Johan Pienaar vertel in ons 14 Augustus-uitgawe hoe sy trauma hom genoop het om ’n boek te skryf om ander te help. Hier is meer inligting oor tweedehandse trauma
JB Roux
Trauma
“Mense reageer nie dieselfde op trauma nie,” sê dr Tessa van Wijk, traumaberader, radiospreker en skrywer van Genees jou trauma. “Hoewel sekere reaksies kenmerkend is van alle soorte trauma, soos die veg-, vlug- of vries-reaksie, ervaar elke individu ’n voorval volgens die emosionele en geestelike ‘plek’ waar hy of sy hom of haar op daardie oomblik bevind. Jou ingesteldheid is bepalend, maar dit verlig nie die skokimpak van trauma nie.
Tweedehandse trauma, soos ervaar deur die geliefdes van iemand wat ernstige trauma moes deurmaak, is ’n besliste werklikheid. Wanneer iemand na aan jou byvoorbeeld ’n kaping of verkragting moes deurmaak, kan jy dieselfde simptome as die slagoffer ervaar, maar die intensiteit gaan verskil,” sê Tessa.
Raad
“My raad aan ’n familielid of vriend is om vir die getraumatiseerde persoon te vra wat jy vir hom of haar kan doen, wat hy of sy nodig het. Moenie aanneem jy weet hoe die slagoffer voel nie. En luister: As die persoon sê hy of sy wil alleen wees, gee hom of haar die nodige ruimte. As so iemand sê hy of sy wéét nie wat jy kan doen nie, kan jy gerus voorstelle maak. Moenie Bybelversies aanhaal of vir die getraumatiseerde persoon sê dít wat gebeur het, is ‘die Here se wil’ nie.
“Jy kan die getraumatiseerde persoon fisiek veilig laat voel, veral as die trauma die gevolg van ’n gewapende roof, kaping of huisbraak was. Bied aan om ’n paar nagte by hom of haar in die huis te slaap, of reël dat iemand anders dit doen. Gaan saam met hom of aar na die polisie om ’n verklaring af te lê of om ’n uitkenningsparade by te woon.”