. Sy gee liefde en aandag aan ál die atlete. Wanneer iemand die dag nie goed voel, is sy bereid om te luister en die program aan te pas. Maar sy is ook baie streng wanneer dit nodig is.”
En wie weet: Dalk is daar binnekort nog ’n Van Niekerk op almal se lippe. Wayde se 18-jarige broer, Craig – wat vanjaar ook aan Kovsies begin studeer het – was verlede jaar die Vrystaatse kampioen in die 400 m. “Hy droom ook van ’n atletiekloopbaan,” sê Wayde. “Hy is baie gemotiveerd en toegewyd en ek sal hom help waar ek kan.” Wayde se hooffokus is nou die Olimpiese Spele in Augustus vanjaar. “Dis waar ek wil wees,” sê die man wat selfs sy hond Rio genoem het na die Brasiliaanse stad waar die Spele aangebied gaan word. “Ek glo ek kan nog veel meer bereik. Ek bring my kant deur fiks en gesond te bly. Ek is reg en gemotiveerd.”
SOURCES
Anna Pittini