Psoriase is ’n chroniese toestand, maar daar is hulp
CHRISTA SWANEPOEL
Psoriase is ’n chroniese, algemene, herhalende inflammatoriese toestand wat oor die algemeen grootliks die vel, en selfs die kopvel aantas, maar dit word ook met probleme met vinger- en toonnaels asook gewrigte geassosieer.
Dit word veroorsaak deur inflammasie wat posvat as gevolg van die immuunstelsel wat ooraktief is. Dit is ongelukkig ongeneeslik. Alle ouderdomme is vatbaar, maar dit begin meer algemeen in die tienerjare en vroeë volwassenheid voor die ouderdom van 40. Daar is ’n sterk genetiese verband en dit kom meer voor onder mense wie se ouers of sibbe dit ook het. Amper 75% van pasiënte het familielede wat ook psoriase het.
Die sneller is gewoonlik ’n omgewingstressor soos ’n infeksie of stres. In normale vel neem die selle ongeveer ’n maand om tot volwassenheid te groei, waarna dit ongesiens afskilfer. By iemand met psoriase groei die selle binne sewe dae tot volwassenheid, wat maak dat dit ophoop en skubbe vorm.
Die letsels kan baie ongemaklik wees en jeuk, brand, bloei en pyn veroorsaak. Die vlokkerigheid van die kopvel en die voorkoms van die vel en naels (dit kan van die naelbed af oplig) kan tot skaamte, selfbewustheid en frustrasie lei. Langtermynstres kan ook tot angs en depressie lei. Sowat een uit vier lyers ontwikkel dan ook geassosieerde artritis met gewrigspyn in die oggende, styfheid en pynlike inflammasie van die tone en vingers.
Dié soort psoriatiese artritis is progressief en as dit nie behandel word nie, kan dit tot misvorming lei. Persone met psoriase het ook ’n verhoogde kans om aan ’n klomp ander gesondheidsprobleme te ly, soos diabetes, hoë bloeddruk, hoë cholesterol, obesiteit, hartaanvalle en inflammatoriese dermsiekte.
Volgens dr Ayesha Moolla, ’n dermatoloog met ’n private praktyk in Gatesville in die Wes-Kaap, ly 125 miljoen mense wêreldwyd aan psoriase en sowat een miljoen Suid-Afrikaners leef met die toestand saam.
Verskeie faktore kan veroorsaak dat die toestand vererger, soos trauma, beskadiging van die vel deur beserings, stampe en skrape, tatoeëermerke en akupunktuurnaalde en erge sonbrand. Alkoholverbruik, stres en sekere soorte medikasie kan dit ook laat opvlam. Sommige lyers se simptome verbeter in die somer en vererger in die winter.
VERSKILLENDE SOORTE PSORIASE
Plaakpsoriase – Dit is die algemeenste vorm van psoriase op die vel (ongeveer 90% van gevalle). Dit word duidelik erken aan spesifieke rooi en dik vel wat met dik, wit of silwer skubbe gedek is. Dit kom gewoonlik aan albei kante van die liggaam voor oor die elmboë, op die knieë en die lae rug asook rondom die naeltjie.
Guttate psoriase – Dié soort begin gewoonlik in die kindertyd of by jong volwassenes. Dit kom voor as klein, pienk, individuele kolle op die vel van die romp (torso), arms en bene. Die knoppe is gewoonlik nie so dik soos plaakletsels nie.
Inverse psoriase – Dit word gewoonlik aangetref in die armholtes, in die lieste, onder die borste en in ander velvoue rondom die genitalieë en boude. Dit kom voor as helderrooi letsels wat glad en blink is.
Pustulêre psoriase – Dié soort word meestal by volwassenes aangetref. Dit word gekenmerk deur wit blasies omring deur rooi vel. Dit kan óf gelokaliseerd wees tot sekere dele van die liggaam soos hande óf voete of dit kan die meeste van die liggaam bedek.
Eritrodermiese psoriase – Dit is ’n erg inflammatoriese vorm van psoriase wat die grootste deel van die liggaam bedek. Dit word erken aan periodiese, wydverspreide, erge rooiheid van die vel en die vervelling van skubbe in vellae.
