Elke mens bied iets unieks in sy vriendskap. Vind uit waar pas jy in …
Shanda Luyt
Jou vriendinne is so uiteenlopend soos die skoene in jou kas: terwyl een jou aan elegante spykerhakkies herinner, laat ander jou aan ‘n lekker paar vellies of ‘n gemaklike stapskoen dink. Ander is soos veerkragtige tekkies wat jou lus laat voel om te oefen.
Het jy al ooit gedink watter plek jý in jou vriendinne se lewe beklee? Ons pas nie een perfek in ‘n vaste vriendskapskassie nie, maar het tog sekere kenmerkende eienskappe. Voltooi ons prettige vraelys en vind uit watter soort vriendin jy is!
1. Jou vriendin reël ‘n groot partytjie. Jy help haar deur …
a. … ‘n paar opwindende idees te gee en dan by die partytjie te skitter en te sorg dat almal hulself geniet.
b. … na haar probleme met die gastelys, tafels en so meer te luister en hand by te sit waar jy kan.
c. … ‘n dinkskrum oor ‘n paar konsepte saam met haar te hou.
d. … prakties te help om kos te maak, tafels te organiseer en te versier, en so meer.
e. … haar af en toe te dwing om te gaan sit sodat jy die spanningsknoppe uit haar skouers kan vryf.
2. As jou vriendinne by jou is, doen hulle gewoonlik die volgende:
a. Hulle lag, drink wyn en vertel grappe.
b. Hulle kla oor hul mans en praat oor hul en ander mense se lewe.
c. Hulle vra raad of soek leiding oor geestelike kwessies en die lewe.
d. Hulle bespreek praktiese kwessies rakende hul tuin, huis of klerekas.
e. Hulle sit agteroor terwyl jy hulle met ‘n lekker massering of koppie koffie bederf.
3. Jou vriendinne bel jou gewoonlik as hulle …
a. … iemand soek om hul dag ‘n bietjie op te vrolik en opwinding te verskaf.
b. … iemand nodig het om mee te praat of sommer net saam mee te wees.
c. … ‘n probleem het wat hulle wil uitsorteer en onpartydige raad soek.
d. … hande en hulp kort om iets gedoen te kry.
e. … moeg en afgemat voel en ‘n bietjie vertroeteling nodig het.
4. Jou vriendin bel en sy klink ontsteld. Jy …
a. … nooi jou vriendin om haar by die partytjie aan te sluit waar jy is sodat sy van haar sorge kan vergeet.
b. … sê vir jou vriendin om te wag, jy is oor 5 min. by haar en vat ‘n boks sneesdoekies saam.
c. … sê simpatiek dat jy kan verstaan dat sy ontsteld is, maar dat julle die saak liewer moet bespreek wanneer sy kalmer is.
d. … sê sy moet môre by jou kom koffie drink – jy het lekker beskuit gebak. Jy is nie goed met emosionele uitbarstings nie.
e. … stel voor dat sy die volgende oggend vir ‘n manikuur en voetmassering kom.
5. Jy sê met oorgawe ja as jou vriendinne jou vra …
a. … om uit te gaan en iets opwindends te doen.
b. … vir ‘n lekker kuier- en skindersessie.
c. … om as klankbord vir ‘n nuwe idee te dien.
d. … om saam iets te maak/bak/in die tuin te werk.
e. … om ‘n ander vriendin te bederf.
6. Jou vriendinne sal jou gewoonlik komplimenteer met woorde soos:
a. “Jy sorg ook altyd vir ‘n bietjie opwinding!”
b. “Jy is altyd daar vir my.”
c. “Niemand gee beter raad as jy nie.”
d. “‘n Mens kan altyd op jou staatmaak.”
e. “Jy het die gawe om my spesiaal te laat voel.”
7. As jou vriendinne jou moes kritiseer, sou hulle dalk sê:
a. Jy is oppervlakkig en stel nie regtig belang in hul dieper emosies nie.
b. Jy skinder te maklik.
c. Jy is te reguit.
d. Jy sien die wêreld te veel as swart of wit en vermy emosionele kwessies.
e. Jy gee baie goed, maar min emosies.
