Kan die maand waarin jy gebore is, iets sê van watter loopbane vir jou geskik is? Kom ons kyk
Volgens ‘n neurowetenskaplike aan Oxford-universiteit Russell Foster klink dit absurd dat jou geboortemaand jou kanse in die lewe kan beïnvloed, maar jou lengte, hoe goed jy in skool doen, jou liggaamsmassa-indeks, of jy ‘n oggend- of aandmens is, korreleer tot ‘n mate tog met die tyd wat jy gebore is.
Selfs die kantoor van nasionale statistiek in Brittanje het al gekyk of mense se geboortemaand met hul loopbane korreleer. Hulle het 19 loopbane gekies en toe na ‘n sensusopname gekyk om te sien of daar ʼn verband is.
Kyk of jy jouself en jou loopbaan raaksien:
1. Januarie
Jy is ʼn gebore leier en jy sal goed doen in enige loopbaan waar jy in beheer kan wees. Jy’s hardwerkend, produktief en ambisieus. Jy’s ook hardkoppig en hou daarvan om jou eie kop te volg en aanvaar nie graag raad nie. Volgens die Britse opname het Januarie-geboortes baie algemene praktisyns, skuldinvorderaars en eiendomsagente opgelewer.
2. Februarie
Jy is kreatief en onkonvensioneel en aard nie juis in ‘n 9-5-werk nie. Jy vaar beter in ‘n loopbaan in die kunste. Jy het die motivering om jou doelwitte te bereik, maar dis ook belangrik vir jou finansies om jou rebelse streek te beheer. Baie kunstenaars, verkeersbeamptes, maar baie min wetenskaplikes word in Februarie gebore, aldus die statistiekkantoor.
LEES OOK: Wat sê jou gesig van jou?
3. Maart
Jy is gewild en charismaties en vaar goed in ‘n werk waar jy met mense te doen het of hulle onthaal. Jy het die vermoë om baie beroemd te wees en jy kan goed geld maak, maar dit ook vinnig verloor as jy nie versigtig is nie. Die Britse opname sê dis ‘n goeie maand vir kunstenaars (veral musici) en vlieëniers.
4. April
Omdat jy ambisieus en charismaties is, is jy ‘n gebore leier en trek mense na jou toe aan. Jy hou daarvan om jou eie besluite te maak en word nie maklik deur mense omgepraat nie. Jy sukkel om saam met ander mense te werk en dis beter dat jy alleen werk of in beheer van ander kan wees. Jy’s geskik vir amper enige professie. Baie staatsmanne is in hierdie maand gebore … en ongelukkig veral diktators.
5. Mei
Jy’s intelligent en dink logies en is dus geskik vir loopbane in sake of wetenskap. Jy is hoogs gemotiveerd en het ‘n groot kans om van enige loopbaan ‘n sukses te maak. Aangesien jy ‘n werkoholis is, moet jy leer om jou werkslewe met ander belangrike aspekte in jou lewe te balanseer. Baie politici is in hierdie maand gebore.
6. Junie
Jy is visionêr en het die vermoë om ‘n verskil te maak waar jy ook al gaan. ‘n Loopbaan in die kunste of wetenskappe sal jou soos ‘n handskoen pas. Gebruik jou kreatiwiteit en verbeelding om probleme op te los. Hierdie maand het al baie uitvoerende hoofde opgelewer sowel as ‘n paar Nobelvredesprys-wenners.
LEES OOK: Wat sê jou hond van jou?
7. Julie
Baie genieë word in Julie gebore en jy kan dus omtrent enige beroep volg wat jy wil. Jy word egter deur jou emosies beheer en daarom moet jy dit bestuur. Jy is ‘n harde werker en sal ‘n sukses van omtrent enige beroep kan maak. Die Britse opname het baie kunstenaars en selfs treinbestuurders in hierdie maand gevind.
8. Augustus
Jy hou daarvan om met jou hande te werk en dus sal ‘n loopbaan waar jy juis dit kan doen (soos ‘n sjef of ambagsman) jou uitstekend pas. Jy aard in ‘n werk waar jy besig kan bly. Jy is geneig om te hard te werk en moet daarom fyn balanseertoertjies verrig. Hierdie is ʼn gewilde maand vir presidente en bouers. Barack Obama en Bill Clinton verjaar in Augustus.
9. September
Jy is intelligent, buigsaam en georganiseerd. Jy kan van enigiets ‘n sukses maak solank as wat jy jou innerlike kritiese stem stilmaak. Jy moet soms eerder jou hart as jou kop volg.
10. Oktober
Jy sal jou loopbaandoelwitte bereik solank as wat jy jou emosies beheer. Jy het die vermoë om ‘n goeie leier te wees en mense volg jou maklik. Kies ‘n loopbaan waarin jy jou intelligensie en charisma kan gebruik. Baie politici is in hierdie maand gebore.
LEES OOK: Wat sê stedelinge: Wil jy op die platteland gaan bly?
11. November
Jy het begrip en empatie vir ander mense en dit maak jou ideaal vir beroepe waarin jy ander mense kan help, soos onderwys. Jy hou daarvan om om mense te wees. Jou kreatiewe denke en intellek sal jou help om met nuwe idees vorendag te kom. Jy gee nie maklik op nie en bereik jou loopbaandoelwitte.
12. Desember
Jy neem graag risiko’s en raak maklik verveeld met roetine. Jy moet ‘n werk kry wat jou behoefte aan aksie bevredig. Jy is gemaak vir ʼn beroep waar jy baie kan reis. Jy hou daarvan om die middelpunt van aandag te wees en jy vaar goed in loopbane waar mense na jou luister en waar jy ‘n invloed kan uitoefen, soos verkope. Volgens die Britse opname is baie tandartse in Desember gebore.
BRONNE: www.wishafriend.com, www.bustle.com
Maryke is ’n ervare joernalis, wat haar liefde vir reis, mense, boeke, teater en lekker kos en wyn, op hierdie manier kan uitleef. Sy was al op elke uithoek van die aardbol – bo die wolke; in ’n lugballon; onder die water in ’n duikboot en onder die grond in tonnels – en gaan nêrens sonder haar reisgenoot, eggenoot en mede-joernalis, Clifford nie. Sy glo die lewe is te kort vir slegte koffie.