Jou ringvinger kan glo meer as net jou huwelikstatus verklap. Kyk bietjie hier wat dit van jou kan sê
Deur: Zerelda Esterhuizen
Wie sou nou kon dink dat jou ringvinger se lengte iets van jou as mens sou kon weggee? Volgens die webwerf Littlethings.com het ‘n studie “The ratio of 2nd to 4th digit length” wat in die Oxford-joernale gepubliseer is, aangedui dat die lengte van jou ringvinger die gevolg is van die hoeveelheid testosteroon waaraan jy in die baarmoeder blootgestel is.
Oukei, so hoe kan jy dit sien? Vergelyk jou linkerhand met die prentjie hierbo. Jy moet jou vingers teenmekaar hou.
Hoe groter die verskil tussen die vingers, hoe raker behoort die beskrywing van jou persoonlikheid te wees.
Prentjie A: Die ringvinger is langer as die wysvinger.
Prentjie B: Die wysvinger is langer as die ringvinger.
Prentjie C: Die wysvinger en die ringvinger is ewe lank.
Sien illustrasie bo
Hand “A”: Jy is sjarmant
Jy het baie selfvertroue en sjarme en jy is geneig om meer risiko’s te neem. Party mense sal sê jy is effens aggressief, maar jy weet wat jy wil hê. Jy kan jou uit enige situasie praat en is ‘n probleemoplosser van formaat. Jy is ‘n deernisvolle mens.
As dit nie soos jy klink nie, moet jy dalk ‘n paar veranderinge in jou lewe maak! Jou vingers sê immers iets anders.
Hand “B”: Jy is ‘n gebore leier
Dink jy jy is iemand wat beheer neem? Wel, jy is gebore om die leiding te neem en dink vinnig op jou voete. Jy is gelykmatig en het hope selfvertroue. Jy hou daarvan om op jou eie te werk en dinge gedoen te kry. Jy’s doelgerig en waardeer wat jy het, maar smag dikwels na meer.
Hand “C”: Jy is ‘n goeie kommunikeerder
Vertel mense altyd hul diepste geheime vir jou? Jy is ‘n gebalanseerde mens wat graag luister. Jy is vredeliewend, stel mense op hul gemak en het ‘n omgeehart. Jy hou nie van konflik nie en is baie georganiseerd. Jy is ‘n lojale verhoudingsmaat en vriend, maar as jy die dag kwaad raak! Boeta!
BRONNE:
http://www.littlethings.com
http://www.higherperspectives.com