8. Jy voel op jou beste as …
a. … jou vriendinne hulself geniet.
b. … jou vriendinne hul hart by jou uitpraat.
c. … jy ‘n vriendin van goeie raad bedien het.
d. … jy ‘n vriendin se lewe makliker kon maak deur iets vir haar te doen.
e. … jy ‘n vriendin met iets spesiaals kon bederf.
9. ‘n Vriendin het ‘n argument met haar man gehad. Sy bel jou en kort daarna …
a. … gaan verdrink julle saam haar sorge by ‘n nagklub of besluit op koopterapie om haar aandag af te trek. Dis nie jou probleem nie, maar jy kan haar laat beter voel.
b. … sit julle saam in haar sitkamer terwyl sy haar hele storie uitpak met ‘n boks sneesdoekies, terwyl jy haar hand vashou. Jy is lus en bel haar man en sê hom wat jy van hom dink.
c. … ontmoet julle vir koffie in ‘n restaurant terwyl sy haar probleem vir jou uitlê. Jy gee eerlike raad – dis dalk nie wat sy wil hoor nie, maar wel wat sy nodig het. Elke saak het immers twee kante.
d. … bring jy vir haar hele gesin aandete en bied aan om haar kinders te gaan oplaai terwyl sy en haar man hul probleme uitsorteer. Jy wil nie betrokke raak nie.
e. … sit jy ‘n boks sjokolade in haar posbus saam met ‘n bemoedigende boodskappie. As sy beter voel, sal sy makliker haar probleme kan uitsorteer.
10. As jy by ‘n partytjie is, is jy gewoonlik …
a. … die siel van die partytjie.
b. … die een wat eenkant saam met een of twee van jou beste vriendinne kuier.
c. … die een by wie almal vir ‘n interessante gesprek aanklop.
d. … die een wat kyk dat alles agter die skerms vlot verloop.
e. … besig om seker te maak jou vriendinne is gelukkig.
Wie is jy?
Meestal A’s: Die pretvriendin. Jy’s glansryk, sosiaal, impulsief en hou daarvan om die reëls ietwat te buig. As vriendin, is jy ‘n ware tonikum, want jy laat jou vriendinne hul sorge vergeet, weer 21 voel en help hulle om die lekker in die lewe raak te sien. Die lewe is nooit eentonig met jou in die omtrek nie en jy kan die verveligste besoek aan ‘n museum met jou kwinkslae in ‘n vrolike fees verander. Jy mag dalk ‘n bietjie onverantwoordelik voorkom, want jy laat jou nie bind deur konvensie nie en is gek daarna om te oordryf . Jy moedig ook jou vriendinne aan om buite die gebaande weë te beweeg – of dit nou is om nog ‘n glas wyn te drink of om saam met jou ‘n reksprong te gaan doen. Jy is nie die een by wie jou vriendinne raad vra nie (tensy dit is oor wat om na ‘n partytjie toe aan te trek), maar as hulle geselskap soek vir ‘n partytjie of lus voel vir avontuur, bel hulle jou heel eerste.
Meestal B’s: Die vertrouensvriendin. Waarskynlik kom jy en die meeste van jou vriendinne al ‘n lang pad saam. Jy is ‘n kenner as dit kom by die bied van emosionele ondersteuning en sal gereeld vind dat jou vriendinne hul probleme by jou kom afpak en in jou arms kom huil. Jy floreer in hierdie rol en voel baie geëerd dat mense bereid is om hul hartsgeheime met jou te deel. Jy hou daarvan om raad te gee, maar jou raad is dikwels eensydig weens jou lojaliteit teenoor jou vriendin. Jy sê wat sy graag wil hoor. Jy is ‘n baie lojale vriendin en sal stilbly oor werklik intieme geheime, maar jy is oor die algemeen lief vir skinder. Daar is vir jou en jou vriendinne niks lekkerder as om ander se emosies te probeer analiseer en motiewe agter hul gedrag te soek nie. Julle sal ook jul eie motiewe, verhoudings en emosies analiseer. Vir jou vriendinne is jy ‘n anker en iemand by wie hulle tuis en veilig voel en hulle kom ontlaai graag hul emosies by jou – dit gee hulle weer moed om aan te gaan.
