Waterhouse se Hylas and the Nymphs is einde Januarie uit die Manchester-kunsmuseum verwyder en poskaarte van dié skildery is aan die museum se snuisterywinkel onttrek
Deur JOHAN MYBURG
In 1896 het die Manchester-kunsmuseum in Engeland ’n skildery van John William Waterhouse (1849–1917) aangekoop. Dié skildery, Hylas and the Nymphs, in die styl van die Pre- Rafaelitiese Broederskap geskilder, verbeeld die klassieke mite van Hylas, ’n jongeling met ’n blou jurk en ’n rooi gordel wat by ’n poel gaan water drink. Daar kom hy sewe jong waternimfe teë wat hom ontvoer.
Dié ontvoering van Hylas het in die klassieke tradisie van die Westerse kunsgeskiedenis meermale gestalte gekry – onder meer ook in die werk van Waterhouse se medekunstenaar Henrietta Rae (1859–1928). Maar Waterhouse se Hylas and the Nymphs is einde Januarie uit die kunssaal met die naam In Pursuit of Beauty verwyder en poskaarte van dié skildery is aan die museum se snuisterywinkel onttrek. Die kurators van die Manchester-museum voer aan dié onttrekking dien as ’n manier om ’n gesprek aan die gang te kry oor die interpretasie van “só ’n werk” in die konteks van #MeToo en #TimesUp, veldtogte op sosiale media wat bewusmaking oor seksuele teistering en aanranding wil skep.
Die verwydering van dié skildery het gevolg kort nadat daar druk op die Metropolitan Museum of Art in die VSA was om ’n skildery van die Frans-Poolse kunstenaar Balthus (1908–2001) af te haal. ’n Petisie is einde November begin om die museum te dwing om dié skildery, Thérèse Dreaming, wat sedert 1998 in die museum hang, te verwyder. Die opsteller van die petisie het na dié skildery verwys as ’n “suggestiewe skildery van ’n meisie in haar puberteitsjare”. Mia Merrill, die New Yorker wat die petisie op dreef gekry het, het onder meer aangevoer die museum is besig om “miskien onbedoeld, voyeurisme en die objektivering van kinders te bevorder”.
LEES OOK: Kuns: Andy Warhol
Die Met se antwoord was eenvoudig: “Die Metropolitan se oogmerk is om belangrike kunswerke uit alle eras en kulture te versamel, te bestudeer, te beskerm en te vertoon om die publiek aan kreatiwiteit, inligting en gedagtes bloot te stel. “Dit is tye soos dié wat ’n geleentheid bied vir gesprek en die visuele kunste is een van die belangrikste maniere wat daar is om te reflekteer op die verlede asook die hede, en om die voortgesette ontwikkeling van bestaande kultuur deur sinvolle gesprek en respek vir kreatiewe uitdrukking voor te sit.” Die Met het nié die Balthus verwyder nie.
Soos ’n mens jou kan voorstel, het sosiale media gegons van die argumente vir en teen die museum se besluit, soos die geval was met die museum in Manchester. Wat in albei gevalle onontbeerlik is, is die werk van ’n kurator wat konteks en veral historiese konteks kan uitwys. In plaas daarvan om die werk uit die galery of museum te verwyder, is ’n groter uitstalling waarin die “problematiese” werke ingesluit word ’n sinvoller manier om oor ’n gemeenskapskwessie te kan praat. Dit is immers die kurator se werk om toe te sien dat die publiek toegang tot die kunswerk het en om leidrade – en daar is talle maniere – te gee om nie net die werk te verstaan nie, maar ook ’n breër begrip te kry. Soos die vraag wie werklik verobjektiveer word in Waterhouse se skildery. Is dit nie dalk die Hylas-figuur nie? As alle kuns wat kwansuis aanstoot gee voor die voet verwyder word, is die samelewing soveel slegter daaraan toe.