Jy hoef net na TV-nuus te kyk om te besef dat die wêreld deesdae toenemend ekstreme weerstoestande beleef. Wat kan ons verwag?
Saamgestel deur ZERELDA ESTERHUIZEN
Lindsay Beevers is ‘n professor in waterbestuur aan die Heriot Watt-universiteit in Skotland. Haar navorsing fokus op die impak van hidrologiese ekstreme weer soos vloede en droogtes.
Sy skryf op die webwerf www.theconversation.com dat 2017 die jaar van katastrofiese weerstoestande regoor die wêreld was.
“Aan die begin van 2017 het Australië een van die warmste somers op rekord gehad, daar was ‘n erge somerhittegolf in suidelike Europa en veldbrande het Kalifornië lamgelê. Die Atlantiese orkaanseisoen was geweldig aktief met drie groot kategorie-vyf-orkane, Harvey, Irma en Maria. Die orkane het tot verskeie ongevalle en groot skade gelei,” sê sy.
Lindsay noem ook dat die moesonseisoen weer hewige reënval en vloede in dele van Indië, Pakistan, Nepal en Bangladesj tot gevolg gehad het, wat tot meer as 1 000 sterftes gelei het.
Lindsay praat nie in haar navorsingstuk oor die impak van die weer op Afrikalande nie, maar hier ter plaatse kan ons ook van ernstige droogtes, wegholveldbrande en selfs tornado’s getuig.
Lindsay sê dit was wêreldwyd die warmste nie-El Nino-jaar op rekord. Die wêreld word warmer – wat kan ons van 2018 verwag?
Volgens Lindsay moet ons eerstens die besef tussen die weer en die klimaat besef. Die weer is die toestande in die atmosfeer oor ‘n kort tydperk terwyl die klimaat weer dui op die toestand van die atmosfeer oor ‘n langer tydperk. As ‘n mens oor klimaatsveranderinge praat, is dit gewoonlik oor ‘n langer tydperk.
Lindsay sê navorsers het vandag meer hulpbronne tot hul beskikking en kan verstaan watter rol klimaatsveranderings in hittegolwe, droogtes, vloede en veldbrande speel.
Sy sê volgens die Interregeringspaneel op Klimaatsverandering kan ons ons ons maar op ‘n verdere toename in die gemiddelde globale temperatuur voorberei. Dit beteken ons sal toenemend warmer jare kan verwag. Dit sluit ongelukkig ekstreme weerstoestande in.
Die verspreiding van reënval regdeur die jaar kan verander soos wat ons langer droogtes ervaar. As dit wel reën, kan ‘n mens dan intense neerslae verwag, glo sy, wat weer vloede tot gevolg kan hê.
Lindsay sê Australië ervaar vanjaar reeds ekstreme hitte, terwyl die oostelike kusstrook van Amerika ‘n erge kouefront gehad het en die weskus weer modderstortings. Dit lyk dus of 2018 die 2017-tendens hervat.
Volgens Lindsay moet regerings nou besef dat hierdie weerstoestande algemener raak en dat beplanning nodig is.
BRON: theconversation.com