Kan die aanwasbedeling regtig die vrou bevoordeel ná egskeiding? JB Roux stel ondersoek in
“Die aanwasbedeling maak ’n verskil in die lewens van geskeide vroue en vroue wat wil skei,” sê Bernette Bergenthuin, advokaat van die Pretoria Balie.
“In die ‘ou dae’ het mense geglo dat jy nie werklik getroud is as jy nie binne gemeenskap van goedere getroud is nie. Dit is ’n baie riskante huweliksbedeling aangesien die gades bates en laste deel. Dit is ook onprakties omdat daar wedersydse toestemming tussen die gades nodig is om transaksies aan te gaan, byvoorbeeld om ’n huislening te verkry. As ’n paartjie binne gemeenskap van goedere getroud is en die een gade maak skuld, is die ander gade ook daarvoor aanspreeklik. In ’n ouer denkwyse en in die meer tradisionele bestel is die man gewoonlik die hoofbroodwinner en die besluitnemer oor die paartjie se finansiële keuses. ’n Vrou is dikwels gevra om dokumente te teken wat haar lewe drasties sou verander sonder dat sy dit weet.
“Die aanwasbedeling is ’n veiliger opsie as ’n huwelik binne gemeenskap van goedere en ’n meer aantreklike opsie as ’n huwelik buite gemeenskap van goedere – mits die man se boedel die een is wat groei. Die naakte waarheid is egter dat ’n egskeiding welvaart vreet. Jy gaan waarskynlik slegter finansieel daaraan toe wees as toe julle getroud was. Een infrastruktuur skei in twee, die kinders moet versorg word en die regsproses is duur en langdradig.
“’n Egskeiding is ’n uiters emosionele en vernederende proses. Dit is so algemeen dat ‘n mens sou verwag dat die stigma wat aan egskeidings kleef, afgeneem het, maar helaas . . .
“As jy te doen het met iemand wat dit sal uitrek om jou seer te maak, is die regsproses ’n groot uitdaging. Ek ondervind dat vroue uitgemergel en moeg raak. So iemand is nie meer lus om te baklei nie en skik dikwels op die man se terme, wat nie noodwendig goed gaan werk in praktyk nie. Sy aanvaar ook minder as waarop sy geregtig is.
“My raad is: Neem aksie, gaan spreek ’n prokureur en dagvaar eerste. So het jy tot ’n mate beheer oor die proses. Sorg ook dat jou prokureur jou goed adviseer. Praat met ’n vriend of vriendin wat al geskei het en hoor wie het hulle gebruik en hoe hulle die diens ervaar het.”