Meestal C’s: Die mentorvriendin. Al is jy waarskynlik net so oud soos die meeste van jou vriendinne, is dit asof hulle in jou ‘n bepaalde wysheid herken, daarom klop hulle gereeld vir raad by jou aan. Hulle vertrou jou insig en jy is vir hulle ‘n klankbord oor alles, van hul liefdeslewe tot werkskwessies. Dit help dat jy die gawe het om te weet wanneer om stil te bly en wanneer om te praat. Boonop is jy onkreukbaar eerlik, sonder om onnodig wreed te wees. Jy sal nie raad gee wat jy nie werklik bedoel nie. Dit kan van jou vriendinne dalk by tye ontstel, maar op die duur respekteer hulle jou daarvoor. Jou vriendinne sal nie elke keer wat hulle net ‘n bietjie ontlading soek by jou kom afpak nie omdat hulle jou dalk bietjie intimiderend vind, maar sal jou met hul werklike groot besluite nader. Jy is dalk nie die eerste een wat genooi word vir ‘n rolprent of inkopie-uitstappie nie, maar jy is vir jou vriendinne baie belangrik.
Meestal D’s: Die praktiese vriendin. Jy voel nie werklik op jou gemak in emosionele situasies nie, maar in ‘n noodsituasie is jy die eerste een wat jou vriendinne sal bel. Jy sal beheer oor die situasie neem en sorg dat die nodige gedoen word of dit nou is om te reël dat jou vriendin se kinders versorg word, om koekies vir ‘n partytjie te bak of om haar te help om haar groen swembad uit te sorteer. Omdat jy so prakties ingestel is en dinge wil “doen” eerder as om net daaroor te praat of dit te oordink, kan jy dalk vir ‘n vriendin wat eintlik net emosioneel wil ontlaai ‘n bietjie onsimpatiek oorkom. Jy kan ook maklik ongeduldig raak as jy voel jou vriendin steek by die emosionele vas terwyl jy voel dit is tyd dat sy aanbeweeg. Aan die ander kant, weet jou vriendinne dat jy altyd gereed staan om te help en dat niks ooit vir jou te veel moeite is nie. Jy het boonop ‘n hele rits talente wat jy in dié verband kan aanwend, van binnehuisversiering en bak tot partytjies organiseer. Jy staan met jou voete vas op die grond en jou vriendinne weet presies wat hulle aan jou het.
Meestal E’s: Die koestervriendin. Jy is uiters sensitief vir jou vriendinne se behoeftes en geniet dit om hulle beter oor hulself te laat voel. Dit laat jou goed voel as jy weet jy help om ander gelukkig te maak. Jy besef die waarde van ‘n e-pos of SMS met ‘n bemoedigende boodskap op die regte tyd en doen moeite met die klein goedjies. Jy dra geskenkies en eetgoed aan, bederf hulle met masserings en manikure, en vertel hulle hoe mooi hulle lyk. As jou vriendinne ‘n bietjie moeg vir die lewe voel, is jý die een wat hulle sal opsoek, want by jou is hulle verseker van ‘n bietjie koestering en bederf. Tog is dit belangrik dat jy onthou om ook na jouself te kyk en nie toe te laat dat jou vriendinne jou as vanselfsprekend aanvaar of misbruik nie – jou vriendskappe kan maklik eensydig raak waar een net heeltyd gee en die ander ontvang en dan kan jy later begin wrewelrig voel. Jou soort onselfsugtige vriendskap is kosbaar, maar jy moet dit ook na waarde ag.