Of jy nou dae lank aan jou foto gedink het of in vyf minute ‘n foto gekies het, daardie foto verklap iets van jou …
Zerelda Esterhuizen
Laat jy ‘n spesiale foto vir jou profielfoto by oom Ben op die dorp neem, “crop” jy sommer jou gesig uit een van jul familiegroepfoto’s of neem jy ‘n selfie en maak seker jy lyk op jou beste en dat die komposisie van die foto perfek is?
Hoe dit ook al sy, die slim mense aan die Universiteit van Pennsilvanië het tyd gehad om ‘n diepgaande studie daaroor te doen. Hulle het profielfoto’s van meer as 60 000 mense geanaliseer en gevind dat die foto’s baie van mense se persoonlikhede verklap.
Die resultate van die studie “Analyzing Personality through Social Media Profile Picture Choice” het Facebookers in vyf persoonlikheidskategorieë geplaas: oop om te ontdek, neuroties, konsensieus, aangenaam, ekstrovert.
Oop om te ontdek
Hierdie is die mense wat nuwe, opwindende ervarings geniet en nie bang is om op ‘n vreemde manier te poseer of snaaks op ‘n foto te lyk nie. Hulle poseer moontlik met iets in die hand, of dit nou ‘n kitaar, ‘n bonsaiboom of ‘n branderplank is. Hulle sal nie omgee om bril te dra nie, hul gesig is groot in die raampie en hulle sal anders as die norm nie omgee om vies of hartseer op die foto te lyk nie. Hul foto’s is dikwels kleurloos al hou hulle daarvan om vaardighede op hul foto’s te demonstreer.
Neuroties
Neurotiese mense sukkel om hul negatiewe emosies weg te steek en kies dikwels iets anders as hul profielfoto, dalk ‘n foto van ‘n motor, troeteldier of gebou. As hulle ‘n foto van hulself plaas, lyk hulle uitdrukkingloos en neutraal in die foto. Hulle sal veel eerder miserabel op die foto wil lyk, maar voel dat die sosiale norm teen ‘n hartseer of kwaai voorkoms is en sal dit daarom nie doen nie.
Konsensieus
Die mense wat hou van orde, selfdissipline en beplanning val in hierdie kategorie. Geen haar is uit plek op hul foto nie en foto’s sal altyd goed geposisioneer word. Hulle hou gewoonlik van kleurryke, natuurlike foto’s. Dis gewoonlik net die gebruiker op die foto en hulle plaas graag foto’s waar hulle ouer en meer formeel lyk. Hulle glimlag op die foto en sal nie maklik ‘n negatiewe bui wys nie.
Aangenaam
Hierdie is die gebruikers wat met almal oor die weg kom. Hul foto’s is gewoonlik kleurryk en sal dalk saam met ander mense in die foto’s wees. Die persoon lag gewoonlik, grap of glimlag breed. Die foto self kan dalk nie watwonders wees nie met lae resolusie of swak gehalte, maar hierdie aangename mense gee nie juis om nie.
Ekstrovert
Ekstroverte is mense wat graag met die buitewêreld skakel. Hulle het gewoonlik kleurryke foto’s en hou daarvan om te spog. Ekstroverte lag en is tevrede in hul foto’s, maar neem gewoonlik swakkerige foto’s. Hierdie mense sal graag saam met jongmense poseer of allerlei tegnieke gebruik om jonger te lyk. Hulle sal ook nie maklik ‘n bril opsit nie, want dit word met introverte geassosieer.
BRON: Gaan lees die hele studie by https://sites.sas.upenn.edu/danielpr/publication