Wil jy graag die bande met jou geliefde, vriendin of kind versterk? Kry vyf heerlike bindingsaktiwiteite in ons 6 Mei-uitgawe. Wat is jou maat se liefdestaal?
SHANDA LUYT
Daar is vyf liefdestale: Woorde van bevestiging, gehaltetyd, geskenke, dade en fisieke kontak. Hier is raad om met jou geliefde te bind:
Bind só vir elke liefdestaal:
Woorde: Jy kan daarop fokus om deur middel van ‘n briefie woorde van waardering teenoor die persoon uit te spreek, sê Corné Brink, kliniese sielkundige van Potchefstroom. “Jy kan byvoorbeeld ‘n speletjie daarvan maak deur vir jou kind ‘n brief te pos en te vra dat hy daarop moet reageer. Dis egter baie belangrik om ook verbaal gereeld te sê hoe jy hom of haar liefhet en waardeer.”
Gehaltetyd: Die belangrikste faktor by gehalttetyd is nie die aktiwiteit nie, maar die saamdoen, beklemtoon Corné. “Dit is nie nodig om na ‘n spesiale plek te gaan nie, maar gee gefokusde aandag aan jou geliefde, byvoorbeeld om ‘n piekniek op die erf te hou, bordspeletjie saam te speel, goeie kommunikasie te skep waar daar oogkontak is, of ‘n stokperdjie saam te beoefen.”
Geskenke: Hier word nie na vreeslike duur geskenke verwys nie, sê Corné, en nie alle geskenke hoef van ‘n winkel af te kom nie. “Jy kan byvoorbeeld ‘n baie mooi klip of blaar optel wat jy op ‘n spesiale manier verpak.”
Dade: Die voorbeeld wat ouers rondom dade vir hul kinders stel, is baie belangrik, sê Corné. “‘n Kind neem waar as ouers vir mekaar dinge doen, byvoorbeeld om met die huishouding te help. Jy kan aanbied om jou kind te help om ‘n fiets reg te maak, ‘n rok se soom in te sit, of enige ekstra takie te doen wat nie noodwendig van jou verwag word nie.”
Fisieke kontak: Spelerigheid is hier van belang, sê Corné, soos om met jou maat te “stoei”, jou maat te kielie of saam bal te speel. “Dit is ook belangrik om aan die persoon te raak, byvoorbeeld om ‘n hand op die persoon se rug te sit.”