Daar is sekerlik niemand wat nog nie van vitamien C gehoor het nie, maar weet jy regtig hoekom dit so belangrik is?
Daar is sekerlik niemand wat nog nie van vitamien C gehoor het nie, maar weet jy regtig hoekom dit so belangrik is?
Vitamien C, ook bekend as askorbiensuur, wat deur talle gesondheidskenners aanbeveel word, is inderdaad ’n fassinerende en belangrike voedingstof vir die mens. Wateroplosbare vitamiene sluit vitamien C en die B vitamiene in.
As ’n oormaat van wateroplosbare vitamiene ingeneem word, word dit deur die urine uitgeskei. Dit word nie gewoonlik met toksisiteit verbind nie. Vitamien C en die B-vitamiene word ook in die lewer gestoor. Dit is interessant om daarop te let dat die meeste diere hul eie vitamien C vervaardig, maar dat die mens, primate (ape, sjimpansees, ens) en marmotjies hierdie vermoë verloor het. Vanweë dié ooreenkoms is marmotjies oor die jare aan eksperimente onderwerp. ’n Tekort aan vitamien C het ’n siekte genaamd skeurbuik tot gevolg. Skeurbuik word deesdae selde gesien, behalwe miskien by alkoholiste wat hul totale kalorie-inname uit alkohol kry.
Skeurbuik veroorsaak bloeding en ontsteekte tandvleis, los tande, wonde wat moeilik gesond word en talle ander probleme. ’n Skotse dokter, Ajmes Lind, het reeds in 1753 gesê vars groente en ryp vrugte kan skeurbuik voorkom. Die Britse weermag het 40 jaar later sy raad vir hul matrose gevolg en daarna was die matrose as “limeys” bekend omdat hulle lemmetjiesap gedrink het tydens hul seereise om skeurbuik te voorkom.
Vitamien C kom voor in sitrusvrugte soos lemoene, nartjies, lemmetjies en pomelo’s en in groente soos tamaties, soetrissies, aartappels en baie meer. Vitamien C word maklik in die kosvoorbereidingsproses vernietig, soos wanneer dit opgekap, aan lug blootgestel, gekook en onder water gedompel word.
Verhoog jou vitamien C-inname
- Eet minstens een sitrusvrug per dag.
- Gebruik vars suurlemoensap in slaaisouse.
- Sny soetrissie in jou slaai in.
- Moenie jou groente doodkook nie, stoom dit vir hoogstens vyf minute.
– Priya Lalla, SA Suikervereniging