Altyd moeg? Jy kan dit nie net op min slaap en lang werksure blameer nie. Soms is daar veel meer wat pla, skryf Zerelda Esterhuizen
Jy het agt uur lank geslaap, maar jy bly moeg. Jy het skaars opgestaan of jy wens jy kan weer in die bed klim. Klink dit bekend? Natuurlik kan jy baie dinge blameer soos jou dieet, gebrek aan oefening en werk, maar daar kan ook ander oorsake wees.
Dr Irene Strydom, ’n sielkundige wat op Wellington en Stellenbosch praktiseer, sê energie kan in die sielkunde beskryf word as die krag of entoesiasme waarmee ons ’n aktiwiteit aanpak. “Ons kry heelwat wat ons lewensenergie van ons liggaam – dit hou dus direk met die stand van ons gesondheid verband.”
Sy noem die volgende
1. As jou energievlakke laag is, kyk na jou gesondheid.
2. Kyk dan na jou sielkundige toestand. As jy byvoorbeeld in onsekerheid leef, sal daar heelwat van jou lewensenergie daaraan gewy word. Al die aspekte van jou onsekerheid word dan vervat in die spesifieke situasie en lei tot ’n gekwelde persoon in ’n belaaide twyfelagtigheid. As jy dan by ’n sielkundige kan uitkom, kan daar redelik vinnig bepaal word wat die kwessies is waarmee gewerk moet word. Die liggaams- en sielkundige stelsels is dus albei gereed om te ontlaai.
3. As ’n mens min keuses het, kan daar heelwat energie afgestaan word daaraan om die hopelose stand van sake te onderhou, of om na nuwe geleenthede te begin soek. Min keuses kan op die duur trauma veroorsaak. Ons is veronderstel om as mense voortdurend te groei en te ontwikkel. As ons stagneer, beteken dit dat ons nie meer genoeg psigiese energie het om emosionele en fisieke groei te bevorder nie.
Negatiwiteit vs energie
Irene sê dis inderdaad so dat negatiewe gevoelens (soos hartseer, verveeldheid, woede en stres) jou energie kan opeis. Jy kan egter kies hoe jy op hierdie gevoelens reageer en dit omkeer. Jy sal moontlik ’n groot verskil in jou energievlakke kan sien.
• Moenie jou vrees, angs en stres opkrop nie. Dit kan die wêreld se verskil maak as jy met ander mense daaroor gesels. Sorg dat jou emosies jou nie dreineer nie. Kry dit uit, sê www.webmd.com.
• Laat jou wrokke gaan. Die soort stres is nie goed vir jou liggaam nie en sal noodwendig ’n impak op jou immuunstelsel en energievlakke hê. Maar hoe laat jy dit gaan? Oefen om te vergewe. Sê dit oor en oor sodat jy jouself kan glo.
• ’n Mens voel goed oor jouself as jy goed vir jou medemens is. Dit klink soos ’n selfhelppraatjie, maar probeer dit en kyk hoe energiek jy voel as jy iets vir iemand doen.
• Moenie maak of als oukei is as dit nie is nie. Marc en Angel Chernoff is lewensgidse en skrywers in Amerika. Hulle sê jy moenie skaam wees om te erken as jy oorweldig voel nie. Jy mag uitgeput en moedeloos voel. Huil as jy moet en praat daaroor.
• Laat jou verlede gaan. Nie almal van ons het storieboekverledes nie en die meeste van ons moes al pyn, verwerping of ander negatiewe ervarings hanteer. Jy sal meer energiek voel as jy op die toekoms eerder as die verlede fokus.
• Gryp verandering en groei aan. Daar’s ’n sekere veiligheid aan roetine wat gerusstellend is, sê Marc en Angel. Maar keer dit jou groei? As jy verandering in die gesig staar, hanteer dit en stort energie daarin sodat jy kan groei.
• Laat jou kommer gaan. Bekommer jy jou oor dinge wat jy nie kan verander nie? Kommer is ’n negatiewe gewoonte, wat ons energie dreineer. Vra jouself eerder af wat regtig belangrik is en fokus op wat jy het.
