Jou persoonlikheidskleur verklap dalk veel meer van jou as wat jy mag dink
Zerelda Esterhuizen
Wat is jou persoonlikheidskleur? As jy self nie weet nie, kan jy dit baie eenvoudig vasstel. As jy een kleur kan kies, wat sal dit wees? Wel, dis jou persoonlikheidskleur en hierdie kleur verklap baie van jou.
Dit sê iets van jou sterk en swak punte, jou behoeftes en jou uitdagings. Dis die kleur wat jou aantrek … Jy sal onbewustelik in die klerewinkel daarna op die uitkyk wees en jy sal spatsels daarvan in jou dekor gebruik.
As jy nie dink dat kleure ‘n impak op jou keuses het nie, dink weer. Sal jy jou kamer giggelgeel verf? Sal jy ‘n heldergroen rok werk toe aantrek? Indien nie, hoekom nie?
Die kleure waarvan jy niks hou nie, kan ook iets van jouself verklap. Dit kan iets sê van sekere aspekte in jou lewe waaraan jy aandag moet gee.
Kyk ‘n bietjie hier wat jou persoonlikheidskleur van jou sê …
ROOI
Jy is aksie-georiënteerd en het ‘n diepe behoefte aan fisieke vervulling en om die lewe ten volle te ervaar. Jy het ‘n sterk wil en baie ambisie en energie.
ORANJE
Dis vir jou heerlik om by mense te wees. Jy hou daarvan om te kuier en dis vir jou baie belangrik om deur ander aanvaar en gerespekteer te word. Jy hou van uitdagings – of dit nou fisiek of sosiaal is.
GEEL
Jy het ‘n diep behoefte aan logiese orde in jou alledaagse lewe en dis vir jou belangrik om jou individualiteit uit te druk. Jy is perfeksionisties en hou daarvan om nuwe idees uit te dink.
GROEN
Jy het ‘n sterk begeerte om te behoort, om liefgehê te word, om lief te hê en om veilig te voel. Jy kort aanvaarding en erkenning vir die dinge wat jy vir ander mense doen.
BLOU
Jy het ‘n diepe behoefte aan innerlike vrede en om jou lewe volgens jou beginsels te leef. Jy wil nie jou lewensuitkyk verander om ander mense tevrede te stel nie.
INDIGO
Jy wil graag in harmonie leef en om deur ander mense aanvaar te word.
PERS
Jy het ‘n behoefte aan emosionele sekuriteit en om orde in al die aspekte van jou lewe te skep, insluitende jou spirituele lewe. Jy hou daarvan om ander mense te help.
PIENK
Jy wil graag aanvaar word en onvoorwaardelik liefgehê word.
TURKOOIS
Jou diepste behoefte is om emosionele balans in jou lewe te skep en om jou hoop en drome uit te leef.
MAGENTA
Jy hou daarvan om anders na die lewe te kyk en wil onkonvensioneel wees.
BRUIN
Jy het ‘n diep behoefte aan ‘n veilige, eenvoudige en gemaklike bestaan met die ondersteuning van familie en vriende.
SWART
Jy wil mag en beheer uitoefen en wil onafhanklik leef.
WIT
Jy soek die eenvoudige dinge in die lewe en wil onafhanklik wees.
GRYS
Jy is beheers, kalm en ‘n staatmaker. Jy sal eerder konformeer net om die vrede te bewaar.
SILWER
Jy is intuïtief en het ‘n sterk verbintenis tot ‘n hoër geestelike leiding.
GOUD
Jy straal individualiteit, persoonlikheid en charisma uit en ander mense voel gewaardeerd en ontspanne in jou geselskap.
BRONNE:
http://www.empower-yourself-with-color-psychology.com/personality-color.html
http://psychologia.co/personality-color/