HOE OM DIT TE BEHANDEL
Vir ligte tot matige psoriase, veral indien dit relatiewe klein oppervlaktes affekteer, is velrome of -salf gewoonlik voldoende om die siekte te beheer. Dit sluit in kortisoonrome, vitamien D-gebaseerde behandelings, koolteermengsels asook mengsels wat die vel sag maak en die abnormale groei van selle verminder. ’n Topikale kombinasieproduk van betamethasone dipropionate (corticosteroid) en calcipotriol is veral goed. Kliniese studies toon die kombinasie verhoog ’n pasiënt se lewensgehalte aansienlik.
PSIORIASE EN DIE DIEET
Mense met psoriase voel dikwels magteloos. Neem beheer oor jou lewe en beveg die siekte deur op jou dieet te let. Volgens die Amerikaanse psoriasevereniging is daar min bewyse dat dieet ’n groot impak op psoriase het, maar dat baie mense met die siekte verklaar dat hulle verligting gekry het deur wat hulle eet. Volgens die vereniging is daar vier benaderings tot jou gesondheid wat kan help.
Gewigs verlies ’n Studie wat in 2014 in die Journal of the American Academy of Dermatology verskyn het, is bevind dat ’n hoë liggaamsmassa-indeks (LMI) met ’n verhoogde risiko van die ontwikkeling van psoriase en psoriatiese artritis, asook met die felheid van die siekte verband hou.
Hartgesondheid Psoriase is ’n inflammatoriese siekte, soos hartsiekte ook. As die inflammasie verminder en hartgesondheid verbeter, baat dit lyers met psoriase.
Glutenvry Die verband tussen psoriase en gluten is nie duidelik nie, maar volgens die vereniging toon navorsing tot 25% van psoriaselyers is ook sensitief vir gluten. Bespreek dit altyd eers met jou dokter.
Vi tamie ne en aa nvulli ngs Studies toon nie ’n duidelike verband tussen vitamiene en dieetaanvullings en psoriase nie. Tog sê psoriaselyers dat vitamienes en aanvullings in hul dieet help om hul vel op te klaar en gewrigspyn te verminder.
DINGE WAT JY KAN DOEN
Leer meer oor die siekte – hierdeur kan jy beter keuses maak oor hoe jy psoriase kan behandel en dinge wat jy kan vermy wat die siekte kan laat opvlam. Dit sal jou ook help om ander mense beter oor jou siekte in te lig.
- Wees goed vir jouself – Eet gesond, doen gereeld oefeninge, moenie rook nie en gebruik alkohol matig. Psoriase word vererger as ’n lyer oorgewig is, rook of alkohol gebruik. Dit kan ook voorkom dat sekere behandelings goed werk. Lyers het ook verhoogde kanse om ander siektes soos hartsiektes te ontwikkel – dit is dus ekstra belangrik om jouself op te pas.
- Wees bewus van jou gewrigte – Seer en stywe gewrigte, veral vroegoggend, is een van die eerste tekens van psoriatiese artritis. Spreek ’n dermatoloog. Tussen 10%–30% van mense met psoriase kry die soort artritis. Dit is uiters belangrik om dit te behandel om verwronge gewrigte te voorkom.
- Let op na jou naels – As jou naels van die naelbed af begin wegtrek, knoppies ontwikkel of geel-oranje begin verkleur, gaan sien ook ’n dermatoloog. Dit kan ook ’n teken van psoriatiese artritis wees.
- Let op na jou gemoed – As jy depressief voel, sal dit help om by ondersteuningsgroep aan te sluit of ’n geestesgesondheidspesialis te spreek. Angs, depressie en selfdoodgedagtes is meer algemeen onder pasiënte met psoriase.
- Moet liefs nie net medikasie vir psoriase stop nie aangesien dit groot negatiewe gevolge kan hê. Dit kan byvoorbeeld veroorsaak dat een tipe psoriase na ’n ander, ernstiger soort omskakel.
Mense met psoriase kan by die Suid-Afrikaanse Psoriasestigting vir hulp aanklop. Besoek www.psoriasis.org.za of bel dr Judy Wallace by 021 404 5250
www.aad.org/dermatology-a-to-z/diseases- and-treatments/m—p/psoriasis/tips
Lees op www.psoriasis.org/about-psoriasis/ treatments/alternative/diet-supplements hoe om jou dieet aan te pas