• Het jy jouself verloor? In die harwar van werk, huis, kinders, familie en rekeninge is dit maklik om te vergeet wie jy is en wat jy geniet. As jy jouself nie versorg nie, gaan niemand anders dit moontlik doen nie. Doen iets vir jouself, oefen, begin ’n stokperdjie, skryf iets. Solank jy dit vir jouself doen.
• Wys energievampiere waar die deur is. Mense wat jou misbruik en negatief, verneder en basies sleg laat voel, tap jou kragte. Herbesin negatiewe verhoudings.
Hoe keer ek dat my energie vermors?
Irene gee dié wenke:
• Probeer om aan jou onsekerhede te werk.
• Probeer om vir jouself altyd soveel as moontlik keuses te genereer.
• Kies altyd die geleentheid wat groei in jou sal bevorder, al gaan dit soms met ongemak gepaard.
• Die lewe gaan uiteindelik daaroor om moeiteloos (effortlessly) te lewe – kom by ’n punt uit waar jy jou daaglikse energie wys kan aanwend.
Praktiese wenke vir meer energie
1. Eet ontbyt selfs al is jy nie honger nie. ’n Bakkie ontbytpap sal aldus studies aan die Cardiff-universiteit in Brittanje, laer vlakke van die streshormoon kortisol tot gevolg hê. Genoeg vesel gee jou energie.
2. Eet elke twee tot drie uur kleinerige maaltye en tusseninhappies. Dit sal verseker dat jou bloedsuiker en energievlakke die hele dag stabiel bly. “Klein” is hier die wagwoord, want groot maaltye verg eintlik meer energie om te verwerk.
3. Volgens die webwerf www.today.com is klein maaltye met koolhidrate, proteïene en gesonde vette belangrik.
4. Omega-3-vetsure word in vis soos tuna en salm, okkerneute en kanola-olie gevind en dit hou breinselle gesond en help jou brein om wakker te bly.
5. Drink genoeg water. As jy ’n bietjie ontwater is, kan dit daartoe lei dat jou bloed verdik. Jou hart moet dan harder pomp om die bloed na jou selle te vervoer, wat tot moegheid kan lei.
6. Pasop vir te veel koffie in die namiddag en aande. Die kafeïen sal die gehalte van jou slaap in die aand beïnvloed wat jou die volgende oggend leepoog gaan laat voel.
7. Volgens www.webmd.com is dit nie ’n mite dat water jou meer verfris kan laat voel nie. Stort of spat water in jou gesig as jy moeg voel.
8. As jy goed lyk, voel jy ook goed. Trek mooi aan as jou energie ’n hupstoot nodig het.
9. Speel jou gunstelingmusiek as jy ’n gemoedinspuiting nodig het.
10. Plak ’n mooi prentjie van ‘n rustige toneel by jou rekenaar. Kyk daarna en haal diep asem, amper soos ’n mini-meditering-sessie. As jy jou oë oopmaak, sal jy nie in die Bahamas sit nie, maar jy sal klaar rustiger en ontspanne voel.
11. Dis nie lekker vir opgaarders om te hoor nie, maar klotter dreineer jou. Maak skoon, gooi weg en voel ligter.
12. Moenie ná agt in die aand op jou komper kuier of te laat TV kyk nie.
13. ’n Mens wil dit nie eintlik hoor nie, maar oefening bly belangrik. Dit laat jou makliker slaap in die aand en dit gee jou energievlakke ’n hupstoot.
14. Het jy al van die 15-minute-reël gehoor? As jy ná 15 minute nie kan slaap nie, staan op en doen iets ontspannend om jou kop skoon te kry. Nie TV of Facebook nie, eerder lees, meditasie of hekel.
Bronne
Dr Irene Strydom: 082 956 4080, [email protected], www.irenestrydom.co.za
Webwerwe
www.webmd.com, www.marcandangel.com, www.today.com, www.tesh.com