In Bloedvreemd vertel Juliana Coetzer van haar dogtertjie, Anneke, wat skielik siek word.
JB Roux
Die siekte word al hoe erger en word veral deur epileptiese aanvalle gekenmerk. Verskeie soorte medikasie en selfs geloofsgenesing bring nie verligting nie en dit word al hoe moeiliker vir die Coetzer-gesin om by Anneke se siekte aan te pas. Anneke word eindelik gediagnoseer met Landau-Kleffner-sindroom, maar wat is dit presies?
Landau-Kleffner-sindroom is ’n skaars neurologiese afwyking wat onder jong kinders voorkom. Dit word gekenmerk deur ’n abnormale EEG en die skielike of langsame onvermoë om taal te verstaan of om te praat: LKS tas die dele van die brein aan wat spraakbegrip beheer. Lyers is gewoonlik tussen vyf en sewe jaar oud. Kinders met LKS se ontwikkeling is normaal, maar hulle verloor dan klaarblyklik sonder rede hul taalvaardigheid. Epileptiese stuipe kom onder baie slagoffers voor, maar nie by almal nie. Dis nie maklik om die siekte te diagnoseer nie en simptome word dikwels aan ontwykende omvattende ontwikkelingsindroom, outisme, gehoorverlies, leerprobleme, ouditiewe of verbale verwerkingsindroom, aandagafleibaarheid, kindertyd-skisofrenie of emosionele of gedragsprobleme toegeskryf.
LKS word gewoonlik met medikasie soos stuipwerende middels en kortikosteroïede behandel, sowel as met spraakterapie – daar moet so gou as moontlik met laasgenoemde begin word. Daar is ook ’n chirurgiese tegniek waarin die “vervoerkanale” van abnormale aktiwiteit in die brein deurgesny word, maar dié operasie is baie omstrede.
Die prognose vir kinders met LKS wissel. Sommige aangetaste kinders het ’n permanente en ernstige taalgebrek, terwyl ander hul taalvaardigheid tot ’n groot mate herwin – dit mag egter maande of selfs jare duur. In sommige gevalle is daar ’n remissie, maar daar kan terugslae wees. Die prognose is baie beter as die slagoffer eers ná sesjarige ouderdom siek word en as daar vroeg met spraakterapie begin word. Die epileptiese aanvalle verdwyn gewoonlik wanneer die lyer volwassenheid bereik.
Die Nasionale Instituut vir Neurologiese Afwykings en Beroerte in die VSA ondersteun wye en uiteenlopende navorsingsprogramme oor epilepsie en ontwikkelingsafwykings. Navorsing is daarop gemik om nuwe maniere te vind om die siekte te voorkom en te diagnoseer en om epilepsie en ontwikkelingsafwykings te behandel en geneesmiddels te vind.